My ervaring en my reis
Deur Shar-nica du Plessis
Ek het nog ’n paar vakke benodig om my graad in onderwys klaar te maak toe ons as gesin besluit het om te emigreer. Ons het in 2019 in Nieu-Seeland geland, en my plan was om my studies daar klaar te maak. Ek sou egter vier ure moes ry vir eksamens, en buitelandse heffings (foreign levies) aan UNISA moes betaal omdat ek nie meer in Suid-Afrika woon nie.
Toe 2020 aanbreek, het die wêreld op sy kop gedraai. Alles was toe en deurmekaar, maar dit was juis in dié tyd dat ek my ware passie ontdek het. Ek het as ’n ondersteuningswerker in die mediese industrie begin werk en besef dat ek ’n verpleegster wil wees.
Ek moes eers wag vir verblyfreg voordat ek kon aansoek doen. In 2022 het ek toelating by ’n nabygeleë instituut gekry. Dit was ’n wilde rit, maar ook ongelooflik. Ek moes weekliks 100 km ry na my klasse toe. Gelukkig het een van my beste vriendinne en haar gesin hulle huis vir my oopgemaak, sodat ek nie elke dag heen en weer hoef te ry nie. Ek is ongelooflik dankbaar vir hulle, asook vir my man en vriende in ons dorp wat na ons twee seuns omgesien het.
Ek het soveel nuwe dinge geleer en wonderlike mense ontmoet. Aan die begin van 2024, die einde van my tweede studiejaar, het ek en my man ’n moeilike besluit geneem: ons gaan van ’n klein dorpie na ’n groter stad toe trek. Alles het binne drie weke gebeur.
Wat van my studies? Ek het gedink ek sou net by ’n ander instituut kon voortgaan, maar dit was nie die geval nie. Ek moes weer van voor af begin. My graad sou my nou nóg twee jaar vat om klaar te maak. Dit was ’n groot skok, maar uiteindelik is dit alles die moeite werd. Hierdie reis was ’n groot leerproses – letterlik en figuurlik.
Wenke uit persoonlike ervaring:
- Buitelandse heffings (foreign levies): As jy ’n Suid-Afrikaanse instituut kies en oorsee bly, moet jy buitelandse heffings betaal, wat jou graadkoste maklik kan verdubbel.
- Verblyfreg: Sonder verblyfreg kan jy moontlik nie voltyds by ’n universiteit inskryf nie. Internasionale fooie kan wissel tussen $14 000 (±R150 000) en $25 000 (±R270 000) per jaar.
- Binnelandse heffings (domestic fees): Jy betaal eers binnelandse heffings ná verblyfreg. Dit wissel tussen $7 600 (±R83 000) en $20 000 (±R213 000) per jaar.
- Voorbereidingskursusse (pathway course): Sommige programme vereis dat jy ’n voorbereidingskursus voltooi voordat jy kan begin.
- Kampusbeskikbaarheid: Nie alle dorpe het ’n kampus nie. Ek moes gereeld vyf dae na mekaar weg van die huis wees.
- Studielenings: Jy kan eers na drie jaar se verblyfreg of twee jaar se verblyfreg plus een jaar permanente verblyf (PV) vir ’n studielening aansoek doen.
- Oordrag: Dit is nie maklik om van een instituut na ’n ander oor te skuif nie. Die proses neem lank en is duur.
- Kredietverlies: Meeste universiteite gee ’n maksimum van 120 krediete vir vorige studies. Indien jy meer voltooi het, kan jy daardie krediete verloor.
- Praktiese ervaring: Wees voorbereid dat jou praktiese opleidingsmodules nie noodwendig in jou woongebied gaan wees nie.
Klein, maar belangrike dinge om te oorweeg:
- Engelse toetse: Meeste instellings vereis ’n IELTS-toets indien Engels nie jou moedertaal is nie.
- Toerusting: ’n Skootrekenaar en nodige skryfbehoeftes is ’n moet.
- Vervoer: ’n Voertuig of toegang tot openbare vervoer is noodsaaklik.
- Verblyf: Sommige instellings bied nie verblyf aan nie.
- Skofte: Tydens praktiese opleiding sal jy waarskynlik skofte moet werk.
- Kindersorg: As jy kinders het, moet jy voorsiening maak vir voor- en naskoolse sorg.
Op die ou end is daar baie om te oorweeg, maar hierdie woorde van John Carrick inspireer my elke dag: “Kennis dra die grootste krag en dit is iets wat niemand kan sien nie. Dit kan nie gesteel of gebreek word nie, niemand kan dit van jou af vat nie.”
Skryf vir ons
Het jy ook ’n unieke studie-ervaring of reis in die buiteland gehad? Deel dit met ons! Jou storie kan ander inspireer om uitdagings te oorkom en hul drome na te jaag. Elke reis is anders, maar saam kan ons mekaar ondersteun en aanmoedig. Deel jou ervaring hieronder – wie weet, dalk is jou storie die motivering wat iemand anders nodig het om die eerste stap te neem!
Foto: Getty Images/ Unsplash
Deel op
Nuutste artikels