Uit en tuis: Boerekaskenades in Erlangen, Duitsland

10/05/2023
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Photo-by-Noppon-Meenuch-on-Unsplash-scaled

Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het en weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Jolene Harley wat in Erlangen in Bavaria, Duitsland woon.

Hallo Jolene, van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Duitsland te gaan woon?

Ons drie is gebore en getoë in Centurion, Pretoria. Ons is grootgemaak in huise waar almal deur die reisgogga gebyt is. Ons wou nog altyd Europa plat reis en wou dit graag doen voordat ons kieries of looprame benodig. My eggenoot, Quentin, werk vir Siemens en het gereeld na Duitsland gereis vir opleiding. Ek kon al drie keer saamreis en Ilke het as amper-driejarige haar eerste reis meegemaak tydens een van die koudste winters wat in ‘n lang tyd aangeteken is. Ons het so saggies vir mekaar gesê as die geleentheid ooit voor ons deur kom staan (via Siemens) en hard klop, sal ons in ‘n oogwink ja sê. Een dawerende klop, ‘n malle gepak, ‘n A1 Duits-eksamen by die Goethe-Institut, ‘n gegroet en baie trane later het ons in Oktober 2022 gearriveer. Amper presies 20 jaar nadat ons die eerste keer saam gereis het.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ek en Quentin is beide 46 en ons dogter Ilke is nou 16 jaar oud. Ons noem onsself “Team Harley” en pak alles op ons eie, unieke manier saam aan. Hulle twee is gelukkig baie tegnologies aangelê en ek is die praktiese moeder hen. Met baie genade het ek darem nog net ‘n paar keer die bus verpas of op die verkeerde plek op- of afgeklim. Ons meisiekind is soos ‘n vis in die water – skaars geland toe weet sy hoe werk goed. As dit nie vir haar was nie, was ons dalk nog steeds op die lughawe gestrand. Quentin het voor my en Ilke vertrek. Met ons twee se vertrek was daar baie vertragings en toe verpas ons ons een vlug. Ek het so ewe gaan sit en wag, maar gelukkig het sy gaan navraag doen en uitgevind ons moet van voor af ‘n vlug reël van Frankfurt na Nuremberg, ons naaste lughawe.

Vertel ons watse werk julle doen en hoe die werkskultuur in Duitsland verskil van dié in Suid-Afrika.

Werk in Duitsland is ‘n nuwe ervaring. Hier word werkers se regte baie sterk beskerm. Dis onder andere onwettig om meer as 10 uur per dag te werk sonder spesiale toestemming van die Werkersraad.

Die werk-lewe-balans word sterk afgedwing en vir die eerste paar maande voel ‘n mens amper skuldig as jy in die middag oppak om huis toe te gaan. Baie besighede het ook as gevolg van alles wat hulle in die Covid-tyd geleer het ‘n 60-40-skedule waarvolgens jy 60% van die tyd van die huis af werk en 40% van die tyd van die kantoor af.

Hier het hulle vreemde stelsels om mense aan te moedig om verlof te neem. Jy ontvang onder meer ekstra geld op dae wat jy verlof neem. Verbeel jou!

Om in ‘n nuwe land aan te pas, kan uitdagend wees. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland?

Ons het in ‘n mate geweet waarvoor ons onsself inlaat omdat ons al voorheen hier was en darem die stad ‘n bietjie ken. Ons beskryf dit graag as ‘n kruising tussen Centurion en Stellenbosch. Erlangen is ‘n universiteitsdorp. Hier werk jy óf vir die universiteit óf vir Siemens. In die 12 jaar sedert ons laas hier was, het baie egter verander. Erlangen bars uit sy nate. Hier is baie studente van ander lande en almal kompeteer vir verblyf. Ons buurdorp is Hertzogenaurach waar Adidas en Puma se fabrieke en hoofkantore is. Hul werknemers verkies ook om in Erlangen te woon omdat behuising hier goedkoper is. Die boubedryf floreer in Erlangen en hul gebruik die eg Duitse Bauhaus-beweging se konsepte.

Op ‘n tipiese bus- of treinrit hoor jy elke taal onder die son. Dis baie meer kosmopolitaans as in die verlede. Toe ons moes gaan hare sny, het ons ondanks ons kommunikasie in Engels en gebroke Duits daar uitgeloop met net-net aanvaarbare style. Engels is die meeste mense se tweede taal en Duits hul derde taal.

Hoe vergelyk die verblyfopsies en lewenskoste in Duitsland met dié in Suid-Afrika?

As gevolg van die oorlog in Oekraïne styg die inflasiekoers. Die verhuringsmark is erg kompeterend en jy’s dankbaar as jy ‘n plekkie kry. Ons het die perfekte woonstel: stapafstand van alles, busstop by die voordeur. Op dié stadium is openbare vervoer meer as genoeg vir ons daaglikse aktiwiteite. Ons het wel vir die vakansie ‘n motor gehuur en die Autobahn verken. Wat ‘n belewenis om teen die spoed van wit lig op mooi paaie te ry!

Quentin was soos ‘n grootwildjagter agter verblyf aan. Ons woon in ‘n netjiese woonstelkompleks langs die Europakanaal en het die mooiste uitsig op die Rhein-Main-Donau-Kanal. Ons was darem voorbereid op die moontlike verblyfkrisis. Hier kan jy onder andere nie ‘n huurkontrak teken vir minder as twee jaar nie. Ilke se skool is 15 minute se stap ver, oor die kanaal. Sy pak die staptog elke dag alleen aan soos toe ons in die goeie ou dae in Suid-Afrika ook veilig kon skool toe stap.

As jy jou somme maak en euro elke keer na rand omskakel, is voedselpryse maar baie dieselfde as in Suid-Afrika, veral as ‘n mens die salarisse in die twee lande met mekaar vergelyk. Op hierdie stadium werk ek nie en speel vir die eerste keer te lekker ma en huisvrou.

Hoe verskil die skoolsisteem in Duitsland van dié in Suid-Afrika?

Die skoolsisteem verskil in die sin dat hier drie fases is: voorskool, middelskool en gimnasium.

Hier is internasionale skole, maar jy moet ‘n nier daarvoor opoffer. Privaat skole is beskikbaar, maar die openbare skole is so goed dat die meeste kinders dit bywoon. Geen tuisonderrig word toegelaat nie. Jy is skoolpligtig tot op 16 wanneer jy ‘n eksamen kan aflê om die skool te mag verlaat. Baie verlaat dan die skool vir “Berufsschule” (beroepskole) soos ons ambagskole en tegniese skole.

Ilke moes aanvanklik na ‘n “Berufsschule” gaan om basiese Duits te leer. Gimnasiums aanvaar nie anderstalige ouer leerders nie, wat verstaanbaar is, want die onderrigtaal is Duits. Ons meisiekind leer fluks Duits, want sy wil deur die gewone skoolsisteem beweeg sodat sy gratis universiteit toe kan gaan. Die voorwaarde is egter dat jy in die Gimnasium drie tale moet neem. Hoe nou gemaak? Gelukkig kon die skoolhoof iemand in Bavaria opspoor deur wie sy Afrikaans as haar derde taal kan neem tot in matriek.

Was dit vir julle dogter moeilik om aan te pas in die nuwe land?

Sy is soos ‘n vis in die water. Ons het haar van kleins af grootgemaak om baie aanpasbaar te wees. Sy was in Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria en sy mis dit baie, maar hulle het haar ‘n goeie grondslag gegee waarop sy kan voortbou.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?

Biltong, boerewors, Ouma-beskuit en Bovril. En Spray and Cook. En ek mis my skooltjie, die kinders en hul ouers wat soos familie is.

Ek mis gratis toilette. Hier betaal jy vir alle openbare toilette, selfs in die inkopiesentrums en by McDonald’s. Maar jy raak slim. Obi en Kaufland (twee kettingwinkels) se geriewe kan jy verniet gebruik. Jy leer gou waar al die Obi- en Kaufland-winkels in die groter stede is en knyp jou neus toe.

Praat julle nog Afrikaans?

Dis ons huistaal en sal ons huistaal bly.

Ons kan heelwat staaltjies vertel van ons Afrikaanse geselsies in veral winkels. Die Duitsers vra ons gereeld watse taal ons praat, want dit klink dan soort van bekend. Daar is soveel ooreenkomste tussen die twee tale. Let wel: Hulle verstaan ons Afrikaans beter as wat ons hulle Duits verstaan! Maar ons werk daaraan. Ons draf drie keer per week aandklas en is besig met A2 Duits. Op die lange duur hou dit soveel voordele in om Duits aan te leer. Hulle het ook baie respek vir die feit dat ons probeer. Ons dosent kom van Oekraïne af en sy sê as sy dit kon doen, kan ons ook.

Hoe verskil inkopies doen in Duitsland van inkopies doen in Suid-Afrika?

Jy moet ‘n geldjie ingooi om ‘n trollie te kan leen wat jy dan weer terugkry wanneer jy die trollie teruggee. Die tellers is blitsig. Jy moet blitsig self pak. Gelukkig het ek Ilke van kleins af in Suid-Afrika geleer om inkopiesakke te pak. Jy moet jou eie inkopiesakke onthou. Mense hou nie daarvan om as tellers te werk nie en al hoe meer winkels beweeg oor na outomatiese stelsels.

Enige lesse wat julle geleer het?

Ons leer daagliks ‘n duisend klein goedjies. Ons het egter geweet waarheen ons op pad was. Ons het geweet waarvoor ons ons inlaat.

Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat julle graag ondersteun?

Daar is in Duitsland, maar dis ver van ons af. Daar is ‘n paar aanlyn winkels waar ons boerewors en biltong wil bestel, en terwyl ons besig is sommer Ouma-beskuit ook, maar ons het eers gewag vir die lente.

Watter interessanthede oor die land waar jy woon het jy ontdek wat jy nie vantevore geweet het nie?

Dat jy hier stap, maak nie saak hoe die weer lyk nie. Die Duitsers sê graag jy’s nie van suiker gemaak nie; jy smelt nie so maklik nie. Hulle sê ook daar is nie iets soos slegte weer nie, net verkeerde klere. Ons skaf so stuk-stuk die regte klere aan.

Die Duitsers is erg oor herwinning. Orals is daar houers vir glas- en klereherwinning. Hier is selfs asblikke vir bio-afval. Dit pas my soos ‘n handskoen.

Wat geniet julle die meeste van Duitsland?

Hulle stap-kultuur. Ons al drie is baie lief vir stap. Ons kan kilometers langs die kanaal of in die baie woude stap. Hier kan jy na hartelus “wandern” (stap). Dis veilig, skoon en gratis. Almal langs die pad groet vriendelik; Duitsers is g’n nors nie. Mense stap graag met hul honde en ruim die meeste van die tyd ook op. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd bereik ons ons mikpunt van 10 000 tree per dag en is ons horlosies baie gelukkig met ons.

Enige interessante feite aangaande immigrasie na Duitsland?

Ons was in ekstase oor die geleentheid. Dit was die perfekte tyd – ons is nog jonk genoeg, want immigrasie is nie vir sissies nie. Groot was ons verrassing toe ons die fynskrif lees en besef Quentin is deur sy maatskappy geborg. As jy ‘n graad het, en veral ‘n M of D, gee hulle jou ‘n bloukaart, dan kan jy en jou familie sonder probleme na Duitsland immigreer.

My man is ‘n diploma-ingenieur en indien jy dan as ‘n niewerkende eggenoot wil saamgaan, moet jy die A1 Duits-eksamen by die Goethe-Institut slaag. Ek moes inderhaas basiese Duits leer en die eksamen aflê om saam met hom te kon kom. Daar was nie tyd vir klas draf nie en ons het dit op ons eie aangepak. Dit kan gedoen word. My senuwees was aan flarde, maar ek het 84% behaal …

Ons raad aan enige iemand: Lees die fynskrif. Maak seker van jou feite. Hier is baie werksgeleenthede, veral vir ambagslui. In dieselfde tyd wat ons oorgekom het, het nog twee van Quentin se kollegas ook die geleentheid aangegryp. Duitsland soek mense, en Suid-Afrikaners is baie gewild, want hulle weet ons kan hard werk.

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit die buiteland

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels