Deur Robin Vogels
Hierdie artikel fokus op wanneer die beste tyd is om te verhuis na Australië, maar hierdie wenke is ook nuttig vir enigiemand wat na ’n ander lande toe moet verhuis.
Die tyd wanneer jy verhuis kan koste-implikasies hê. Ons kyk na ’n paar faktore wat jy in gedagte moet hou wanneer jy jou verhuising beplan.
Verhuisingskontrakteurs
Wanneer verhuisingskontrakteurs te veel werk het, sal hulle hoër tariewe vra. Om billik te wees, daar is faktore wat hierdie hoër tariewe beïnvloed, en een daarvan is die indiensneming van bykomende personeel om die werklading te hanteer. Arbeidskoste is ’n belangrike faktor by die koste van verhuising.
Soos met die meeste dinge het verhuisingskontrakteurs ook ’n hoogseisoen. Vir Australië is dit die somer. Baie mense verhuis plaaslik in hierdie tyd. Wat internasionale verhuising betref, as jy tans in die suidelike halfrond is, sal dit somer wees in die land waarvandaan jy verhuis asook by jou aankoms in Australië – en dit sal ’n uitwerking op jou kwotasies hê.
Oplossing: Die uitweg hier is om jou verhuisingskwotasies vroeg in jou verhuisingsproses te kry, so vroeg moontlik en knoop dit vas. As jy dit doen en hulle raak besiger in hulle kwoteringsfase, sal hulle ander kwotasies verhoog, nie joune nie.
Akkommodasie
Weer eens is die hoogseisoen dieselfde orals ter wêreld. As jy besluit om gedurende die Australiese somer te verhuis, kan jou tydelike akkommodasiekoste 20–30% hoër as gewoonlik wees. Neem dit in ag. Ongelukkig sal die pryse vir die hoogseisoen reeds vasgestel wees, ongeag hoe vroeg jy akkommodasie bespreek. Maar hoe vroeër jy bespreek, hoe ’n groter keuse sal jy hê – en terwyl daar nog ’n keuse is, is daar ’n kans om geld te bespaar.
Dis nie net slegte nuus nie. Daar is altyd maniere om elders in jou verhuisingsproses geld te bespaar as jy gedurende die hoogseisoen moet verhuis. Ons weet die meeste mense met kinders van skoolgaande ouderdom sal aan die begin van die skooljaar verhuis. In Australië is dit Januarie, somer en hoogseisoen.
Oplossing: Akkommodasie-alternatiewe. Deur ’n verhuisingsmaatskappy te gebruik, kan jy jou verblyf in tydelike akkommodasie verkort, of ’n diens soos INSPECT4U by Personnel Relocations sal tydelike akkommodasie heeltemal uitskakel.
Nog ’n goeie opsie vir die hoogseisoen is om iemand se huis op te pas. Daar is webwerwe soos Aussie House Sitters in Australië, waar mense gesoek word om ander mense se huise vir lang tydperke op te pas. Weereens, as jy dit vroeg reël, sal jy meer opsies hê.
Bonuswenk: Wanneer jy huisoppassery of tydelike akkommodasie reël, maak seker daar is genoeg gerieflike koswinkels, markte of kruidenierswinkels naby. Jy wil geld bespaar wat motorhuur en brandstof betref, en dit is dus belangrik om sulke winkels binne loopafstand te hê.
Skoolgeld
Lewenskoste in Australië is hoog, en so ook die koste van onderwys. Privaat skole kan meer as $30 000 per jaar vra, en selfs openbare skole kan etlike duisende dollar per jaar kos. Hoewel onderwys in Australië duur kan wees, is daar verskeie maniere om die koste te verlaag as jy op die regte tyd verhuis.
Een manier is om tweedehandse skooluniforms te koop. Aan die begin van die skooljaar of selfs aan die einde van die vorige jaar sal daar mense wees wat uniforms en boeke wil verkoop.
Oplossing: Hou Facebook Marketplace dop of doen navraag by die skool wat die kinders gaan bywoon. Die meeste skole het deesdae ’n Facebook-blad om gebruikte skooluniforms te verkoop. Hou in gedagte dat ’n uniform vir ’n privaat skool jou $800 tot $1 000 uit die sak gaan jaag. Om gebruikte uniforms te koop, is ’n uitstekende manier om geld te bespaar.
Klik hier vir Personnel Relocations op AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids.