Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het en weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Gerhard van Eeden wat in Ierland woon.
Hallo Gerhard, van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Ierland te gaan woon?
Ek is oorspronklik van Uitenhage in die Oos-Kaap, en my vrou, Marilé, is van Harrismith in die Vrystaat. Ons het al twee vir dieselfde Groot 4-firma gewerk en apart Ierland toe gekom vir werkservaring en reisgeleenthede. Ons het mekaar eers hier ontmoet in 2019. Dis eintlik ’n mooi storie, ’n tipe wonderwerk. Ons het al twee aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer. Ek is twee jaar ouer as Marilé, so ons tyd daar het ietwat oorvleuel. Ons het baie gemeenskaplike kennisse, maar het mekaar nooit geken nie. Ons al twee se pa’s is ook predikante, so ons het baie eenders grootgeword. Ons het as twee vreemdes hier aangekom met die intensie om ’n jaar of twee te bly. Ons het mekaar toe in Dublin gevind, en die res is … wel, geskiedenis.
Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland en was dit vir julle ’n kultuurskok?
Die Iere is eintlik baie dieselfde as ons Suid-Afrikaners. Daar is kultuurverskille, maar daar is baie meer ooreenkomste. Die grootste kultuurverskil vir my is die feit dat almal hier eers 09:00 in die oggend begin werk. Die kinders se skole begin ook eers dan. Mense werk gevolglik later in die aande en loop selde voor 18:00 by die werk. Ek is een wat vroeg opstaan en my dag begin, so dit was iets waaraan ek moes gewoond raak. Ek het egter vinnig geleer om baie goed in die oggend voor werk te doen en nou kry ek baie meer dinge gedoen.
Vertel ons watse werk julle doen en hoe die werkskultuur in Ierland verskil van dié in Suid-Afrika.
Ek is ’n geoktrooieerde rekenmeester en werk vir ’n Amerikaanse privaat ekwiteitsbatebestuurder in hulle Dublin-kantoor. Ek is deel van die span wat verslag doen oor Europese finansies. Marilé het bedryfswiskunde en informatika geswot en haar meestersgraad in kwantitatiewe risikobestuur gedoen. Sy werk by een van die grootste Amerikaanse tegnologiemaatskappye se Europese hoofkantoor hier in Dublin. Sy is deel van die span wat verantwoordelik is vir die oorhoofse, globale kredietstrategie en risikobestuur rakende die inkomste van die maatskappy.
Buiten vir die werksdag wat later begin, is die werksomgewing hier baie meer internasionaal en multikultureel. Ons kan op enige gegewe dag met mense van tot 10 verskillende lande om ’n tafel sit. Dis baie stimulerend en interessant, maar jy moet baie vinnig leer om kulture en gewoontes te aanvaar en daarmee saam te werk.
Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?
Alhoewel die openbare vervoer in Ierland nie van die beste in Europa is nie, gebruik mense dit baie. Daar loop heeldag busse, treine en trems. Baie mense ry ook fiets werk toe en ’n mens kan na baie plekke toe stap. Daar is ’n aktiewe buitelewe as die weer dit toelaat. Mense is ook baie lief vir hulle honde en gaan stap elke dag met hulle. Dan drink hulle sommer ook koffie langs die pad en stop en gesels met kennisse. Daar is ’n gevoel dat jy deel is van ’n gemeenskap wat jy nie oral in die wêreld ervaar nie. Die lewenskoste is hoog, maar so ook die salarisse. In Europa is daar grotendeels minder ongelykheid in inkomste as in Suid-Afrika. Behuising is wel baie duur en skaars en dis ’n lang en moeilike proses om ’n huis te koop in Ierland.
Was Ierland se klimaat ’n groot aanpassing?
Die waarheid is dat Ierland nie so koud word nie, en veral Dublin, waar ons bly, kry nie so baie reën soos die weste van die land nie. Bloemfontein se winters is beslis kouer as die meeste wintersdae in Dublin, en dis verseker nie so koud soos byvoorbeeld Amerika en Kanada nie. Die bewolkte wintersdae kry ’n mens soms onder, maar daar is ook altyd ’n sonskyndag tussenin en die somers is baie lekker. Ons braai baie in ons tuin en kom regtig baie buite. Die belangrikste ding vir die winter is ’n goeie, waterdigte, warm baadjie met ’n kappie. Sambrele help nie baie nie, want die wind buig dit binne die eerste week in Februarie agteroor.
Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie vantevore geweet het nie?
Daar is baie om hier te noem, en ons leer elke dag nog. Die Iere het baie pittige sêgoed, byvoorbeeld: “It’s grand.” (Alles reg.), “Good craic.” (Goeie tye.), “It’s gass/class.” (Dis goed.) ’n Mens leer maar heeltyd nuwe goed van hulle. Hulle het 32 graafskappe (“counties”) wat soos ons provinsies is, en mense is baie trots op waar hulle vandaan kom. Die Ierse aksent is baie mooi en verskil ook soos ’n mens in die land rondbeweeg. Jy leer maar gedurig nuwe goed oor hulle en sien die ooreenkomste en verskille met Suid-Afrikaners. Dis net wanneer jy elke dag tussen die Iere lewe dat jy al hierdie goed kan sien. ’n Kort vakansie is nie genoeg tyd om werklik die mense te ervaar en te waardeer nie. Ons moet erken dat die Iere baie innemend en vriendelik is. En omdat Suid-Afrikaners met so ’n mooi aksent Engels praat, vind ons baie goed aanklank by hulle. Ons hoor gereeld: “You South Africans have a great accent!” en dan begin hulle praat oor rugby en daar gaan ons …
Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Ierland. Kom julle soms bymekaar?
Ons het ’n goeie netwerk Suid-Afrikaanse vriende, onder andere ’n paar baie goeie vriende wat ons gereeld sien. Daar is baie Suid-Afrikaners in ons kerk ook. En ja, ons predikant is van Suid-Afrika! Ons het egter ’n baie definitiewe punt daarvan gemaak om so ver as moontlik met die gemeenskap te integreer en nie net met Suid-Afrikaners vriende te wees nie. Ons is baie bewus van wie ons is en praat net Afrikaans by die huis, maar ons het ’n groot Ierse vriendekring ook. Ons het ook naby vriende uit Spanje, Italië, Duitsland, Pole en ander lande. Ons wys baie min geleenthede om in die gemeenskap betrokke te wees van die hand. Ons dien by die kerk saam met die Iere en ons woon gereeld liefdadigheidsfunksies, konserte en spesiale geleenthede in die stad by. ’n Mens moet versigtig wees om nie net met jou eie mense te meng nie, want so mis jy baie geleenthede om te groei en te leer.
Vertel ons van julle stokperdjie wat onlangs in ’n besigheid verander het.
Ons het ’n sebravel vir ons sitkamer van die huis af gebring. Dit was nie maklik om Marilé te oorreed om die vel as ’n mat te aanvaar nie, maar dis nou een van die gunstelingitems in ons huis. Almal wat hier kom, vat altyd aan die vel en veral aan die sebra se ore. Dis regtig iets wat uitstaan. Ons is ook baie lief vir antieke meubels en baie van die groot meubelstukke in ons huis het ’n storie. Party het ons by ’n antiekwinkel vir afslag gekoop en herstel en ander het ons by iemand gekry wat dit wou weggooi. Ons sit toe ons koppe bymekaar en besluit om ons liefde vir unieke goed met ons liefde vir Suid-Afrika te kombineer en daarmee ’n klein onderneming as ’n bybaantjie (“sideline”) te begin, eintlik meer net vir die lekker as iets anders. So is Vic & Vee Interiors begin. “Vic” kom van Marilé se nooiensvan “Victor” en “Vee” van my van “Van Eeden”. Nou voer ons Nguni- en sebravelle in van Suid-Afrika af. Marilé het ’n klein onderneming in Johannesburg gevind waar ’n vrou haar werk tydens Covid verloor het en toe begin kussingslope maak het van shweshwe-materiaal. Nou het ons al ’n paar stukkies van Suid-Afrika in Ierland geplaas! Ons huis is vol Afrika-goed en ons geniet die onderneming baie al is dit net ’n klein stokperdjie wat ons so in die agtergrond besig hou. Van ons velle word nou in een van ons gunstelingantiekwinkels verkoop waar die eienaar ’n goeie vriend geword het. Ons het ook ons eie aanlyn winkel gebou. Hierdie dinge hou ons na aan Suid-Afrika en deel van die ekonomie, selfs al is ons ver.
Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat julle graag ondersteun?
Ons ouers bring altyd vir ons goed soos Mrs. Balls-blatjang en All Gold-tamatiesous saam, so ons gaan nie pertinent uit ons pad om daardie tipe goed te kry nie. Maar daar is een winkel wat deur ’n Marokkaan besit word waar ons Iwisa-mieliemeel koop. Mieliepap is iets waarvoor ons baie lief is, so ons kry ons dosis daar. Daar is ook een produk wat ons amper elke week koop, en dis boerewors wat deur die voormalige Leeus-rugbyspeler, Louis Ludick, gemaak en verkoop word. Hy het ’n goeie onderneming, en sy boerewors word in een van die kettingwinkelgroepe hier verkoop. Hy bly in Noord-Ierland, so twee uur van Dublin af. Julle kan gerus Hellbent-boerewors gaan soek. Dis lekker!
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Wat is die één ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?
Al wat ons regtig mis, is ons families wat ons natuurlik meer sal wil sien. Maar hier is alles wat ons nodig het en omdat ons gereeld Suid-Afrika toe gaan, kry ons alles waarvan ons hou daar. Goed soos Old Khaki-hemde, Puma-vellies en natuurlik goed van alle vrouens se gunsteling, Woolies.
Enige lesse wat julle geleer het?
Ons het geleer dat Suid-Afrikaners oor die algemeen bogemiddelde mense is. Ons is Suid-Afrikaners in murg en been en ons is bevoorreg om mekaar te kon vind hier in die buiteland, maar dis nie altyd maklik nie. Baie Suid-Afrikaners dink die lewe is net maklik hier “waar als werk” en dat Suid-Afrika en sy probleme uniek is. Dis nie waar nie. Elke keer wanneer ons teruggaan Suid-Afrika toe, sien ons die fantastiese entrepreneurs, vriendelike mense, dokters en ondernemings wat ’n groot sukses maak ten spyte van al hulle uitdagings. Ons landboubedryf, banke, privaat hospitale en baie ander instansies is van die bestes in die wêreld. Daar is min lughawens waardeur ons gaan wat so goed werk soos OR Tambo en waar die mense so vriendelik is en die diens in die koffiewinkels so goed is. Suid-Afrikaners moet op die goeie goed fokus terwyl hulle aanhou werk om die uitdagings te oorkom. Dié van ons wat in die buiteland is, moet van hierdie kant af doen wat ons kan.
LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit die buiteland
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
[/et_pb_text][/et_pb_column] [/et_pb_row] [/et_pb_section]