Topwenk: Hoe om ’n naweek in Kopenhagen te spandeer

28/11/2018
| Deur Wian
1-1

Met sy pragtige strate, goeie kos en kleurvolle geskiedenis is Kopenhagen dalk die beste Europese stad vir ’n vinnige naweekwegbreek.

Kopenhagen het in die vroeë 10de eeu as Viking-visvangdorp ontstaan en is sedert die 15de eeu Denemarke se hoofstad. Vandag is dit steeds een van die invloedrykste stede in Skandinawië. Dit is die tuiste van net 580 000 Dene maar ook volgens sommige van meer as 600 000 fietse. Die stad is kompak en kan maklik binne twee dae verken word. Lees hier hoe.

Waar om te bly

Ibsens Hotel is een van Arthur Hotels se klein groepie boetiekhotelle en oortref alle verwagtings. Die hotel is in eg minimalistiese Skandinawiese styl versier met hoekige meubels en spatsels kleur teen ’n agtergrond van nuwerwetse grys en wit. Dit is modern en lig, maar die atmosfeer is huislik en baie ontspanne – perfek ná ’n dag in die besige strate van Kopenhagen.

Ibsens Hotel is naby alle belangrike toeriste-attraksies en is maklik om te bereik. Dit is geleë in een van die mooiste woonbuurte in Kopenhagen, omring deur ontwerperswinkels, galerye, tweedehandseboekwinkels en van die beste restaurante en kafees in Denemarke. Die winkelstraat Strøget, die Kopenhagen-mere, die Torvehallerne-kosmark en die Tivoli-tuine is net ’n klipgooi ver. Getrou aan die omgewing se modieuse kunstenaarsgees is Ibsens die eerste hotel ter wêreld wat “artmoney” as betaalmiddel aanvaar – dit is “note” van 18 x 12 cm wat deur geregistreerde artmoney-kunstenaars geskep is. Jy kan tot 50% van jou verblyf by Ibsens met hierdie alternatiewe geldeenheid betaal en volgens die uitvoerende hoof, Kirsten Brøchner, hoop hulle om die hele hotel eendag met artmoney te versier.

Buiten om seker te maak die hotel is pragtig en gemaklik, het die hoofdames ook onderneem om dit sosiaal verantwoordelik te bestuur. Ibsens Hotel is waarskynlik een van die omgewingsvriendelikste hotelle in Kopenhagen. Dit is sedert 2008 koolstofneutraal en het die Green Key ontvang, ’n internasionale eko-etiket wat toegeken word aan ondernemings wat verbind is tot uitnemende omgewingsbestuur en -volhoubaarheid in die toerismebedryf.

Maar dit is nie net die gebou wat Ibsens Hotel die perfekte voorbeeld van ’n baie omgewingsbewuste hotel maak nie. Die Nordiese Ontbyt bedien slegs die beste organiese en plaaslike produkte en fokus sterk op billike handel. Gebaseer op die beginsels van die Nuwe Nordiese Kookkuns, draai ontbyt om die veranderende seisoene, varsheid, volhoubaarheid, plaaslike produkte en die bekende Skandinawiese tradisie dat minder meer is. Dit is die hotel se filosofie dat gehalte plaaslike organiese produkte nie net tot die gaste se gesondheid bydra nie, maar ook die plaaslike kleinboere se voortbestaan handhaaf en verseker. En ek verseker jou dit is ook absoluut héérlik.

Klik hier om by Ibsens Hotel te bespreek.

Wat om te eet

As jy in Kopenhagen is, eet. Met alles van bistro’s tot Michelin-bekroonde restaurante en van die modernste kafees ter wêreld, is daar werklik iets vir elke smaak. Die een ding wat die meeste van hulle egter in gemeen het, is smørrebrød. Smørrebrød is ’n ou, tradisioneel Deense gereg bestaande uit oopbroodjies van suurdeeg-rogbrood met ’n verskeidenheid bolae wat tradisioneel uitgesoekte pekelharing, dun skyfies kaas, komkommer, tamatie, gekookte eier, dun skyfies kouevleis, salm en rooi ui insluit. Vir die beste smørrebrød in Kopenhagen, bespreek ’n tafel by die beroemde Aamanns 1921.

Middagete by Aamanns 1921 draai om smørrebrød. Die bekende oopbroodjies is herontwerp en vernuwe onder die wakende oog van hoofkok Adam Aamann, wat nuwe idees en ’n kombinasie van geure ingesluit het om van die lekkerste smørrebrød in Denemarke te bied. Kies die “Favourites Menu” uit die wye verskeidenheid geregte en vaste spyskaarte; dit bestaan uit drie stukkies smørrebrød wat apart bedien word. Maak jou klaar vir lewensveranderende smørrebrød met gemarineerde haring, geroosterde beet, swart ui, kappertjiesaad, bokwiet en Parmigiano Reggiano mayonnaise. Dit is gegarneer met eetbare blomme en is een van die mooiste borde kos wat jy ooit sal geniet. Ander het hoenderslaai en spekkrummels of gebraaide skolvis, garnale, piekeltamaties en baie geurige suurlemoen-mayonnaise op.

Die “Favourites Menu” kos kr290 (sowat £35 of R620) per persoon, en twee glase akwaviet (’n klein bier en ’n glas tuisgemaakte koeldrank) kos ongeveer kr350 (sowat £42 of R746). Sommige oopbroodjies en drankies lyk duur, maar in Kopenhagen is die prysverskil tussen gewone en uitsonderlike kos baie klein. Ek raai jou sterk aan om ’n bietjie meer te bestee ter wille van die ervaring.

As jy lus is vir iets anders as ’n paar luukse toebroodjies, probeer Skagen. Skagen is op die water in die middel van Nyhavn en is een van die duurder eetplekke, maar dit is die moeite werd. Die restaurant bedien van die beste seekos in Kopenhagen en dit is een van die beste plekke om net met ’n drankie die wêreld te sit en bekyk.

Vir iets minder formeel en meer bekostigbaar, probeer ’n Deense worsbroodjie. Worsbroodjies is die siel van Deense straatkos en word sedert die 1920’s uit stalletjies deur die hele stad verkoop. Maar moenie toelaat dat hulle nederige voorkoms jou om die bos lei nie – Deense worsbroodjies kom in alle vorms en groottes, van die eenvoudige worsrolletjie wat die meeste van ons ken tot ’n eksklusiewe fynproewersmaal van organiese bestanddele. Dit is ook die moeite werd om die Torvehallerne-kosmark te besoek. Tussen die meer as 60 stalletjies wat alles van gourmet taco’s tot die lekkerste Deense gebak verkoop, sal selfs die kieskeurigste eter iets lekkers vind.

Waarheen om te gaan

Omdat alles in Kopenhagen wat die moeite werd is om te sien loopafstand van mekaar is, is dit moontlik om oor ’n naweek redelik baie te sien en te doen. Ek raai aan dat jy by Rundetaarn (die Ronde Toring) begin. Dit is ’n lang, spiraalvormige perdetrap oorstroom met natuurlike lig wat lei na ’n uitkykdek, amper 35 meter bo straatvlak, met ’n pragtige uitsig oor Kopenhagen. ’n Besoek aan die toring en uitkykdek kos net kr25 (sowat £3 of R53); maak dus seker dat dit op jou lysie is.

Volgende is Nyhavn. Wat eens ’n redelik rowwe buurt vol bier, matrose en prostitute was, het verander in een van Kopenhagen se modernste buurte. Die hawe met sy kafees, restaurante en hordes toeriste is kleurvol en ideaal vir ’n romantiese skemerwandeling.

Die beeld van die Klein Meerminnetjie is gebaseer op die Deense skrywer Hans Christian Anderson se sprokieskarakter en is een van Kopenhagen se bekendste attraksies; maak seker dit is op jou lysie wanneer jy die stad besoek. Klein, blou en ’n bietjie hartseer sit die klein meerminnetjie op die rotse en steel almal wat haar sien se harte. Lees gerus Anderson se oorspronklike storie of vra ’n plaaslike gids om dit vir jou te vertel voordat jy na die beeldjie gaan kyk, want dit verskil nogal van die bekende Disney-weergawe.

Wanneer die besige stad vir jou ’n bietjie te veel raak, gaan stap in die Kopenhagen Botaniese Tuin. Ná ’n ontspannende wandeling deur die groot tuin, wat meer as 10 hektaar groen spasie beslaan, kan jy ’n kaartjie vir die kweekhuise en skoenlapperhuis koop. Vir slegs kr60 (sowat £7 of R746) sal jy toegang verkry tot ’n verskeidenheid pragtige kweekhuise wat in 1874 gebou is en ’n nuwe, oop skoenlapperhuis waar besoekers die geheime en baie interessante lewe van sommige van die mooiste vlinders ter wêreld van naderby kan leer ken. Maar selfs al is plante nie vir jou opwindend nie, maak tyd om die uitstalling se 13 000 spesies te bekyk en klim die 16 meter lange gietysterwenteltrap in die Palmhuis vir ’n uitsig van bo af. Moenie grimering dra nie – dit is baie vogtig in die huise en jy sal dit binne enkele minute afsweet.

Vergeet alles wat jy oor Kopenhagen se bekende Freetown Christiana-buurt gehoor het. Dit is ’n krotbuurt vol junkies en Amerikaanse tieners op soek na daggakoekies. Daar is so baie wonderlike dinge om in Kopenhagen te doen en te sien; moenie jou tyd op ’n besoek aan hierdie “alternatiewe” plek mors nie.

Om nog van my Kopenhagen-foto’s te sien, klik hier en volg my op Instagram.

LET WEL: Alle pryse en valuta-omskakelings was ten tyde van publikasie korrek. Kontroleer asseblief amptelike webtuistes en gebruik ’n aanlyn valuta-omskakelaar vir die jongste pryse en omskakelings.

Besoek gerus Luzanne se blog hier.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels