Uit en Tuis met De Wet Herselman

09/03/2017
| Deur Sue-Ann de Wet
uit-en-tuis-met-de-wet-herselman

Uit en Tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar nou weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met De Wet Herselman wat in Duitsland woon.

Vertel ons meer van julleself en waar julle woon.

Ons woon tans in die pragtige dorpie Bad Honnef net suid van Bonn en aan die oewer van die Rynrivier. Ek het vir 20 jaar in ’n korporatiewe omgewing in Pretoria gewerk, maar ek en Heleen het nog altyd van reis gehou. In 2011 het ’n ideale geleentheid vir ons opgeduik om ’n bietjie in Europa te kan bly en nader aan ’n klomp nuwe bestemmings te wees. Ek spot dikwels en sê: “Party mense koop ’n Harley Davidson in hul ‘mid-life-crisis’, ons het Duitsland toe getrek.”

Wat doen jy daar?

Ek is tans ’n vryskutdosent by drie universiteite.

Was dit moeilik om in ’n ander land aan te pas?

Dit is altyd moeiliker as wat ’n mens dink om in ’n ander land aan te pas. Simpel klein goedjies soos die gebrek aan Marmite, vleispasteie, biltong en bruismeel kan nog oorbrug word, maar die hartlikheid van eie mense, spontaan met vriende braai of Sondagmiddagetes met familie is weg. ’n Mens mis dit intens. Hier skeduleer jy ’n spontane braai drie maande vooruit! En verder dink ek veral in Duitsland is burokrasie ’n pyn in die jy-weet-wat! (Dit rym nogals.) Ek weet baie mense gaan oorsee met die houding van “ek wil net nie saam met Saffas kuier nie, ek wil die nuwe kultuur ervaar,” maar so af en toe is dit baie belangrik om wel in jou eie taal (Afrikaans en Engels) oor normale goed soos boerewors, braaivleis, die Blitsbokke, Proteas en Sharks te kan gesels. Hopelik binnekort ook weer oor die Bokke.

Wat is die lekkerste en slegste avonture wat jy al daar beleef het?

Vir my is die lekkerste bloot die fantastiese nuwe reisgeleenthede wat op jou voorstoep is. Die afgelope vyf jaar hier het ons werklik baie van Europa gesien en daar is nog baie om te sien. Ek was nooit as jonger mens erg oor geskiedenis nie, maar deesdae is dit vir my fassinerend om geskiedkundige plekke en ideologieë beter te verstaan. Oos-Duitsland en verder agter die Ystergordyn is fantastiese rondryplekke. In 2015 het ons vir drie weke op ’n “roadtrip” gegaan en deur groot dele van die Oosblok gery. Dit het ’n roete deur die Tsjeggiese Republiek, Krakow en Auschwitz, Slovakye, Hongarye, Kroasië en Slovenië ingesluit. Buiten verskeie korter reise het ons ook Italië, Spanje, Holland, Denemarke en natuurlik Duitsland al in detail deurgereis. (Kyk gerus na die ritverslae in my blog by http://www.aldiepaaie.com/.) Ons beplan om dié somer Portugal te gaan verken.

Slegte avonture is dat ’n mens met eenvoudige goedjies kan sukkel. Van belastingvorms en staatsdiensburokrate tot om ’n ordentlike dokter of tandarts te kry is net soveel meer frustrerend as in Suid-Afrika.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Ek mis grondpaaie, hetsy deur die Karoo, die Vrystaat of waar ook al. Ek mis “off-road” kampering. Juis op hierdie oomblik is my broer en goeie vriende in die Sentraal Kalahari – sonder ons. En ek mis natuurlik my mense, hetsy naby vriende, familie of sommer net die spul op Loftus wat dinge doen wat ’n mens vir so baie jare gewoond was – boerewors braai in plaas van bratwurst, byvoorbeeld.

Maar dis ook wyer as dit. Ons sien die meeste Suid-Afrikaanse sport. En as jy die diversiteit en ritme en vreugde van ’n vol krieket- of rugbystadion sien, besef jy dat Suid-Afrika wel ’n reënboognasie vol vriendelike mense is wat saam ’n beter toekoms wil hê, politici en boewe ten spyt.

Hoe het immigrasie julle geraak?

Hier by ons is die vlugtelingimmigrasie natuurlik tans ’n groot kwessie. En dit raak ’n mens wel. Jy is deesdae meer bekommerd oor jou kinders in die vroeë oggendure op openbare vervoer, maar die impak is tog steeds redelik klein in terme van die daaglikse lewe.

Wat ons eie situasie betref: ons het nie geëmmigreer nie. Ons is bloot Suid-Afrikaners wat tans in Duitsland woon. Maar om euro’s te verdien en pensioenfondse in euro’s te hê, is natuurlik ’n groot finansiële voordeel. Om wel te immigreer na ’n land soos Duistland het natuurlik ook die praktiese voordeel dat jy met ’n Duitse paspoort visumvry na omtrent 160 lande kan reis. As ons net Brittanje toe wil gaan, kos dit ons 125 euro vir ’n sesmaande-visum!

Wat geniet julle die meeste van die lewe in Duitsland?

Reis, nuwe ervarings, wye blootstelling aan ander denkwyses. Moenie my verkeerd verstaan nie; ek bedoel geensins Suid-Afrika is minderwaardig nie. Inteendeel, Suid-Afrika se bankwese is strate beter as Duitsland sʼn; Suid-Afrika se rookwette is ten minste 20 jaar voor hierdie ouens sʼn; Suid-Afrika se gelyke geleenthede vir byvoorbeeld bloot vrouens teenoor mans is strate verder gevorder as hierdie ouens s’n.

Was dit maklik om julle voete daar te vind?

Ek dink dit is redelik maklik, maar dit verg werk. En deel daarvan is om te erken wanneer jy verlang, mense te bel of mense hier op te soek. Die ander ding, en ek is so ’n bietjie skuldig dat ek dit nie goed genoeg doen nie, is dat ’n mens die nuwe taal moet leer praat. Dit is net soveel makliker om oor die weg te kom as jy wel kan kommunikeer. Die Saffas wat na Engelssprekende lande toe is, het beslis hier ’n groot voordeel.

Enigiets anders wat jy wil byvoeg?

Ek dink ek wil tog hier so ’n bietjie raad gee ook (dalk is dit galbraak). Mense doen dinge, soos om Suid-Afrika te verlaat, om verskillende redes. Baie mense is deur geweld geraak, deur afleggings as gevolg van Swart Bemagtiging, ens. Sulke mense het dalk rede om Suid-Afrika sleg te maak. En dan brand hulle waarskynlik brûe agter hulle. Maar baie mense gaan bloot uit nuuskierigheid of avontuurlus ’n bietjie weg. Dit is tog ’n positiewe ding waar mense leergierig en ervaringgierig is. Dit sê beslis nie dat daardie mense weghol of verraaiers is nie. Hulle het bloot opwinding gaan soek.

 

Deel op

Nuutste artikels