Vier jou kultuur: ’n Bloginskrywing uit Amerika

28/08/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Vier jou kultuur: ’n Bloginskrywing uit Amerika

Deur Annelise Blom

Om in ’n ander land as jou oorspronklike vaderland te lewe en gelukkig te wees, vra daaglikse dankbaarheid. Maak van die begin af die keuse om raak te sien “wat is”, en nie “wat nie is nie”. Vergelyking sal jou baie ellendig maak. So ook oordeel. Dank God vir die goeie waarmee jy geseën is. My pa het altyd gesê … “Groei goed waar jy geplant is!”

Geniet dit om ’n Suid-Afrikaner te wees en die uniekheid wat kom uit die feit dat jy van ’n ander land afkomstig is. Dit lei altyd tot interessante gesprekke. Vier dit. Vind ’ n vriendegroep en nooi hulle na jou huis. Deel jou kultuur en dít waarvoor jy lief is. Byvoorbeeld, al my seun se vriende op universiteit is mal oor die Springbokke en kyk al die wedstryde saam met hom omdat hy hulle aan rugby voorgestel het. En hy is in Amerika gebore en getoë! Daar is selfs ’n groot Springbokvlag op die muur in sy “fraternity” se sitkamer!

Omhels jou nuwe land. Die Amerikaanse vakansiedae hier (4 Julie, Oesdankfees (“Thanksgiving”), Kersfees ens.) was ’n wonderlike manier om my nuwe land te vier. Het ek die kultuur ten volle omhels? Nee. Ek sal altyd ’n Suid-Afrikaner wees wat in Amerika woon. Maar ek het besluit om die beste van my Suid-Afrikaanse erfenis en opvoeding te behou en ook die beste van die Amerikaanse kultuur te omhels. Skep jou eie “gemengde” tradisies vir jou gesin. Voeg Suid-Afrikaanse kos by “Thanksgiving dinner”. Ons maak altyd lekker malvapoeding!

Reis en leer jou nuwe land ken. Ek het verlief geraak op Amerika deur die verskillende state te besoek en oor die geskiedenis en unieke kulture te leer. Om deel te voel van die natuur deur die parke ens. te besoek was veral ’n baie lonende ervaring. Deur die jare het ons as ’n familie ’n skatkis van herinneringe versamel deur in Amerika te reis, en op dié manier het ons diep en goeie wortels gevestig.

Vertel jou kinders van jou land en jou lewe daar. My kinders het soveel projekte gedoen op skool en selfs nou op universiteit oor Suid-Afrika en ons geskiedenis en familie. Vier dit en onthou dit. Die konneksie is goed vir ’n mens se siel. Maar laat hulle trots wees op die land waarin hulle nou woon. Dit is hulle huis!

Dit is goed om jou land, jou familie en vriende, en jou kultuur te mis. Gee jou hart toestemming om hartseer te wees en te rou. Maar, as jy na ’n nuwe land toe gekom het om te bly, moet jy nie in hartseer en verlange vertoef nie. Doen eerder die harde werk om ’n nuwe lewe vir jou en jou gesin te skep. En wees trots op jou nuwe land en dankbaar vir jou lewe daar.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels