Tussen hier en daar

29/10/2020
| Deur AfriForum Wêreldwyd
man-driving-car-at-sunset-alexandra-simone

Johan Nortje

Die polisiestasie se landsvlag hang halfmas. Teen die muur is ‘n bord wat aandui dat slegs polisievoertuie binne mag parkeer. En net ingeval enigiemand gewonder het of dit dalk ‘n breë vertolking van die instruksies is, is ‘n losstaande waghuis pas tot teen die straat gebou om motors te verhinder om in te ry.

‘n Laag stof van die bouers se arbeid bedek die rooibaksteengebou in skakerings van rooi en bruin. Dit was ‘n opknapping van die stasie, nie ‘n herontwerp nie. En dis duidelik dat die boukontrakteur nie Garden and Home gelees het vir argitektoniese inspirasie nie – die plek lyk nog steeds soos ‘n fort.

Voor my staan drie jong meisies wat om dieselfde rede as ek hier is: om dokumente te laat sertifiseer. Ek sien op hul universiteitsrekords hulle het hierdie jaar graad gevang. Ek is vroeër deur Binnelandse Sake weggewys omdat ‘n gesertifiseerde dokument van ‘n prokureur nie voldoende is nie. Ek verstaan nie hoekom nie, maar miskien het ‘n burokraat gedink die ouens in blou het nie genoeg red tape om hulle mee besig te hou nie.

Agter die stasie se hek staan polisiekarre geparkeer met hul neuse in die rigting van die uitgang. Met die hoë misdaadvlakke is dit seker net ‘n kwessie van tyd voor hulle weer uitgeroep word. Die SAPD-embleem hang agter een van die polisiemanne: ‘n goue, agtpuntige ster met ‘n groen aalwyn met rooi blomme in die middel. Die simboliek van die SAPD-aalwyn is dat dit kan oorleef in moeilike omstandighede met min hulpbronne. Nogal gepas, want die helfte van die polisiekarre se wieldoppe is weg en die waghuis is geëmuleer met twee ingeduikte stoele, ‘n ou telefoon en daai bedompige reuk wat jy net kry by staatsinstellings waar die lugsirkulasie swak is.

Die polisieman is besig om klaar te maak met die meisies en ek skuif nader. Ek was nie ‘n polisie- of militêre man nie, maar het al genoeg tyd saam het hulle spandeer om te weet hulle beskou die publiek as buiteperde, maar fantaseer terselfdertyd oor die respek van die gemeenskap; dit lok hulle aandag as jy hulle op hul rang aanspreek.

“Hallo Sergeant, I need to certify these documents,” sê ek terwyl ek die pak dokumente oor die toonbank vir hom skuif. Sy effens blasé houding raak ‘n bietjie meer tegemoetkomend. Hy neem die pak en begin stempel.

‘n Sterk wind steek op en die verlepte vlag begin wapper. Die materiaal is deursigtig en aan die kante uitgerafel. Dit lyk amper asof dit as ‘n nagedagte opgehang is. Hoewel ek van vlae hou, het ek nog nooit regtig ‘n emosionele konnotasie aan enige een geheg nie. Miskien is dit omdat ‘n emosionele verbintenis ‘n tweerigtingstraat is.

Ek is nog besig om die vlag te bekyk toe my selfoon lui. “Hallo, Leon.” Ons laaste gesprek het nie baie vriendelik geëindig nie, maar nou vra hy of ek nog belangstel om sy bergfiets te koop.

“Ja. Ek weet nie. Hoekom? Hoekom nou?” vra ek terwyl die polisieman my dokument terugskuif en ek knik om dankie te sê.

“Ek en Caroline het gister besluit om ons huis te verkoop. Ons gaan emigreer. Ek is ontnugter.”

My emosionele skaal vir gegriefdheid sak met elke woord, want ek kan aan sy stem hoor hy het klaar die kopskuif gemaak. Ek vloek saggies terwyl ek luister na sy relaas oor die toestand van die land. Ek mag dalk aan hierdie kant fisies weggewaai word, maar die bliksem het so pas die wind uit my seile gehaal. Twee maande gelede is ek deur dieselfde oefening met ‘n vriendin. Dis een ding om te praat daaroor, ‘n ander om jou huis in die mark te sit.

Na ‘n gesprek van amper tien minute groet ons mekaar en belowe om te kuier – sonder om reëlings vas te maak.

Ek stap na my kar, klim in en kyk om my rond. Die wind het bedaar en die vlag hang weer slap.

Eens op ‘n tyd, nie te lank gelede nie, was daar iets soos ‘n hoop. Ek dink die meeste mense het daarin geglo, selfs al sou hulle dit nie erken nie. Deesdae nie meer nie. En miskien is dit beter so, want hoop wat afgeblaas word, skep ‘n vakuum vir realiteit. Bitter of soet is die werklike, eintlik noodsaaklike, bestanddeel vir verandering en vooruitsig.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels