Uit en Tuis met Elsje du Toit in Dublin

05/09/2018
| Deur AfriForum Wêreldwyd
WW-uit-en-tuis-WEB-AFR

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat in die buiteland woon of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Elsje du Toit wat in Dublin, Ierland woon.

Vertel ons meer van julle en waar julle woon.

Ek en my man J.J. het albei op bitter klein dorpies grootgeword: ek op ’n plaas naby Petrusville in die Noord-Kaap, en hy op Ladybrand in die Oos-Vrystaat. Ons het mekaar by die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom ontmoet. Nadat ons albei klaar studeer het, het ons Bloemfontein toe getrek waar ek ’n verslaggewer vir Volksblad en Netwerk24 was, en hy ’n geoktrooieerde rekenmeester by EY. Ons het vyf jaar daar gebly en gewerk.

In Oktober verlede jaar het vriende van ons wat vir amper twee jaar al in Dublin bly, ons gekontak: EY Ierland soek mense om vir hulle te werk. Omdat ons graag die wêreld wil sien, het ons besluit J.J. moet aansoek doen. Ná talle Skype-onderhoude en -oproepe het hy einde November verlede jaar gehoor hy het die werk in Dublin gekry en dat hy voor einde Januarie 2018 moet begin werk. Inderhaas het ons by ons werke bedank, ons hele lewe opgepak en in ’n klein stoorkamertjie toegesluit, al ons geliefdes en vriende met groot hartseer gegroet en met net vier tasse op die vliegtuig geklim, want Europa het gewag.

Was dit ’n groot aanpassing?

Ek dink ek het baie moeiliker hier aangepas as J.J. Hy het dadelik begin werk en ’n roetine begin volg en maklik by die Ierse samelewing ingeval. Vir iemand soos ek, wat bitter lief is vir die son en lekker warm weer, was dit moeiliker. Dit was vir my baie erg om te besef dat ek my hele loopbaan in Suid-Afrika prysgegee het om net weer heeltemal van voor af hier in Ierland te begin. Ek moes van vooraf vir my ’n reputasie en portefeulje hier opbou – en dit in Engels! Maar gelukkig het my man se ondersteuning my deur die moeilike eerste paar weke gehelp. Ek het ’n internskap by ’n swangerskaptydskrif losgeslaan wat eindelik na ’n permanente werk gelei het.

Klimaatgewys was dit aan die begin hel. Ons het vanuit ’n bitter warm somer in Suid-Afrika gevlieg en hier in die middel van die winter geland. Ons het sneeustorms, soos Storm Emma en die Beast from the East, oorleef en sneeumanne gebou terwyl ons families in Suid-Afrika onder die lugverkoelers gelê het. Ek het die son erg gemis. Maar gelukkig is Ierland se koudste winter die afgelope 30 jaar gevolg deur die warmste somer en kon ek darem ’n hele paar keer my somerrokkies en kortbroeke dra.

Nou, sewe maande later, is ons al lekker ingeburger en dinge gaan goed. Maar daar gaan weke verby wat die verlange huis toe steeds bitter erg is.

Praat julle nog Afrikaans?

O ja! Ek en J.J. praat net Afrikaans met mekaar en ons hele vriendekring hier is Suid-Afrikaners. Wanneer ons bymekaar is, word daar net Afrikaans gepraat. Ek het gelukkig ook vir my ’n hele paar Afrikaanse boeke saamgebring om te lees. Maar by die werk en in die stad, wanneer ons met die Iere te doen het, pak ek my beste Karoo-Engels uit. Die lekkerste is dat niemand vir my lag nie! Inteendeel, hulle komplimenteer my pragtige Afrikaanse aksent.

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Dublin. Kom julle soms bymekaar?

Hier is vrek baie Suid-Afrikaners. Ek was verras om soveel van ons in een stad te kry. Ons eerste Sondag by die kerk het baie mense ons in Afrikaans gegroet en met ons begin gesels. Ons vriendekring bestaan uit sowat 20 Suid-Afrikaners. ’n Paar van hulle is Engelssprekend, maar die meeste van ons is Afrikaans. Ons kom gereeld bymekaar. Ons almal het juis die naweek per trein na Limerick gereis om die Cheetahs teen Munster in die Pro14-rugbyreeks te gaan kyk. Ons het vreeslik daarna uitgesien!

Wat was die vreemdste waaraan julle gewoond moes raak?

Vir my was dit die vreemdste om nie te antwoord wanneer iemand jou vra “How are ye?” nie (hulle sê “ye”, nie “you” nie). Aan die begin het ek altyd heel ordentlik teruggeantwoord dat dit goed gaan en nogal gevra “and you?”, maar dan het ek net ’n skewe, verwarde uitdrukking teruggekry. Ek het vinnig geleer dis net die Iere se manier van groet. Hulle stel nie eintlik belang in hoe dit met jou gaan nie. En buiten hul swaar Ierse aksent – wat nogal moeilik raak wanneer hulle met jou gesels – het hulle snaakse sêgoed en uitdrukkings wat ons nie altyd so mooi verstaan nie, soos “grand” (goed of aanvaarbaar – nie uitstekend of wonderlik nie) en “craic” (prettig of nuuswaardig).

Het julle nog kontak met Suid-Afrika en sal julle ooit terugkom?

Ons het nog baie kontak met Suid-Afrika. Al ons vriende en familie is nog daar. Ek het ook nog gereeld kontak met my oudkollegas. Danksy Facebook en ander sosialemediaplatforms is die wêreld heelwat kleiner en is dit baie maklik om nog met mekaar oor die water kontak te hou.

Of ons gaan terugkom… Dis nog te vroeg om te sê. Ons is nou maar eers sewe maande hier en J.J. se werkskontrak is nog vir die volgende twee en ’n half jaar geldig. My hart trek nog met ’n punt Suid-Afrika toe, maar met Europa hier op ons voorstoep en die eindelose geleenthede hier is dit moeilik om die vraag met ʼn vinnige “ja” of “nee” te beantwoord. So ek dink vra my weer oor so twee of drie jaar.

Kry julle kans om te reis?

Die beste van als is jy kan gou vinnig vir die naweek Spanje, België, Nederland of enige Europese land toe vlieg, en dit vir baie goedkoop. Ongelukkig moet Suid-Afrikaners geldige visums hê om al die lande te besoek en is dit ’n hekkie wat die pad na die res van Europa ’n bietjie meer uitdagend maak, maar dit kan gedoen word. Dis juis hoekom ons Ierland toe gekom het. Ons beplan nog heelwat vakansies na verskillende lande hier.

Wat geniet julle die meeste van julle lewe daar?

Die feit dat ek in die middel van die nag nog huis toe of winkel toe kan loop sonder om bang te wees en heeltyd oor my skouer te loer; dat ons voordeur net een slot het en ons vensters geen diefwering nie. Nie een van die huise hier het hoë mure of heinings nie, en die kinders speel nog tot laat in die aande in die strate en ry alleen fiets. Ek is maar steeds op my hoede – ek dink alle Suid-Afrikaners word so gebore – maar ek is baie meer gerus as ek alleen gou-gou ’n kilometer winkel toe stap as wat ek in Suid-Afrika was.

Hoe vergelyk die lewenskoste met dié in Suid-Afrika?

Dublin is een van Europa se duurste stede, dus is die lewenskoste hier hoër as in Suid-Afrika – veral in Bloemfontein. Kruideniersware kos ongeveer dieselfde as jy die pryse van euro na rand omskakel, maar verblyf kos amper vier keer meer as wat ons verlede jaar betaal het – en dit vir ’n woonstel wat baie kleiner is. Dis ook baie duurder om ’n aand uit te gaan hier of om te gaan fliek. Omdat ons nog net ’n paar maande hier bly, skakel ons steeds gereeld pryse om na rand. Dit kan tot groot skokke lei as jy daagliks vir jou middagete €5 betaal, of €10 vir ’n gewone bottel sjampoe. Ek probeer myself heeltyd daaraan herinner dat ons darem nou ook euro verdien en nie meer rand nie.

Wat mis julle die meeste van Suid-Afrika?

Kosgewys is ek so lus vir braaivleis, biltong en droëwors soos wat ek nou hier sit, ek sal letterlik enigiets doen om dit in die hande te kry. In Suid-Afrika het ons elke liewe naweek gebraai. Hier barbeque hulle net ’n klomp patties, varkworsies en hoendersosaties – 20 minute en die “braai” is klaar. Ek mis veral ’n hele aand saam met vriende en familie om die braaivleisvuur, die rook wat in jou hare en klere intrek, en die sissende klank van die lekker skaaptjoppie en boerewors op die rooster.

Nog iets wat ek baie mis, is die oopte van die Vrystaat. Maar ek dink dis omdat ek op ’n plaas grootgeword het. Hier in Ierland is die huise vreeslik opmekaar gebou en die strate maar nou.

Wat is die belangrikste les wat jy uit die emigrasieproses geleer het?

Dat jy met soveel minder kan klaarkom as waaraan jy gewoond is. Hier het ons nie ’n kar nie, maar twee fietse. In Suid-Afrika het ons elkeen ’n kar gehad waarmee ons letterlik oral gery het: of die winkel nou ’n kilometer van die huis af was of verder – ry het ons gery.

In my kombuis in Suid-Afrika het ek baie potte, panne, eetgerei, borde, glase, skerp messe en koppies gehad. Ons kon elke keer wanneer ons kosmaak ’n nuwe pot of pan daarvoor gebruik. Nou het ek een pot, een pan, vier van al die ander eetgerei, ’n klein yskassie, ’n mikrogolfoond, ’n stoof, oond en ’n ketel. Ons rooster maar ons brood onder die oond se element en kook maar kos wat jy in net ’n pot en pan kan maak, anders was jy aanhoudend skottelgoed.

En wees dankbaar vir elke liewe sekonde van sonskyn. Wanneer jy eers hier bly, mis jy die uitmergelende somers van Suid-Afrika.

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels