Uit en tuis: ’n e-pos uit Aberdeenshire

26/05/2023
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Foto-VisitAberdeenshire

Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het en weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Christine Vivier wat ’n laerskoolonderwyseres is in Aberdeenshire in Skotland.

Hallo, Christine. Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Ek kom oorspronklik van Pretoria. Nadat ek my graad in toerisme aan die Universiteit van Pretoria voltooi het, het ek vir ’n rukkie in die luuksetoerismebedryf in Suid-Afrika gewerk. Dit was pret, maar ek wou iets meer betekenisvol doen. Dit is toe ek besluit het om ’n werk te aanvaar by ’n organisasie in Bloemfontein wat opleiding aan individue en ondernemings verskaf. Die lewe was goed, maar ek wou verder verken en meer leer. Intussen het my dapper en wonderlike suster, ’n verpleegster, ’n paar jaar gelede besluit om saam met haar man in Skotland te gaan woon en werk. Ek het besluit om in haar voetspore te volg en is vir ’n wersvakansie Skotland toe. My droom was eintlik om verder te studeer, maar daarvoor het ek geld nodig gehad. Waar ek uiteindelik in my lewe beland het, kon ek nooit voorsien het nie. Ek het nie ’n duidelike plan gevolg nie. Wanneer avontuur roep, antwoord jy net!

Vertel ons meer van jou gesin.

Ek is in 2005 Skotland toe vir ’n werkvakansie. Gedurende dié tyd het ek my man ontmoet. Hy was destyds ’n student by Imperial College in Londen, besig met sy doktorsgraad in Ingenieurswese. Ek was ’n kelnerin by die Gleneagles-hotel in Skotland. Hy is van Colombia, so toe ons besluit om te trou, moes ek Colombia toe gaan om sy familie te ontmoet. Ek moes Spaans leer om met my skoonma te kon praat. Die romanse was nie eintlik deel van my planne nie; ek was besig om geld te spaar om verder te swot. Maar ons is in 2007 tydens ’n klein seremonie in ’n kasteel in Pitlochry getroud; net ons naaste familie en vriende was daar. Ons eerste woning was ’n baie duur en baie klein eenslaapkamerwoonstel in Londen.

Julle woon sedert 2005 in Skotland. Vertel ons hoe het jy die emigrasieproses ervaar het. Was dit ’n groot aanpassing?

Die immigrasieproses was werklik baie stresvol. My man was ’n student en afkomstig van ’n land met ’n baie slegte internasionale reputasie. Ons weet almal wat mense dink as hulle van Colombia hoor – dit gaan nie net oor koffie nie! Toe my ouers uitvind ek gaan met ’n Colombiaan trou, was hulle ook baie bekommerd. Maar hulle het regtig nie rede gehad om te wees nie! Dit was die begin van ’n ongelooflike avontuur wat my na ’n ander pragtige deel van die wêreld sou neem, gevul met pragtige, vriendelike mense en my wonderlike aangetroude familie!

Vanweë ons unieke situasie het ons gedink dit sou ’n goeie idee wees om Breytenbachs te gebruik om ons met ons immigrasie-aansoek te help. Ons het so baie verskillende visums gehad! Eerstens was ek ’n student-afhanklike, en toe my man ’n werk as ’n dosent in siviele ingenieurswese in Edinburgh kry, is ek geklassifiseer as die afhanklike van ’n Tier 1-visumaansoeker. Elke paar jaar moes ons ons visum verander. Dit het duisende ponde gekos – geld wat ons die meeste van die tyd nie gehad het nie!

Ek het steeds slapelose nagte wanneer ek iets moet doen wat met paspoorte en visumaansoeke te doen het. Die mees stresvolle deel was dat hulle die reëls kon verander net wanneer hulle wou. Ons het nooit regtig ’n gevoel van permanensie gehad nie, en sommige visums se voorwaardes het dit vir my onmoontlik gemaak om te werk. Dit was baie moeilik. Ek het baie vrywillige werk gedoen in daardie tye. Toe ek kon werk, het ek drie poste gelyktydig beklee om ’n groot genoeg inkomste te hê sodat my man sy studies kon voltooi.

Alles was werklik ’n groot aanpassing. Die ervaring was amper soos ’n kopoorplanting – dit verander jou op ’n manier wat jy nie kan beskryf nie. As ’n immigrant begin jy onder as jy nie briljant is in wat jy doen nie. Mense wat besluit om die skuif te maak, moet bereid wees om werk te doen wat moontlik nie in hul ervaringsveld is nie.

Openbare infrastruktuur en ondersteuningstelsels kan ’n lewensredder wees vir ’n nuwe immigrant. Ek het vroeër biblioteek toe gegaan om koerante te lees en gratis boeke te kry en selfs om geld te spaar op verhitting. Jy kan klere en selfs meubels goedkoop by liefdadigheidswinkels koop. Daar is ook ’n toep genaamd Olio waar jy baie kos gratis kan kry.

Hoe verskil die onderwysstelsel in Skotland van dié in Suid-Afrika?

Die onderwysstelsel in Skotland volg die Curriculum for Excellence. Dit is ’n benadering wat op vaardighede gebaseer is en hulle lê sterk klem op versoening. Dit is belangrik om te verstaan dat Skotland sy eie Onderwysraad en -reëls het. Mense wat in Engeland wil skoolhou, moet ‟qualified teacher status” hê. As ’n onderwyser word van jou verwag om aan te hou leer en om voortdurend oor jou metodes te reflekteer. Alle onderwysers word aangemoedig om baie opleidings- en ontwikkelingsgeleenthede by te woon. Die opleiding wat ek in die openbare stelsel ontvang het, is van wêreldgehalte!

Die Engelse stelsel het meer toetse en papierwerk. Onderwyseres moet ook pouses diens doen. Sommige mense verkies die Skotse stelsel bo die Engelse stelsel om onder andere dié redes.

Daar is baie roetes na die onderwysberoep, maar kyk baie sorgvuldig en doen deeglike navorsing voordat jy besluit om hier te kom skoolhou. Op die oomblik is daar ’n oormaat van onderwysers. Baie Skotse onderwysers is werkloos. En moenie dink ’n Skotse graad gaan dinge makliker maak nie. Onthou, universiteite is ook ondernemings …

Om vir ’n onafhanklike skool te werk is nie noodwendig beter as om in ’n openbare skool te werk waar jy meer regte en beskerming as ’n werker kry nie. Wees versigtig vir plekke wat van buite baie weelderig lyk, maar dan is dit eintlik net skyn. Ek het hartseer stories gehoor van mense wat baie erg benadeel is in die privaat skoolstelsel. Weereens: Doen behoorlike navorsing!

Jy het ook verder gestudeer aan die universiteit van Edinburgh. Vertel ons meer. Het jy enige raad vir mense wat in die buiteland wil studeer?

Ja! Dit was ’n droom wat waar geword het! Voordat ek met my man getrou het, het ons ’n belofte aan mekaar gemaak: Ek sou hom help om sy studies te voltooi en dan sou hy dieselfde vir my doen wanneer die tyd aanbreek.

Dit is net ongelooflik om te dink dat ek in dieselfde plek as onder andere Charles Darwin, Arthur Conan Doyle en JK Rowling studeer het. Ek het letterlik gevoel asof ek in die voetspore van reuse stap!

Daar is baie dinge om in ag te neem as jy by ’n internasionale universiteit wil studeer:

  • Die koste. Ons het nie die geld gehad nie, maar my man het ’n lening uitgeneem. Hy kon dit doen vanweë sy werk.
  • Die plek. Dink baie mooi waar jy wil studeer. Nie alle universiteite is ewe goed nie. Dit is beter vir jou om toegang te kry tot een van die top 15 universiteite vir jou gekose veld in die Verenigde Koninkryk. Moenie net enige plek studeer nie. Waar jy studeer, kan jou werksvooruitsigte en ander dinge beïnvloed. Voornemende werkgewers weet watter universiteite die beste is.
  • Jy moet goed voorbereid wees om deur jou gekose universiteit aanvaar te word. Die eerste ding wat jy kan doen, is om as vrywilliger in jou belangstellingsveld te werk. Jy moet ook belangrike ontwikkelings in jou veld in die Verenigde Koninkryk ondersoek. Dit sal jou voorberei vir die onderhoud.
  • Laastens (en ek dink ek moes dit eintlik eerste genoem het!) hang dit af van hoe jy in jou eerste graad of op skool presteer het. Niks is beter as goeie punte en harde werk nie.

Jy het genoem dat julle ’n 11-jarige dogter het. Praat sy Afrikaans?

My dogter ken ’n paar woorde en sinne in Afrikaans. Sy is lief vir haar Afrikaanse oupa en ouma en is baie gelukkig om ook haar Afrikaanse tante en niggies naby te hê. As gevolg van ons unieke situasie en omdat daar nog ’n taal, naamlik Spaans, betrokke is, fokus ek en my dogter op Spaans. Baie mense in my man se familie kan nie Engels praat nie, insluitend my dogter se ouma. Vir die behoud van internasionale vrede en gelukkige familieverhoudings fokus ons dus op Spaans. Ek is seker Silvia sal Afrikaans leer praat as sy ouer is. Dit lyk asof sy tale baie vinnig aanleer. Sy geniet beslis haar sport en is ’n sonskynkind wat gelukkig is buite in die natuur. Ons kampeer baie in die somer en maak die beste van die twee weke sonskyn wat ons elke jaar hier in die hooglande kry waar ons woon. (Dis net ’n grappie! Ons het darem nie net twee weke sonskyn nie, maar die weer is baie koud en nat!)

As jy kon teruggaan in tyd, wat sou jy nog in jou tas gepak het voordat jy Suid-Afrika verlaat het?

Minder klere en grimering! Hier in Skotland is mense nie so bekommerd oor grimering en mooi hare nie. Die weer is regtig sleg en winderig en die haarkapper is baie duur. Die meeste mense dra praktiese klere en skoene. Behalwe as hulle vir die aand uitgaan – dan maak hulle op vir al die tye wat hul hulself nie kan opdollie nie. Maar as ’n nuwe immigrant sal jy natuurlik in elk geval nie veel kan uitgaan nie. En as jy besluit om in jou praktiese klere uit te gaan, sal niemand minder van jou dink nie. Ek onthou toe ek hier in Skotland aangekom het met twee tasse, het die eerste plek waar ek gebly het ’n gat in die muur gehad en die winter was ysig koud!

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika en hoe gereed sien julle familie mekaar?

Die ding wat ek die meeste mis, is die sonskyn! ’n Mens besef nie hoeveel die sonskyn jou gesondheid en emosionele toestand kan beïnvloed nie. Elke jaar in Februarie voel ek baie terneergedruk. Ek dink dit is omdat die winter so lank, koud en donker is. Die son kom om 08:00 op en gaan om 15:00 weer onder. Om dit vir maande aaneen te beleef, is regtig vir enigiemand ’n toets!

Die ander ding wat ek mis, is die reuke, geluide en geure wat jy net in Suid Afrika kry. En natuurlik die mense! Die mense wat vir mekaar oor die straat skree of sommer sing terwyl hul werk, wat vriendelik en vol geloof is, wat hul harte op hul moue dra en weerbaar is, maak nie saak wat die lewe inhou nie …

Ek sien regtig daarna uit om my familie binnekort te sien. Die laaste keer wat ek in Suid-Afrika was, is 16 jaar gelede en ek beplan om vanjaar te gaan. Ek kan myself nie voorstel hoe ek sal voel nie en ek is so opgewonde om my hele familie te sien! Ons sal vir die eerste keer in baie, baie jare almal saam wees. Dit is die prys wat jy betaal wanneer jy besluit om in ’n ander land te gaan woon. Dit maak dit moeiliker dat ons ook aan Colombia en die mense wat daar woon moet dink en nie net aan Suid-Afrika nie. Ons moet ons tyd tussen twee plekke verdeel, maar dit maak die lewe interessant!

LEES OOK: Uit en tuis: Boerekaskenades in Erlangen, Duitsland

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels