Uit en Tuis: ’n E-pos uit Pole

21/02/2022
| Deur AfriForum Wêreldwyd
IMG_6499-scaled

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het.  Hierdie week gesels ons met Ira van der Merwe wat in die middel van die pandemie na Pole toe getrek het.

Hallo Ira, dit is baie lekker om met jou te gesels. Jy het genoem dat julle voor die pandemie Pole toe sou verhuis maar dat die pandemie julle proses bietjie vertraag het. Vertel ons van hierdie ervaring?

Ons het die berge van Switserland gegroet vir ’n driejaarwerkskontrak hier in Pole. Ons sakke was so te sê gepak en ons sake afgehandel, toe die pandemie tref. Almal is skrik op die lyf gejaag, vliegtuie is gestop, grense is gesluit en almal het agter deure en maskers weggekruip. So sit ons tussen die boom en die bas vir ses maande en leef week vir week, want ons het nie geweet wanneer die grense weer sou oop nie. Dit was ’n reusegemors as jy daaraan dink dat jy jou blyplek, werk, besigheid, rekeninge, kleuterskool ens. opgegee het.

Ons durf eintlik nie kla nie, want mense was ons baie genadig en tegemoedkomend. Vriende van ons het dit veel erger gehad. Hulle was in dieselfde bootjie (ook op pad van Switserland na Pole), maar sit toe vas in Duitsland toe die grense reg voor hulle kar toegemaak is. Hulle sit toe vir drie maande vas in ’n eenkamer-B&B met ‘n twee-maand oue baba en kleuter, terwyl manlief sy nuwe werk moet begin via Zoom.

Nietemin, ons is toe met die eerste geleentheid sak en pak op ’n vlug deur spookagtige lughawens. Dit was baie stresvol, want nie net kan die grense enige tyd weer toe nie, maar ’n mens reis met veel meer as net vakansiebagasie. Dit was ’n pakkaas en ’n logistieke nagmerrie met kind, kinderwaentjie en 40 kg hond, met sy reusehok. Ek was so bekommerd dat daar iets sou skort met sy dokumentasie en dat ek nie in Pools my hond uit doeane se hande sou kon kry nie. Maar alles het toe goed uitgewerk en hy het al wriemelende uit sy hok gespring en ons opgelek. En toe desperaat begin soek vir ’n graspolletjie.

Behalwe natuurlik vir die koue, wat was die grootste aanpassing?

Die meeste dinge wat vir ’n Suid-Afrikaner vars uit die land ’n skok sou gewees het hier, is ons al lank reeds gewoond. In Nederland leer jy fietsry en stap oral heen en as dit nie reën nie, sit jy buite, al waai die wind jou van jou fiets af en jou boude vries op die sitplek vas. In Swede leer jy dat daar g’n ding soos slegte weer is nie, net slegte klere. Dat jy byvoorbaat anti-glyjougatafs dra, al kan jy nie die ys sien nie. (Dit is daardie rubberbande met spykers wat jy aan jou skoene sit, sodat jy nie in die hospitaal beland nie.) In Switserland leer jy dat die son bestaan, al het jy hom vir ses weke lank nie gesien nie en dat jy hom nie gaan kan voel, wanneer hy eendag sy gesig weer wys nie. Drink jou vitamien-D, suster.

Die pyn daarvan om in ’n nie-rugby-land te woon is erger as enige koue. Vyftien minute in ’n Bok-wedstryd nou die dag, is manlief se moermetertjie al goed in die rooi, nadat hy toe reeds vir ’n halfuur sukkel met ’n onstabiele en semi-onwettige internetstroom. Toe ons uiteindelik sit, spring hy weer op, klap die tuindeur toe op die buurman se brommende grassnyer en sê: “Jinne, weet die bure dan nie dat die rugby aan is nie?!” Ek het my morsdood gelag, want die arme bure het seker nog nooit gehoor van die rowwe speletjie waarvoor ons so ’n onblusbare passie het nie. 

Is dit anders om inkopies te doen in Pole in vergelyking met Suid-Afrika?

Nie juis nie. Buiten die wegholwaentjies is dit weer eens die taal wat lol. Die agterste wiele van die inkoopwaentjies is nie rigied nie en kan ook tol. Dis moeilik om hulle te beheer en ’n afdraande is jou einde, hulle loop net waar hulle wil. Maar ’n waentjie wat in die parkeerarea die hasepad kies is niks in vergelyking daarmee om produkte in ’n ander taal te loop soek nie.

Nie net is die skrif Grieks nie, die verpakking is nie wat jy verwag nie. Ek het een dag amper vir manlief as vermis aangemeld toe hy amper twee ure lank weg was vir net vyf items. Die arme siel was verlore in die supermark op soek na vars room. Die ding is dat dinge ander kleurskemas en lettertipes het as wat jy verwag. Dis nie op die tipiese plek in die winkel waar jy dit gewoond is nie. Plus, jy is dalk gewoond iets is in ’n botteltjie, maar hier is dit in ’n buisie. Jy soek vir iets in ’n sakkie, maar hier is dit in ’n boksie. Jy gaan al die blikke deur, want waar jy vandaan kom is dit geblik, maar hier is dit gebottel. En die vars room is toe nie naby die melk nie en ook nie in ’n botteltjie of boksie nie, maar ’n jogurtbakkie. Daar is nie ’n prentjie van room daarop nie, nie eers ’n “blessedse” koei nie. En Google Translate vertaal room as suurroom. Dis toe wat die moedelose winkelassistent vir manlief in die hand stop en ek toe later in my koffie sit.

Dit hou vir lank so aan. Dit vat lank om ’n nuwe taal baas te raak. ’n Mens is naderhand so moeg daarvoor om so verskrik soos vlakhaas in die bakkieligte te lyk as die kassier op ’n ander manier vra of jy ’n sakkie wil hê. Dan dink jy by jouself, dalk sal ek die wonderlike selfbetaal-opsie probeer. Waar niemand enigiets vir jou kan vra wat jou gesig laat lyk soos ’n Zoom-oproep wat gevries het nie. Waar dit net biep, biep, biep is en jy glip so stil soos muis by daai deur uit, sonder om weer soos ’n sotlike seer duim van ’n buitelander uit te staan. Dan trek jy jou grootmeisie-panty aan en probeer dit. Maar dan maak jy die fout om op die Engelse vlaggie te klik, sodat jy ’n halwe kans het om daai vreemde nuwe groente te kan opsoek. En die masjien bulder kliphard, vir wat voel soos die hele supermark, dat jy die idiotiese buitelander is wat nog nie die taal kan praat en daarin faal om te integreer al probeer jy hoe hard, met die woorde: “PLEASE SCAN AN ITEM.” En die hele betaalarea kom tot stilstand en ’n lot gesigte, wat voel soos ’n hele rugbyspan, gluur jou aan.

Julle het ’n 3-jarige, praat sy Afrikaans?

Ja, sy praat pragtige Afrikaans. Dis verstommend as ’n mens besef dat sy net vir mamma en pappa hoor Afrikaans praat. Ek is wel daarvan oortuig dat haar Storieman-reeks ’n groot bydrae gemaak het. Ek is so dankbaar daarvoor dat skoonma die reeks in SA opgespoor het. Ons luister lustig na daardie stories in die kar of waar ook al.

Sy het die oulikste sleeptongetjie op die oomblik en sy laat dit haar nie onder kry nie. Sy kan ook Engels en Pools praat en onthou nog ’n woord of twee Duits en Nederlands. Siende dat ons nuut is in Pole, probeer haar juffrouens haar met ’n gebroke Engelse woord hier en daar help wanneer haar Pools te kort skiet. Soos “push”, wanneer sy op die swaai is. Sy is vindingryk en soek die woord in al die ander tale wat sy ken, wanneer iemand haar nie verstaan nie. En die volume styg natuurlik, “Want ’n menth moet hard praat, thodat menthe mooi kan hoor, mamma.”

So staan manlief een dag ingedagte in die speelparkie en geniet die koel bries en pragtige uitsig in Hermanus, met ’n stomende koppie koffie in die hand. Nie hy of ouma hoor haar herhaaldelike versoeke dat hulle haar op die swaai moet stoot nie. “Poeth my pappa, poeth my. Haai pappa, poeth my!” Jinne, manlief skrik sy dinges af. Almal raak stil. Ouma se hond hang oop. Party giggel ongemaklik. En manlief weet nie hoe gou hy daai koffie moet neersmyt en daai swaai aan die swaai kry nie!

Kan jy al Pools praat?               

Ja. Maar niemand verstaan my nie! Pools is verseker die moeilikste taal wat ek nog aangedurf het en ek is seker dat ek dit nie sal baasraak voor ons terugkeer na Switserland nie. Nie net is dit grammaties so anders as enige van my ander tale nie, maar die pandemie het dit tot dusver toe byna onmoontlik gemaak om dit te leer. Almal was ingeperk, agter deure en maskers en erg sku vir mekaar. ’n Mens leer net ’n taal as jy dit kan praat – ons kon met niemand praat nie. En hoe leer ’n mens hierdie tongknopers uitspreek as jy niemand se lippe kan sien nie? Nie net was taalkursusse gestop nie, maar alles is toe later aanlyn. Met ’n klein kind en onbetroubare dagsorg, kon ek net nie verbind tot ’n kursus nie – ’n mens hou skaars kop bo water met werk en dag-tot-dag-verpligtinge met ’n kleintjie, laat staan nog ’n taal wat glad nie klink soos wat jy hom skryf nie.

Dus praat ek maar eerder Italiaans – dus, met my hande! Dis histeries snaaks. Ek gebruik Google Translate om woorde te vertaal. Dankie tog daarvoor. Ek tik my sinnetjie in, klik op die luidsprekertjie en probeer dit na-aap tot dit my beurt is om voor te wees in die ry. Jy kan jou die kyke net indink. Nie net wanneer ek dit luister en oefen nie, maar wanneer ek dit vir die kassier sê en dis totaal geheel en al verkeerd! Wie weet watse nare goed ek onwetend al oor mense se ma’s gesê het.

En as jy dit tog regkry om dit korrek uit te spreek, staan jy weer met paniekerige oë so groot soos pierings en ’n bek vol tande, want jy weet nie wat hulle vir jou terug sê nie. Moenie dink jy kan op Engels terugval nie, want hier waar ons woon praat bitter min mense ’n ander taal. En ek het gevind dat as jy Engels begin praat, raak die sirkel van paniek net groter en die arme persoon agter die toonbank slaan ook dan sommer bottoe.

Die taal is maar ’n stryd. Partykeer is dit snaaks, soos om vir drie dae se parkering te betaal in plaas van drie ure en dan uit te vind dat dit naweek is en parkering dus verniet is. Of om voor ’n badkamer te staan en te wonder of dit vir die mans of vroue is. Maar ander kere is dit net intimiderend en frustrerend, soos wanneer jy ’n kar moet registreer of ’n dokter moet besoek.

Is dit duur om in Pole te woon?

Pole is ongetwyfeld goedkoper as Switserland. Dus was dit ’n verligting. Maar salarisse is nie hoog nie. Bygesê, ’n mens kan ver kom met jou geld. ’n Mens bestee min op veiligheid of buitelugvermaak of medies. Daar is oral parke en woude as ’n mens wil uitkom, met die wonderlikste speelparkies, fietsbane en skaatsplankparke.

Tydens ons laaste vakansie in Suid-Afrika het ons met ’n skok agtergekom hoe duur Suid-Afrika is in vergelyking met Pole. Kos en uiteet is veel goedkoper hier.

So gepraat van uiteet, ’n reuseplus hier is dat elke restaurant ’n speelplek of ten minste speelgoed het. Hoe deftiger die restaurant, hoe deftiger die speelarea. Dit is heerlik om hier uit te eet in vergelyking met Switserland. Mense is so oop en geduldig teenoor kinders en toegespits op families. (Die meeste badkamers is toegerus met ’n doekruilstasie in beide die mans- en vrouebadkamers, kompleet met doeke van alle groottes, ens.) Dit is ’n senutergende aktiwiteit om met kinders na ’n restaurant toe te gaan in die Duitssprekende deel van Switserland. Die gashere hier koester kinders en het baie geduld. Dis iets wat ek baie sal mis.

Hoe verskil die kossoorte in Pole van dié in Suid-Afrika?

Die klimaat is beter geskik vir die kweek van groente as vrugte. Hier mis ek Suid-Afrikaanse vrugte erg. Ek verorber bakke en bakke vrugteslaai wanneer ek in Suid-Afrika is en koester wilde fantasieë van hoe ek wydsbeen oor die gras staan en ryp veselperskes hap laat die sop spat. Die meeste vrugte moet ten duurste ingevoer word en omdat die arme goed nog groen gepluk word en lank moet reis, is die kwaliteit soek. Niks kom by ’n vrug wat tot op die laaste oomblik deur die son gesoen is, voordat jy hom pluk en eet nie. Tjô, tjô, water my mond nou vir ’n sak Citrusdal-lamoene wat ek langs die pad gaan koop. Jinne, ek kry sommer trane in my oë as ek dink dat ek ’n boks romerige avokado’s in my kattebak kan laai vir die prys van een hier.

Oor die algemeen hou mense baie van sop hier. ’n Mens eet ’n sop voor jou ete (amper soos die Switsers ’n slaai voor hul ete eet) en die groot maaltyd is, tipies Europees, in die middel van die dag. Ek vind dit gesonder en dit maak vir my meer sin as ons manier, maar ek vind dit dikwels onprakties om in die middel van die dag so ’n kokery aan die gang te sit. Maar ek waardeer dat ons veel meer groente eet en vir seker minder vleis. Een van die gewildste disse op die Kerstafel is byvoorbeeld karp.  

’n Tipiese Poolse ding is kluitjies. Dit is basies soos gevulde pasta. ’n Mens kan dit op sy eie eet of met ’n sous of in ’n sop. Dit kan soet of sout vulsel hê met vrugte of kaas of vleis. Ek hou nogal van die een met sampioen en kool, wat ’n mens in beetsop sou eet. Ek sou nooit kon raai daar is iets soos beetsop nie en nog minder dat ek daarvan sal hou, so ver sal gaan om dit self te maak en dat my kind dit lustig sou opslurp!

Vleis kry vir seker veel minder aandag hier as in Suid-Afrika. Manlief was onlangs in Pretoria en sê hy was oorweldig met die hoeveelheid vleis wat mense hom probeer voer het. Hy het al die rooiwyn wat hy moes drink maar as groente beskou.  

Ons mis Suid-Afrikaanse wyn, maar het gelukkig ’n plaaslike verskaffer gevind wat een of twee goeie wynplase se voorraad aanhou. Vir beter opsies het ons ’n verskaffer in Duitsland en Lichtenstein. Een van my dogtertjie se eerste groot woorde was “Kanonkop Kadet.” Moenie vir die oumas sê nie.

Natuurlik kry ’n mens nie biltong en droëwors hier nie en dit is die waardevolste ding wat jy uit Suid-Afrika terugbring. Jy bewaak dit soos ’n staffie. Ek het ’n geheime wegsteekplek: in die vrieskas se groentelaai, binne ’n ou bevrore-ertjiessakkie. Niemand gaan daarin krap nie. Jabu, ons hond, weet dit is daar, maar alhoewel hy baie slim is, kan hy gelukkig nog nie die vrieskas oopmaak nie.

LEES OOK: Uit en Tuis: ’n E-pos uit Noord-Ciprus

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels