Uit en Tuis is ʼn rubriek waar ons met mense gesels wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Charlé Klopper wat in Mangonui, Nieu-Seeland woon.
Waar woon julle en waarom juis daar?
Ons woon in ʼn klein kusdorpie genaamd Mangonui. Dis geleë in die verre noorde van die Noordeiland. Ek en my man wou nog altyd by die see bly en ons hou van die lekker weer in die noorde.
Was dit ʼn groot aanpassing?
Die grootste aanpassing was verseker vir myself. Die ma kry die swaarste met immigrasie. Gewoonlik kom die gesinne oor met ʼn werksaanbod vir die man, so hy begin dadelik werk, en gewoonlik begin die kinders skoolgaan, maar die ma is by die huis. Alleen. En skielik moet jy self skoonmaak en kosmaak sonder ʼn bediende. Ek was gelukkig om vinnig vriende te maak met ʼn ander Suid-Afrikaanse vrou wat ses maande voor ons geïmmigreer het en ons is vandag nog vriendinne. Ons gesinne sien mekaar gereeld en hulle is nou soos familie.
Vertel ons meer van jou gesin.
My man Tobie het in Suid-Afrika geboer en oorgekom met ʼn werksaanbod om te melk in Nieu-Seeland. Boerdery in Nieu-Seeland is baie anders as in Suid-Afrika – hier doen die boer alles self! Hy het na twee jaar van melk besluit om weer te gaan studeer en toe verpleging geswot. Hy is nou ʼn verplegingspraktisyn. Ons het twee kinders. Lukas is 21 en Talita is 18. Lukas was 7 en Talita was 4 toe ons geïmmigreer het.
Praat julle nog Afrikaans?
Ons praat net Afrikaans in ons huis. Die kinders praat met mekaar Engels wanneer hulle alleen is.
Hoe gereeld sien julle familie mekaar?
Ons sien ons familie in Suid-Afrika so elke twee tot drie jaar, so nie genoeg nie. Ons is gelukkig dat my broer en Tobie se broer, suster en hulle gesinne ook intussen geïmmigreer het, so ons sien hulle darem gereeld.
Wat was die vreemdste om aan gewoond te raak?
Die verskillende produkte en wat hulle genoem word. In Suid-Afrika praat ons van Jik, hier is dit Bleach. In Suid-Afrika praat ons van Handy Andy, hier is dit Jif. Pritt is Glue Stick, koki’s is “felts”, Prestik is Blu Tack, tekkies is “sneakers”, ʼn bakkie is ʼn “ute”, ens.
Het julle nog kontak met Suid-Afrika en sal julle ooit terugkom?
Ons kuier so gereeld as wat ons kan, maar soos voorheen gesê, is dit nie genoeg nie en ons mis ons familie en vriende baie. Ons glo nie ons sal weer teruggaan Suid-Afrika toe nie, maar “never say never”. Suid-Afrika bly maar in jou bloed en ons harte lê maar nog altyd daar.
Waarvan hou julle die meeste van julle lewe daar?
Ons geniet die veiligheid. Ons gaan werk toe in die oggend en sluit nie ons deure nie. Ek sluit nie my kar by die werk nie. Ek doen inkopies en my handsak lê in die waentjie en ek is nie bekommerd dat dit gesteel gaan word nie. Ons voel asof ons geld iets werd is. En die beste is dat jy elke twee weke salaris kry!
Hoe vergelyk die lewenskoste met dié in Suid-Afrika?
Dis moeilik om te sê, maar as ons in Suid-Afrika gaan kuier, voel dit vir ons asof uiteet daar baie goedkoper is as hier in Nieu-Seeland. Toe my man gestudeer het, het ons hulp van die staat ontvang, en gedurende daardie tyd kon ons bekostig om ons eerste huis te koop, selfs al het ons net een salaris gekry.
Was dit maklik om nuwe vriende te maak en in te skakel in die gemeenskap?
Ons eerste goeie vriende was Suid-Afrikaners, maar ons het vinnig ingeskakel in ons gemeenskap en Kiwi-vriende ook gemaak. Die kulture is maar verskillend, so dit vat maar ʼn rukkie om daaraan gewoond te raak.
Wat is die grootste verskil tussen julle lewe daar en in Suid-Afrika?
In Suid-Afrika het ek altyd ʼn bediende en tuinman gehad; in Nieu-Seeland doen jy daardie werkies self. Kinders leer van kleins af om te help skoonmaak in die huis. Die skole plaas geen druk op die kinders om te presteer nie. Elke kind vorder teen sy/haar eie pas en hulle kry bykans geen huiswerk voor hulle in die hoërskool is nie. Hulle begin eers eksamen skryf in Jaar 10. Die kinders neem nie by die skool aan sport deel nie, maar by klubs. Die spanne word deur ouers afgerig. Die meeste van die rugby- en netbalwedstryde word in gietende reën gespeel, so dit was ʼn groot aanpassing.
Hoe lyk ʼn tipiese dag in jou lewe?
Ons staan tussen 06:00 en 07:00 op, drink ʼn koppie tee, maak klaar vir werk. Ek begin so 09:00 werk. Ek is ʼn bestuurder van ʼn kleuterskool, so my dag behels werk met ouers, onderwysers en kinders. Ek maak gewoonlik so tussen 16:30 en 17:00 in die middae klaar by die werk en dan sit ek op my stoep en tee drink en staar na die lieflike see-uitsig. Ek en my man maak sommer saam iets vir aandete en dan is ons so 21:00 in die bed. Oor naweke is ons doenig in en om die huis. Ek verf graag en ons gaan stap met die honde op die strand. In die somer gaan swem ons gereeld na werk in die see.
Wat mis julle die meeste van Suid-Afrika?
Ek mis die kleur van Suid-Afrika. Dit is altyd vir my opvallend hoe kleurvol Suid-Afrika is, vandat jy by die lughawe aanland. Nieu-Seeland is baie groen en pragtig, maar Suid-Afrika het ʼn bekoring en ʼn diversiteit wat min ander lande het. Natuurlik mis ons ons familie daar die heel meeste.