Uit en Tuis in Milwaukee, Wisconsin, VSA

22/04/2021
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Op-die-Zuma-in-Key-West.

deur Reenen Biddulph 

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Reenen Biddulph wat die afgelope 12 jaar in Milwaukee, Wisconsin, VSA woon. Hy praat meestal namens homself aangesien sy vrou effe meer privaat is as hy wie se lewe ’n oop slapbandboek is.

  1. Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Ek het feitlik my lewe lank in die Pretoria/Johannesburg-omgewing gewoon en gewerk. My droomberoep (senior agenthanteerder in die Nasionale Intelligensie Agentskap (NIA)) was vinnig besig om in ’n nagmerrie te verander en ons het reeds rondgekyk vir ander moontlikhede toe die geleentheid hom voordoen om (tydelik) na die VSA te verhuis. Die gewone redes soos misdaad en korrupsie in Suid-Afrika het die besluit makliker gemaak.

  1. Was dit ’n groot aanpassing en kultuurskok?

Veral aan die begin het dit heeltyd vir my gevoel asof ek in ’n rolprent speel (net as ’n ekstra, let wel, nie as ’n groot ster soos mede-Suid-Afrikaanse Amerikaner, vriend Neil Sandilands, nie). Die polisiemotors, taxi’s, diners, kroeë, sport, natuur en kultuur was alles so erg bekend omdat ons daai dinge mos ons hele lewe lank in Hollywood se flieks gesien het. Deesdae is dit ’n groot plesier om flieks te kyk en presies te weet waar dit afspeel, want jy was in baie gevalle al daar, of jy ken die bourbon want jy drink dit self gereeld, of jy verstaan die “in” grappies want jy leef dit self.

Ook verstaan ek nou hoekom so geweldig baie flieks iewers by ’n meer afspeel. Michigan staan byvoorbeeld bekend as The Land of 10 000 Lakes, want hulle het inderdaad 11 842 mere; volgens die Department of Natural Resources (DNR) het Wisconsin 15 074. Terloops, Michigan was nog altyd suur omdat ons hier in Wisconsin meer mere as hulle het en het jare gelede aangedring op ’n hertelling – volgens hulle reëls natuurlik – maar ons het steeds gewen.

Ek het baie vinnig aangepas, veral omdat die mense van die Midde-Weste so ongelooflik vriendelik en gasvry is. ’n Vriend van Suid-Afrika het hul eenkeer as “aggressief vriendelik” beskryf. Ek het ook bykans onmiddellik ’n groot ondersteuner van die Green Bay Packers (’n span wat in die National Football League (NFL) kompeteer) geword en in 2010 het ek bykans dieselfde vreugde ervaar toe die Packers die Super Bowl gewen het as toe ons die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995 gewen het.

Dit het wel ’n bietjie aanpassing geverg om gewoond te raak aan die dosyne vrae wat winkelassistente en kelners aanhoudend en blitsig op jou afvuur terwyl jy staan en hum en ha.

  1. Van watter interessanthede van die VSA kan jy ons vertel?

Ek dink die eerste ding wat mense moet besef, is dat die VSA eintlik bestaan uit 50 verskillende “lande” wat dramaties van mekaar verskil. Klein dingetjies soos of jy jou koeldrank “soda”, “pop” of “coke” noem, hang byvoorbeeld af van die staat waar jy woon. ’n Mens tref ook verskillende aksente in die state aan. So het dit my vier keer se “Excuse me?” gekos om uit te vind in Georgia beteken “Doohoo whasam lah wee da hah knee?” bloot “Would you like to have some lime with that honey?”

Dan is daar die groot verskille soos wetgewing rakende byvoorbeeld vuurwapenbesit, spoedgrense op die paaie en die gebruik van dagga. So is dit ironies genoeg slegs in Kalifornië wettig om met ’n motorfiets tussen motors deur te ry, terwyl feitlik alles anders onder die son mos daar óf onwettig is óf lei tot kanker.

In Wisconsin is ruilhandel ongelooflik groot. Ons plaaslike kroeg se parkeerterrein lyk soms soos ’n vlooimark soos items van hande verwissel. Kos, drank, fietse, gereedskap, sneeublasers – alles waaraan jy kan dink. Ons self het ’n staande ooreenkoms met ’n vriend: Ons ruil ’n bottel whiskey en ’n pak bier vir ’n driegangmaal by sy restaurant; dit sluit die lekkerste riboog-steak in wat ek nog ooit geproe het. Ek het ook twee silwer armbande wat ek self gemaak het geruil vir drie haarkapperbesoeke vir my vrou. Hoe’s daai vir jou!

  1. Wat doen julle vir ontspanning?

Heel bo-aan die lys is road trips. Om road trips te doen in “America the Beautiful” is basies die enigste behoefte en ambisie wat ek nog het (behalwe om dalk eendag by die see te bly). Of dit nou met die dak af is in my Miata of op my motorfiets tussen die mielielande deur, op en af langs die Michigan-meer of die Mississippi-rivier (ons westelike grens), deur die Mojave-woestyn in ’n Camaro V8 Convertible, reg om Key West op ’n Yamaha Zuma-bromponie of ’n waterponie, of derduisende myle met die Subie tot by Yellowstone Nasionale Park en terug, dit maak my ongelooflik gelukkig.

Dit bring ons by sekerlik die indrukwekkendste en verstommendste aspek van die VSA: die 427 nasionale parke wat 84 miljoen akker beslaan. Ons was gelukkig genoeg om al ’n hele paar van hulle te kon besoek en nes die ongelooflike Yellowstone is Yosemite, Dry Tortugas, Badlands en die Apostle Islands National Lakeshore totaal asemrowend.

  1. Julle het nog julle Suid-Afrikaanse burgerskap. Is dit vir julle belangrik om op hoogte te bly van nuusgebeure in Suid-Afrika?

Ek vermy die nuus in beide Suid-Afrika en die VSA so ver as moontlik; dit maak my net ongelukkig. ’n Mens bly uiteraard redelik op hoogte van dinge, want dis onvermydelik dat jy die belangrikste verwikkelings en gebeure op Facebook gaan raaksien.

  1. Kry julle kans om te reis?

Ja, ons is baie gelukkig in daardie opsig. Oor die jare het ons heelwat van die VSA besoek, deels om konferensies en kursusse by te woon, maar ook iets soos die Sewes Rugby in Las Vegas. Ons was ook in plekke soos Jamaika en Puerto Rico. Ek probeer om darem om so elke twee jaar in Suid-Afrika uit te kom, maar ek fokus steeds op die groot dele van die VSA wat ek nog wil besoek.

Ons het eenkeer in ’n motel langs die Michigan-meer ingeboek en was verstom toe die ontvangsdame vir ons die motel se sleutels gee en sê ons moet onsself geniet, ons is die enigste gaste, sy loop nou en sal ons die volgende dag sien. ’n Ander keer het ons op pad na die Mississippi by ’n hotel ingeboek en dieselfde ding gebeur sowaar weer, behalwe dat dit dié keer ’n bietjie spookagtig was, want die plek se naam was Silent Woman. Met as logo ’n afkopvrou …

  1. ’n Laaste Woord

Van my vriende reken ek is meer Amerikaans as enige van hulle en dis heel moontlik waar. Ja, die politiek is ’n gemors, en gesondheidsorg is duur, maar al die ander dinge maak dubbel en dwars daarvoor op. Ek beskou myself nou as ’n Suid-Afrikaans gebore Amerikaner. My groot held Teddy Roosevelt (ek wonder hoeveel mense weet dat die teddiebeer na hom vernoem is) was saam met John Muir grootliks verantwoordelik vir die totstandkoming van die nasionale parke. Roosevelt het gesê: “Any man who says he is an American, but something else also, isn’t an American at all. But if he is heartily and singly loyal to this Republic, then no matter where he was born, he is just as good an American as anyone else.”

(Terloops, Roosevelt is hier in Milwaukee in die bors geskiet tydens ’n toespraak maar hy het steeds sy toespraak klaargemaak!)

“That’s all, folks!”

Ek neem graag foto’s van vervalle plekke, soos hierdie paar in Wisconsin:

Fotos: Reenen Biddulph 

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels