Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Alecia Meiring wat in Ulsan, Suid-Korea woon.
Vertel ons meer van jouself en waar jy woon.
Ek is Alecia Meiring, ’n 23-jarige liefhebber van katte en musiek. Ek geniet dit om nuwe mense te ontmoet en te reis en ek hou van die kunste in enige vorm, van teater tot musiek en die geskrewe woord. Ek het in 2017 aan die Universiteit van Pretoria gegradueer en my hoofvakke was Engels en Geskiedenis. Ek woon tans in Ulsan, Suid-Korea. Dit is Suid-Korea se sewende grootste metropool en is ’n bekende industriële reus. My woonstel is in Namgu, die middestad (die naam beteken “Suidelike Wyk”).
Wat doen jy daar?
Ek is ’n Engels-tweedetaalonderwyser en ’n debat- en kreatieweskryfwerkinstrukteur vir ’n Hagwon. ’n Hagwon bied aanvullende programme en klasse na skool aan. Ek gee klas vir kinders in die intermediêre en hoër grade – buiten een elementêre klas wie se Engels bogemiddeld is wat hul skryf- en debatsvaardighede wil verbeter. Soos my Koreaanse mede-onderwyser dit stel: “Soos ’n onderwyser, maar ’n spoggerige onderwyser.”
Was dit moeilik om by ’n vreemde land aan te pas?
Ek dink om uit die huis te gaan en van nuuts af begin, sal altyd moeilik wees, ongeag wie jy is of waar jy vandaan kom. Die belangrikste om in ’n vreemde land aan te pas, is ’n oop gemoed en hart, ’n bereidwilligheid om te leer en foute te maak, en ’n liefde vir avontuur! Vir my was dit nie te moeilik om in Korea aan te pas nie. Ek het die land al voorheen besoek en ek het Koreaanse vriende in Suid-Afrika en in die buiteland; dit het my voorberei op die lewe in Korea lank voordat ek eens daaraan gedink het om hier te kom woon.
Wat is die beste en slegste avonture wat jy nog daar beleef het?
My lekkerste avontuur tot dusver was ’n besoek aan die Taewharivier die Saterdag nadat ek hier aangekom het. Ek is gelukkig net 15 minute se flink stap van die rivier af. Dit vloei deur Ulsan en daar is ’n wonderlike wandelpad waar jy kilometers ver kan stap. Die uitsig oor die rivier is pragtig gedurende sonsondergang, en die regering was vriendelik genoeg om luidsprekers langs die wandelpad aan te bring wat jou gedagtes ná ’n besige week by die werk met sagte, rustige melodieë kalmeer.
My slegste avontuur tot dusver was die ontdekking dat Korea dinge wat nie soet is of moet wees nie soet maak – van “sout” tjips tot brood. Ek was baie opgewonde toe ek gewone, onopvallende worsbroodrolletjies, ’n stukkie kaas en gesnyde ham in ’n kruidenierswinkel raakloop. Ek het huis toe gehaas om vir my ’n lekker toebroodjie met gesmelte kaas en ham te maak. Maar wat ek gekry het, was ’n toebroodjie wat so soet was, ek kon net so wel nagereg geëet het. Korea, hoekom het jy my so in die steek gelaat? Ek het dan gedink ons is vriende?
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?
Ek het nooit gedink ek sal dit sê nie, maar ek mis biltong! Ek hunker ook laataand na Astros en ’n blikkie Cream Soda – iets wat jy nie in Korea kry nie. En brood. Ek mis ’n lekker sny roosterbrood vir ontbyt wat nie soos nagereg smaak nie. Nog iets wat ek mis, is dat mense jou in ’n hysbak groet. Ek het al baie ongemaklike hysbakritte in doodse stilte deurgebring met die begeerte om iemand te kan groet sonder om aangestaar te word. Dit is deel van die Koreaanse kultuur om nie met vreemdelinge te praat nie! As jy die dag vriendelik voel, kan jy jou kop beleefd en in stilte vir ouer persone knik of buig sonder om oogkontak te maak.
Wat was die vreemdste ding waaraan jy in jou nuwe land moes gewoond raak?
My Koreaanse mede-onderwysers hou baie van aanraking. Buiten die direkteur is almal by my werkplek vroue, en hulle sal pouses ewe ongeërg jou hand vashou of met hulle kop op jou skouer kom lê. Hulle gee my gereeld drukkies en speel graag met my hare. Die kinders ook; selfs die ouer hoërskoolseuns gee my soms ’n drukkie of hou my hand vas terwyl ons klasse ruil. Dis nogal lekker, maar kan ’n mens ook ’n bietjie ongemaklik maak as jy nie daaraan gewoond is nie. “Skinship” is die term wat hulle hier gebruik om te verwys na hierdie liefdesbetonings. Dis heeltemal normaal vir meisies om hand aan hand op straat te loop. Seuns en mans loop met hulle arms om mekaar se skouers en selfs goeie vriende loop by mekaar ingehaak. Baie van die seuns in my klas hou hande vas en gee mekaar gereeld drukkies; die meisies haak by mekaar in en lê dikwels tussen klasse met hul koppe op mekaar se skote. Dis die Koreaanse manier om te wys jy hou van iemand en geniet hulle geselskap. Dit word dikwels as onbeskof beskou as jy nie skinship wil toelaat nie, want eintlik sê jy dan jy wil nie vriende wees nie.
Wat geniet jy die meeste van Suid-Korea?
Vir my is die kos die heel lekkerste van Suid-Korea! Jy het nog nie geleef as jy nog nie ’n behoorlike Koreaanse ete met al die heerlike, gesonde bygeregte geniet het nie. Ek hou baie van sterk gegeurde kosse, daarom pas Korea so reg in my kraal. Party geregte laat volwasse mans hier huil en die “fire noodle challenge” wat op die internet gewild geraak het, het hier ontstaan as ’n manier waarop vriende bepaal wie die sterkste speserye kan eet. Dis ongelooflik en ek is mal daaroor.
Gaan jy na Suid-Afrika terugkeer?
Op die oomblik is ek redelik vasberade om net een jaar in Korea onderwys te gee en daarna in ’n paar ander lande, maar die plan is om uiteindelik terug te kom Korea toe en hier te bly. Ek glo nie ek gaan weer terug Suid-Afrika toe nie, maar ’n mens weet nooit wat die toekoms inhou nie. Niks is onmoontlik nie, so dis moeilik om met sekerheid te sê.
Was dit maklik om jou voete daar te vind?
Aan die begin was dit effens moeilik. Jy begin van vooraf in ’n splinternuwe land met net die paar sakke wat jy van die huis af gebring het. Die eerste maand was dit moeilik om die nodige vir my woonstel te koop en om te leer om met vreemde bestanddele te kook. Nou is ek baie meer op my gemak. Ek het ’n paar wonderlike vriende gemaak en agtergekom ek kan hier op my eie oorleef. Pro-wenk: Lees oor die kultuur en die area waar jy gaan bly, en leer ten minste ’n paar van die basiese woorde in daardie taal. Hoe beter jy die taal ken, hoe makliker is alles.
Is dit duur om daar te leef of is dit maar omtrent dieselfde as in Suid-Afrika?
Die lewenskoste is hoër in Suid-Korea as in Suid-Afrika, maar dis nie vir my so erg as wat ek aanvanklik gevrees het nie. Plaaslike restaurante is goedkoper as in Suid-Afrika. Uiteet is ’n baie belangrike sosiale aktiwiteit in Korea, en die rekening word gewoonlik eweredig tussen almal verdeel. Dit is meestal baie goedkoop. Om kruideniersware te koop, kan ’n uitdaging wees. Baie van ons gewilde handelsmerke is nie in Suid-Korea beskikbaar nie en jy moet deur ’n probeer-en-leer-fase gaan om plaasvervangers te vind en te leer om sonder sekere goed klaar te kom. In party kruidenierswinkels is Westerse produkte beskikbaar, maar dis baie duurder as by die huis. ’n Juweel is die plaaslike inwoners se klein kruideniersmarkies wat in hoekies en gangetjies weggesteek is. Hulle kweek groente en vrugte en dit is gewoonlik goedkoper as by kruidenierswinkels. As jy ’n bietjie Koreaanse ken en kan kibbel, sal een van die “ajummas” jou dalk nog afslag ook gee!
Het jy soms tyd om te reis? Indien wel, waarheen gaan jy graag?
Ek kry nie regtig tyd om te reis nie. Ek werk die hele jaar lank elke dag en buiten openbare vakansiedae kry ek net 10 dae betaalde verlof. ’n Mens moet maar klaarkom met naweekuitstappies. Ek en ’n ander Suid-Afrikaanse onderwyser wat hier werk, gaan darem met ons volgende vakansie ’n bietjie reis. Omdat Ulsan nie in Sentraal-Korea geleë is nie, kan ons nie soos dié wat in Seoel of ander sentraal geleë stede bly die “beroemde” Koreaanse stede verken nie, maar ons is naby baie van die kusstede soos Busan en Pohang. Ons is ook verbasend naby Japan, so ek gaan dalk binnekort Japan toe!
Het jy ooit tyd om te ontspan met so ’n besige program?
Ek kry tyd om te ontspan. Naweke is die toppunt van ’n ESL-onderwyser se leeglêtyd. In die week staan ek gewoonlik baie vroeg op en doen baie dingetjies voordat ek skool toe gaan, maar naweke kuier ek by vriende, gaan uit, loop in die stad rond of bly net tuis en slaap laat.
Hoe lyk ’n tipiese dag in jou lewe?
’n Tipiese dag is ’n mengsel van chaos en georganiseerdheid. Ek word gewoonlik teen 7:30 wakker, gaan stort en gaan deur my gewone oggendroetine. Ek eet gewoonlik voor 8:30 ontbyt, maar as ek ’n vriend vir middagete ontmoet, slaan ek ontbyt oor, want die middagetes hier is baie vullend. Dan gaan doen ek inkopies, gaan stap in die omgewing of langs die rivier, of as dit so warm is soos dit hierdie somer in Ulsan was, bly ek dankbaar teenoor die uitvinders van lugversorging binne. Ek moet 13:30 by die werk wees om vir my klasse voor te berei, maar ek gaan gewoonlik ’n bietjie vroeër sodat ek teen 13:10 kan begin. My eerste klas is van 14:00 tot 16:00. Dit is die jonger en intermediêre skoolkinders. Van 16:10 tot 18:30 is dit die gevorderde intermediêre en laer hoërskoolklasse. My laaste klas is 18:45–21:00 vir die gevorderde hoërskoolkinders. Die laaste klas is my gunsteling, want dit is “gespesialiseerde” klasse in debat, gesproke Engels of kreatiewe skryfwerk. My werk is gewoonlik teen 21:20 klaar en dan stap ek huis toe. Afhangend van die weer, my motivering en of ek dalk ’n bietjie later moes werk, is ek gewoonlik teen 21:40 terug by my woonstel. Op weeksdae merk ek gewoonlik van 22:00 af opstelle, debatte of werkboeke of maak lesplanne klaar. Party dae het ek niks om te doen nie, dan gaan drink ek saam met vriende koffie of gaan stap langs die rivier. In die somerhitte is die meeste mense huiwerig om uit hulle verkoelde woonstelle te gaan, so ek het al baie nagte gebruik om op datum te kom met filmreekse of my net te verlekker in my skuldige plesiertjie van Exo-video’s kyk tot slaaptyd. Ek gaan slaap gewoonlik so teen 00:30.
Wil jy enigiets byvoeg?
Gaan kyk gerus na Exo se musiekvideo’s. Ek is mal oor hulle; hulle is briljant. As jy hou van aansteeklike liedjies en ongelooflike mooi mans wat vir jou serenades sing, sal jy in die hemel wees. Prettige feit: Die groep wat by die Olimpiese afsluitingseremonie opgetree het, was Exo. Hier in Korea is hulle baie gewild. Hulle word die volk se keuse genoem omdat hulle so geliefd en gerespekteerd is. Gaan luister na hulle en bedank my later.