Terugtrek van voorstel vir staatsbeheerde pensioenfonds ’n oorwinning vir belastingbetalers
deur Amanda Visser
Die skielike terugtrek van die omstrede groenskrif vir Omvattende Maatskaplike Sekerheid en Aftreehervorming (staatspensioen) is tipiese ANC-taktiek, sê Magnus Heystek, direkteur van Brenthurst Wealth Management.
Die ANC is goed daarmee om rookseine van ANC-verwante persone of instellings die lug in te stuur om te bepaal wat die reaksie op hul voorstelle sal wees. “Sodra hulle die reaksie sien, kan hulle hul strategie daarby aanpas,” sê hy.
Lindiwe Zulu, die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, het die groenskrif teruggetrek sonder om enige redes te verskaf, nadat belastingbetalers en verskeie ander rolspelers teenstand gebied het daarteen.
Die groenskrif het ’n bydrae van tussen 8% en 12% tot ’n staatsbeheerde pensioenfonds voorgestel. Dit sou van werknemers se betaling afgetrek word. ’n Verdere belasting van 10 persentasiepunte sou ook gehef word om die basiese-inkomstetoelaag te verhoog.
Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit, sê die groenskrif was “absurd, irrasioneel, onwerkbaar en ongrondwetlik”. Die terugtrekking is ’n oorwinning vir belastingbetalers wat teenstand gebied het.
Solidariteit het vroeër ’n regsproses met die minister aan die rol gesit en haar 30 dae gegee om die dokument terug te trek omdat die regte prosesse nie gevolg is nie.
“Solidariteit sal voortgaan met sy verset en regsaksie teen die groenskrif indien dit in ’n later stadium in ’n ander vorm te voorskyn kom,” waarsku Hermann.
In murg en been verrot
Heystek sê hierdie “rookseine” skep baie onsekerheid, net soos die grondhervormingsveranderinge. Die bedryf gaan mense nie maklik oortuig om hul spaargeld in aftreeprodukte te belê nie.
“Mense kan aanvoer dat hulle nie bereid is om ’n sent in ’n fonds te spaar waartoe hulle vir ’n lang tyd beperk sal wees en waaroor hulle geen beheer het nie.”
Hermann sê die groenskrif was in sy kern verrot. “Dit is uiters kommerwekkend dat so ’n irrasionele groenskrif gepubliseer is as deel van die wetmakende proses. Dit skep beleidsonsekerheid onder werknemers, ondernemings en beleggers,” sê hy.
Keith Engel, uitvoerende hoofbeampte van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns, sê die terugtrek van die groenskrif is ’n reuseverligting. Werkers en ondernemings is eenvoudig op breekpunt – ongeag die oorsaak. ’n Belastingtoename van 10-12% kan baie individue oor die 50%- marginale kerflyn dwing.
Groeiende wantroue
Besighede sal hulle uiteindelik in ’n situasie bevind waar hulle gedwing word om lone te verhoog om die verskil te dek. Daar is toenemende wantroue van pensioene vanweë die toenemende voorgestelde en aanvaarde strenger regulasies. “Baie mense twyfel nou of hulle enigsins in pensioene moet belê. Dit is selfs ten spyte van die belastingvoordele van aftreevoorsiening, en uit vrees dat die regering se beleidsbloedhonde toenemend gaan kyk na die grootte van hierdie fondse as ’n bron van regeringsinkomste. Voorstelle soos hierdie help glad nie,” sê Engel.
Heystek sê so ’n staatsbeheerde fonds sal werk in lande soos Noorweë, Swede, Finland en Denemarke. Hierdie lande is aansienlik ryker as SA per capita, hulle het lae werkloosheidsyfers, hulle het respek vir wet en orde en vind dit bykans ondenkbaar om enige reëls te verbreek. “Almal lewer ’n bydrae en almal baat daarby. Bedrog en diefstal word nie geduld nie.”
Heystek sê feitlik elke staatsbeheerde entiteit, regeringsfonds en munisipaliteit in SA is bankrot. “Daar is nie ’n enkele voorbeeld van ’n regeringsbeheerde fonds wat goed bestuur word nie. Selfs die Openbare Beleggingskorporasie, wat die regeringspensioenfonds administreer, is ’n katnes.”
Hy sê gegewe die huidige omstandighede in die land is die aftreebedryf die laaste ding waaraan die regering nou moet karring. Die regering moet eerder op ekonomiese groei en werkskepping fokus.
’n Goeie wegspringpunt is om weer te kyk na die minimum loon, wat tot meer werkloosheid gelei het en wat mense ontneem van die geleentheid om deel te word van die ekonomie.
Heroorweeg jou finansiële situasie
Heystek sê as ’n staatsbeheerde pensioenfonds ooit in Suid-Afrika ingestel word, bestaan die gevaar dat die skadu-ekonomie (die ondergrondse ekonomie of die verbode ekonomie), waar mense buite die reëls en regulasies van die belasting- en regulatoriese stelsel optree en nie hul belastingverpligtinge reg verklaar nie, sal groei.
Volgens Heystek gaan ongeveer 60% van alle versekeringsbydraes vir aftreevoorsiening. Die aftreevoorsieningsbedryf was nog altyd ’n baken van uitnemendheid in die ekonomie.
“Dit is ’n enorme bedryf en word hoog aangeslaan. Dit is een van die grootste plaaslike bedrywe en verskaf werk aan meer as 200 000 mense.”
Hy stel voor dat mense noukeurig na hul eie finansiële omstandighede kyk. Mense moet hulle geld belê waar hulle volkome beheer het oor die batetoekenning. As daar enige geld oor is, moet hulle dit gebruik om ’n oorsese neseier op te bou en sodoende hul blootstelling aan Suid-Afrika en die land se unieke probleme te beperk. “Baie mense is ryk wat bates aanbetref, maar arm as dit by kontant kom. Hulle besit verskeie eiendomme, maar die opbrengs op daardie beleggings was nog maar swak.”
Heystek sê dit is dalk tyd om daarvan ontslae te raak, omdat dinge nie gaan verbeter nie.
LEES OOK: Groot onsekerheid rondom belasting op aftreebesparings met emigrasie.