Uit en tuis: ’n e-pos uit Florida

27/05/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
WhatsApp-Image-2024-05-02-at-19.22.08_3d08cdc3

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Nicolene Coetzee, wat vir twee jaar in Florida gewoon en gewerk het as au pair.

Hallo, Nicolene! Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik en waarom het jy besluit om vir twee jaar in Florida te gaan au pair?

Ek het grootgeword in Pretoria. Ek was in Hoërskool Oos-Moot. Daar was ek in 2020 in matriek. Aan die einde van 2021 was ek op soek na ’n nuwe uitdaging. ’n Ondervinding vol avontuur, nuwe perspektief, iets ongewoon en wat my as mens meer selfstandig sou maak. Op die ouderdom van skaars 20 het ek besef dat ek niks het om te verloor nie. Ek moet probeer! Dit was vir my ’n reusegebedsaak gewees. Ek het gebid vir ’n werk wat my hart sal vul, wat my sal uitdaag en gelukkig laat. Min het ek geweet dat die au pair-pos die seëning sal wees.

Vertel ons meer van die gesin vir wie jy gewerk het.

Hulle is sulke hartlike mense! Albei ouers (van die dogtertjie wat ek opgepas het) is in hul 30’s. Dit was meer asof ek saam met “vriende” gewerk of gebly het. Hulle het een dogtertjie, Charlotte. Sy was so twee en ’n half jaar oud toe ek daar begin werk het. Sy is werklik een van die kosbaarste geskenkies waarmee ek nóg in my jongmenslewe geseën kon word. Sy het my baie herinner aan myself as kindjie, en om tyd elke dag saam met haar te kon deurbring het my soveel geleer en my hart so opgevul.

Hoe het  jou tipiese dag as au pair verloop? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd gekry om te ontspan/reis?

My tipiese dae het begin met almal saam wat ontbyt eet. Soos ’n regte gesin kon ons heel gemaklik nog in ons slaapklere en deurmekaar hare saam ontbyt maak. Dan tussen my en die ma, Lana, kry ons vir Charlotte reg vir skool. Charlotte gaan dan so drie of vier ure skool toe om maatjies te sien en bietjie te speel. Ná skool het sy ballet gehad, of anders het ek haar na ’n maatjie se huis toe gevat, of ons het gaan rondloop in die winkels. Sy is ook baie lief vir perdry. Sommige middae het ons ’n piekniekmandjie gepak en piekniek gaan hou. Ons was lief daarvoor om iets saam te bak ook. ’n Biblioteek was een van Charlotte se gunstelingplekke om heen te gaan. Sy is mal oor storieboeke. Die biblioteke in Florida is omtrent groot!

Elke dag was anders wat aktiwiteite aanbetref. Swem, buite speel, bak en brou, lees, met klei speel, verf, knip en plak, op die strand gaan speel en skulpies optel, na speelparke toe gaan, skilpaaie gaan soek, stap, fietsry en trampolien spring – daar was werklik nie kans gewees vir ’n vervelige oomblik nie. Haar ouers is nie groot voorstanders van televisie kyk nie. Daarvoor was ek baie dankbaar. Ons was elke dag besig met pret. Ek het natuurlik naweke af gehad. Die meeste naweke. My skedule met Charlotte het behels dat ek 45 ure ’n  week “werk”. Dit het nie gevoel soos werk nie. Dit was ’n ondervinding waar my hart vir kinders net groter en groter gegroei het. Sommige dae was rustiger as ander. Ek het ook twee weke verlof per jaar gekry wat ek dan opverdeel het.

Wanneer ek verlof of ’n naweek af gehad het, het ek na ander state heen gereis en Amerika en sy karakter verken. Die eerste keer wat ek alleen na ’n ander staat toe moes vlieg was maar vreemd en vreesaanjaend. Ná ’n rukkkie het dit wel ’n gereelde plan van aksie geword – ek sou ry tot by die lughawe, my kar parkeer en vlieg. Wanneer ek terugkom het ek net weer huis toe gery, want dit was goedkoper as Uber. Ek het ten minste altyd daar waarheen ek gevlieg het vriende gemaak, en verbasend ook ander Suid-Afrikaners raakgeloop. Dit was die hoogtepunt van elke reis – om altyd iewers iets Suid-Afrikaans te sien of hoor.

Was dit moeilik om aan te pas in Florida, of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?

Dit is nie altyd maklik om aan te pas nie. Ek het dit net dag vir dag gevat. Die grootste uitdaging was om nét Engels te praat. Jy kom nie altyd op die regte woord nie en is maar meer skaam. Ná die eerste maand of wat het ek meer gemaklik Engels gepraat. Daar is ’n  verskil tussen Engels hoor of lees en om nou en dan iets in Engels te moet sê. Maar om in ’n land te wees waar jy nie ’n Afrikaanse woordjie elke dag kan laat val nie, was ’n uitdaging. Die meeste vriende wat ek gemaak het was die van die kerk waarin ek was, SoFlo Church, asook ander Suid-Afrikaanse mense. Daar is heelwat wat op seiljagte en by “country clubs” werk.

Wat het jy die meeste gemis van Suid-Afrika terwyl jy in Florida was?

Ek het definitief ons humor gemis! Ek het my ma se kos verskriklik gemis. Verder het ek ons taal, my vriende, familie en woefies gemis. Ek het seker die heel meeste na my sussie verlang. Ons het ’n baie spesiale verhouding.

Watter interessanthede het jy ontdek van Florida wat jy nie voorheen geweet het nie?  
Die lemoen is Florida se amptelike vrug.

Jy het genoem dat jy heelwat Suid-Afrikaners in Florida teëgekom het. Vertel ons meer.

Daar was soveel van ons wat op die seiljagte gewerk het asook in die “country clubs”. Daar was ook rugbyklubs gewees en ’n restaurant, Dutchy’s Gourmet Sausages, wat deur Suid-Afrikaners besit word. Ek het al hoe meer begin oplet na mense se aksente en op dié manier ook ’n paar uit die bloute raakgeloop. Dit was sulke oomblikke wat my so trots gemaak het om ’n Suid-Afrikaner te wees. En toe dit tyd was vir die Wêreldbekerrugby, was daar ook sportkroeë gewees wat soveel van ons bymekaar gebring het.

Hoe het jy verhoudings met jou familie en vriende behou terwyl jy vir twee jaar weg van die huis af was?

Te danke aan tegnologie kon ek gereeld met my familie en vriende kommunikeer. Video-oproepe was die naaste aan mekaar sien. My familie was so ondersteunend. Kersfees en verjaarsdae was vir my beide lekker en moeilik. Ek het gevoel dat ek Kersfees vier saam met mense wat nou al soos familie voel, maar tog was my hart ook bietjie seer om nie my mense te sien nie.

Suid-Afrikaners moet al meer paraat wees wanneer hulle van ’n middelman gebruik maak om veral werkvisums te bekom. Talle agentskappe maak vals beloftes en verdwyn dan sak en pak met deposito’s, of hulle doen net die helfte van die werk wat nodig is vir ’n visum. Watter wenke kan jy vir iemand gee wat ook wil au pair in die buiteland?

As jy gebruik maak van ’n agentskap, praat eers met mense wat al deur hulle gewerk het. Maak seker hulle voeg daad by hul woord. Van daar af maak seker al jou eie papierwerk waarvoor hulle vra is op datum, en hou gereeld kontak om seker te maak dat almal op dieselfde bladsy is.

Hoe verskil die kossoorte in Florida van dié in Suid-Afrika?

In Florida is daar meer Suid-Amerikaanse invloed op die kos. Jy het maar jou Italiaanse, Franse en Chinese invloede, maar dis meer Mediterreense tipe kos. Dit is ongelooflik lekker! Hulle pizzas bestaan meer net uit kaas en pepperoni. Jy gaan ver moet soek as jy iets soos hoender, sampioene, pynappel, soet chilli en feta op ’n pizza wil sien. Daar is maar ook KFC en Domino’s Pizza. McDonald’s is ook orals beskikbaar.

Wat het jy in Florida gedoen vir ontspanning?

Vir ontspanning het ek in die see gaan swem. Ek het mooi seker gemaak ek aanvaar dit nie as vanselfsprekend om naby die see te bly nie. Ek het ook baie gaan draf. Die meeste van my af dae was ek maar op die strand gewees.

Interessante feite oor Florida:

  • Florida het die langste kuslyn van die hele VSA-kontinent.
  • Florida het omtrent 8 000 mere.
  • Die wêreld se eerste geskeduleerde passasiersvlug het in Florida plaasgevind.

Jy het genoem dat jy by ’n kerk aangesluit het. Hoe het dit jou gehelp om aan te pas in ’n vreemde land en jou geloof te behou?

Die kerk waarby ek was het my so welkom laat voel. Dit het van die begin af soos ’n familie gevoel. Ek was deel gewees van die bekendstellingspan. Die kerk het eers amptelik geopen toe ek sewe maande daar was. Ek het ook deel gevorm van die “worship”- span en die kinderbediening. Daardie liefde en ondersteuning wat ek daar ervaar het, het my gemaklik en veilig laat voel om vrywillig deel te wees. Ek het vriende gemaak wat vir ewig ’n impak op my hart gemaak het. Die beste besluit wat ek ooit kon maak was om gedoop te word in die see – wat ook my gunstelingplek op aarde is. 

Jy het genoem dat jy die VSA Ope in Miami gaan kyk het in 2022. Vertel ons meer daarvan.

Wat sport aanbetref is ek ’n groot tennisondersteuner. Ek het die VSA Ope in Miami gaan kyk in Maart 2022. Daar het ek Novak Djokovic, Andy Murray, Carlos Alcaraz en Jannik Sinner gesien. Serena Williams se dogter was ook in ’n skool naby aan waar ek gebly het, so ek het haar ook gereeld gesien. Coco Gauff het ook gereeld geoefen en gespeel op die Delray Beach-tennisbane.

Was dit moeilik om weer aan te pas in Suid-Afrika toe jy hierheen teruggekeer het?

Dit was sommige dae makliker as ander gewees om terug te wees. ’n Mens mis maar die familie aan daardie kant en ek mis ook vir seker die vriende wat ek gemaak het. Maar hoe langer ek terug is, hoe meer waardeer ek dit net om terug te wees. Ek vat dit dag vir dag en voel geseënd om ’n huis met my hartsmense aan albei kante van die wêreld te hê.

Enige lesse wat jy geleer het?

Eerstens, om die Here in jou hart te hê, is al wat jy ooit sal nodig hê. Dan, om al jou hartsbegeertes en wil vir Hom te gee en te sien hoe Hy jou lewe in oorvloed seën. Ook, dat om te reis die doeltreffendste manier is om jouself beter te leer ken. Ek het geleer dat die gras nie altyd groener aan die ander kant is nie, maar net groener is daar waar jy Liewe Jesus in jou lewe toelaat.

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels