deur Dr. Rineé Pretorius
Om te emigreer is een van die mees ingrypende en duurste besluite in ’n individu of gesin se bestaan. Die besluit om te emigreer, te bly, of terug te kom, is ’n persoonlike besluit. Niemand het die reg om enigiemand anders se besluit te veroordeel nie, omdat elkeen van ons ’n eie waardestelsel het wat ons keuses bepaal.
Emigrasie is vandag ’n harde werklikheid en Wêreldwyd hou dit ’n oop gesprek. Die gras is beslis nie altyd groener nie, kuier is nie bly nie. Vandeesweek gesels ons met dr. Rineé Pretorius, wat in die buiteland gewoon en gewerk het en besluit het om terug te kom Suid-Afrika toe.
Waar het jy in die buiteland gewoon en vir hoe lank?
Ek het direk ná skool in Massachusetts in Amerika op ’n ski-oord gaan werk. Vir vier jaar daarna het ek in Suid-Afrika studeer maar ongeveer drie maande per jaar in Brisbane en Sydney, Australië deurgebring en uiteindelik die vyfde jaar oorgegaan om permanent in Brisbane te bly. Daardie jaar was geweldig moeilik en aan die einde van daardie jaar het ek eintlik net teruggekom om te kom kuier in Suid-Afrika, maar toe nie weer teruggegaan nie. Ek is later wel weer twee maal terug Australië toe om my besittings te gaan haal.
Vertel ons van jouself en jou avonture in die buiteland?
Daar is so baie verhale en stories van die groen gras aan die ander kant. My ervaring was egter anders.
Vrywaring: Ek besef almal se storie en perspektief is uniek – en bedoel nie dat enigiemand hulle met my storie hoef te kan vereenselwing of my menings met my hoef te deel nie.
Daarom, as ek mag, vertel ek graag van die wroeging wat ek gehad het in my tyd in die buiteland asook my paadjie terug huis toe.
“Ek doen dit ter wille van my kinders.” … “Hier is tog geen hoop op ’n toekoms nie.” … “Ons veg ’n hopelose stryd op oorlewing … hier is ons as Westerlinge vasgevang in ’n derdewêreldland.” … “Ons kan mos altyd weer kom kuier”.
Om bogenoemde (en ander) redes het ek myself vir groot gedeeltes van my eerste ses jaar ná skool in “oorseeland” bevind.
In oorseeland is dit veilig. Hier kan die kinders mos nog veilig in die strate met hul fietse ry. “Alles werk hier,” hoor ek myself sê oor die foon aan my geliefdes in Suid-Afrika. Daar’s egter min opgewondenheid in my stem.
“Hier sluit die mense nie hul deure in die nag nie … Hier is die wêreld ’n oester met legio geleenthede vir my kinders eendag,” vertel ek myself om net weer te onthou waarom ek hier is.
Ek kry egter swaar.
Wat is fout met my? Is dit maar net aanpassing wat sal oorwaai soos ek begin wortel skiet hier? Duisende ander soos ek bevind hulle tog ook in oorseeland en is dan so gelukkig en voorspoedig hier.
Elke keer as ek kom kuier in Suid-Afrika, is ek fyn ingestel op alles wat verkeerd loop hier en probeer ek weer vir myself sê: “Rineé, sien jy, dit was tog die regte keuse.” Maar waarom het ek dan nie vrede nie?
As ek in Suid-Afrika is, sien ek verval en as in oorseeland is, is ek verlep. Ek is rusteloos en voel doelloos. Vrede en vreugde bly my ontwyk.
Oorseelanders is so aangenaam, vriendelik en meestal sorgvry. Hulle gesels graag, maar dit voel “bolangs” en onbevredigend en daarom droog die geselsies maar gewoonlik vinnig op.
As die verlange te erg raak, gaan soek ek mede-Saffas op en herinner (oortuig) ons mekaar elke keer net gou weer om die “gesellige” gasbraai waarom ons darem bly is ons het “uitgekom terwyl ’n mens nog kan.”
Hoe is dit dat hierdie mense min of meer soos ek lyk, maar tog nie voel soos eende van my (plaas)dam nie? Sal ek maar uithou ter wille van my kinders? Sal ek maar die uitlander hier wees sodat hulle eendag deel kan wees van ’n plek waar hulle welkom voel?
Weldra dring die besef tot my deur: die blote afwesigheid van hoë mate van misdaad,verval en korrupsie beteken toe nou nie geluk nie, en bring beslis nie die vrede wat dit beloof het om te bring nie.
Verder dink ek aan my eie ouers wat ouer word, en aan ouetehuise vol eensame oumensies met pragtige kiekies teen die mure van die kinders en kleinkinders voor die Sydney Operahuis, in plaas van kiekies waarin die kleinkinders op oupa se knie of saam met ouma in die kombuis is. Wie erf die waardevolle wa-kis waarop die TV staan of ouma se trouring wat sy by haar ma geërf het dekades gelede? Of gaan al die boeke en erfgoed maar iewers afgelaai word om verpand te word? Dit is tragies. Ek sukkel om myself te oortuig dat dit “oukei” is om die vorige geslag so alleen agter te laat. Wie se “las” moet hulle word as hul swakker word? Ongelukkig voel ek dat ek ook ’n verantwoordelikheid teenoor hulle het. Ek besef dat wat vir my ouers die beste is, nie ’n groot rol gespeel het toe ek oorsee getrek het nie. Of ek dit nou wil hoor of nie – my verantwoordelikheid tot die vorige geslag is nie minder belangrik as my verantwoordelikheid tot die volgende geslag nie.Nie net is dit ’n verantwoordelikheid nie, maar ’n voorreg, wat ek met die grootste liefde en deernis wil opneem.
Nog ’n gewaarwording wat ek gehad het is dat ons, ek en my kinders, dalk fisies in gevaar is in Suid-Afrika, maar in oorseeland is my en veral my kinders se siele in gevaar. In oorseeland waar alles “werk”, is die risiko geweldig groot dat ouers – en dus hul kinders ook – geestelik begin verval en verder van God beweeg. Hier, in donker Arika, kan ons nie anders nie as om elke dag heeldag herinner te word dat ons totaal en al afhanklik is van God se genade. Is dit nie ’n groter verantwoordelikheid om te doen wat die beste is met ewigheidsperspektief in gedagte nie?
In oorseeland is ons ook vasgevang in ’n ontwortelde staat van bestaan, altyd die “outsider”; altyd soekend na die ontwykende vrede. Ek sou my kinders ’n onreg aandoen om hul kultuur-, taal-, en erfenisnaelstring te knip sodat hul ook maar eendag rusteloos sou ronddobber in oorseeland sonder ’n sterk sin van identiteit en herkoms. Ek sou kultuur-weeskinders grootmaak wat nie weet wie hulle is of waar hulle vandaan kom nie. Die ketting van kennis, geloof en lewenswysheid wat van geslag tot geslag oorgedra word, word wreed gebreek en laat ’n vakuum … wat waarmee gevul sou word?
Dit is om hierdie rede dat ek terug is in my geboorteland.
Wat was die lekkerste of slegste avontuur wat jy daar beleef het?
Ek kon al die heerlike “tipiese toerisgoeters” doen en sommer in die proses die Britse taal mooi baasraak; ek het baie mooi plekke kon sien en mense ontmoet.
Maar die wroeging wat ek hierbo beskryf het was net ongelooflik moeilik en onuithoudbaar.
Die toenemene gevoel van verantwoordelikheid, nie net teenoor my kinders nie, maar ook teenoor my ouers en voorouers wat duur betaal het om Suid-Afrika te bou vir ons, was ’n groot magneet terug hierheen.
Was dit moeilik of maklik om aan te pas toe jy terugkom na Suid-Afrika?
Die konstante tweestryd en wroeging wat ek in oorseeland beleef het was baie moeiliker. Soos hierbo genoem, kon ek net nie tot ruste kom daar nie en het vrede en vreugde my bly ontwyk.
So, ek glo aanpassing kan seker vir baie mense moeilik wees, maar omdat ek reeds seker was daarvan dat dit die regte besluit was, was dit minder moeilik en was ek vasberade om hier ’n verskil te kom maak, en hier vir my en my kinders ’n toekoms te kom uitwerk.
Wat mis jy die meeste van jou tyd in die buiteland?
As ek eerlik kan wees, ja, die aanvanklike redes vir oorsee gaan soos veiligheid en geleenthede is steeds iets waaraan ek soms dink, maar dit weeg nou baie minder vir my. ’n Betekensvolle lewe deur die nakoming van my verantwoordelikheid teenoor erfenis, bring vrede en vreugde wat baie meer weeg as die “gemak”, “voorspoed” en heel paaie van oorseeland.
Is daar enige raad wat jy vir ander wil gee wat dit oorweeg om terug te kom Suid-Afrika?
Ek weet hoe moeilik dit is om die besluit te neem om terug te keer. Ek weet hoe mens in twee geskeur voel oggend tot aand.
Die raad wat ek sou gee is om, indien jy gelowig is, werklik stil te word en ernstig te bid dat die Here vir jou die rigting sal aanwys waar Hy jou wil gebruik. Dink mooi na oor die rede waarom jy in die eerste plek oorseeland toe is. As jy bloot gevlug het, gaan jy bitter moeilik ooit die vrede en vreugde beleef wat jy najaag. Bid vir vrede in terme van jou besluit. En wanneer jy vrede ervaar dat dit wel hier in Suid-Afrika is waar die Here jou wil gebruik, hou op twyfel en gooi jou gewig pens en pootjies hierdie kant in by mense en groepe wat doelgerig bou en ’n verskil maak. Dit maak ’n mens geweldig positief en laat jou besef dat jy deel is van ’n veel groter prentjie as net ons kort tydjie hier op aarde. Deur ander te dien en deur te doen en te bou, voel ons ons lewe het betekenis, ons lewer ’n bydrae, ons maak ’n verskil; ons bou aan iets om vir ons nageslagte na te laat; en om in totale afhanklikheid van die Here te leef, bring die vrede en die vreugde wat jou dan nie sommer weer sal ontwyk nie.
Wil jy iets byvoeg?
Ja.
’n Boom se wortels groei juis in die winter, wanneer die weer maar ongenaakbaar is bo die grond. Dit lyk of die boom swaarkry, maar in die winter word dit sterk, daar onder die grond, waar niemand dit sien nie. Swaarkry kweek volharding. Dit bring groei. As ’n mens elke winter ’n boom sou ontwortel en in “groener” areas plant waar die weer gerieflik is, gaan hy nooit diep kan wortel skiet of sy volle potensiaal bereik nie.
So is dit ook met ons. Watter betekenis is daar in my ontwortelde bestaan oorsee? Wat gaan my nageslag werklik daarby baat? Wat laat ek vir hulle na? Is dit werklik beter waar dit groen en maklik is?
Nee.
Ek bly eerder hier gewortel en verduur die warm Afrikason en soms ongenaakbare omstandighede dienend en bouend – sodat ons nageslag in ons bome van kultuur, taal en erfenis se takke kan klim, klouter en speel in kinderlike vrede en vreugde.
Ek het my storie begin met die redes waarom ek aanvanklik oorsee is. My deuntjie klink nou anders. Nou kan ek met oortuiging sê:
“Ek bly juis hier in Suid-Afrika, ter wille van my kinders …”
Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. Psalm 16:5–6 AFR53
Dr. Rineé Pretorius
2021 11