Vier Kersfees saam met AfriForum Wêreldwyd – deel jou unieke Kerfeesverhaal!

14/11/2024
| Deur Sue-Ann de Wet
Vier Kersfees saam met AfriForum Wêreldwyd – deel jou unieke Kerfeesverhaal!

Kersfees is daardie spesiale tyd van die jaar wanneer ons nostalgies raak oor herinneringe aan familie en vriende en ons kosbare tradisies in Suid-Afrika. Maar al bevind jy jou nou aan die ander kant van die wêreld, wil AfriForum Wêreldwyd steeds deel van jou Kersfeesvieringe wees! Ons nooi jou uit om jou unieke Kersfeesoomblikke met ons te deel. Of jy nou jou Kersfees in ’n wit winterlandskap of onder die tropiese son vier – ons wil deel wees van jou Kersfeesvieringe! Ons wil by jou hoor hoe dit gevier word in die land waarin jy nou woon.

Ons weet hoe belangrik ’n feesmaal vir die Kersfeesvieringe is. Vertel ons of jy probeer om geliefkoosde tradisionele Suid-Afrikaanse disse te herskep, soos gerookte ham, gegeurde skaapboud of ’n vrugtekoek. Of is jy besig om nuwe geregte te ontdek wat eie aan jou nuwe land is? Ons sal graag jou resep gebruik as daar ’n unieke toevoeging tot jou Kersfeesspyskaart is wat met die geure van jou nuwe land spog. Wat van die soetigheid – nuwe nageregte of ’n ander weergawe van die geliefde melktert?

En hoe lyk die buurt waarin jy woon? Is daar helder Kersliggies en pragtige uitstallings of nuwe dekor-inspirasies? Elke land het mos sy eie Kersfeesgier. Ons is nuuskierig om te weet of jy jou buurt se liggies bewonder of dalk self daardie toweragtige atmosfeer skep. Of dalk is daar ’n nuwe Kersfeesgier in jou omgewing? Vertel ons ook van jou spesiale herinneringe en tradisies wat jou hart warm hou – foto’s is natuurlik meer as welkom!

In sommige lande is Kersfees ’n stille viering, of dit word op ’n ander dag of selfs heel anders as in Suid-Afrika gevier. Woon jy dalk in ’n land waar Kersfees op ongewone wyse gevier word, of waar dit moontlik nie eens ’n openbare vakansiedag is nie? Dit kan ’n uitdaging wees om die ware gees van Kersfees lewendig te hou in ’n plek waar min Christene dié dag gedenk, maar die skep van eie tradisies bring op sy eie wyse ook ’n gevoel van vervulling.

Hoe jy ook al Kersfees vier – tradisioneel of op ’n nuwe wyse – dit maak nie saak nie. Wat wel belangrik is, is die deel van daardie spesiale oomblikke met jou geliefdes.

Ons reis hierdie Kerstyd graag saam met ons mense in die buiteland. Vertel jou stories en staaltjies, en deel jou resepte. Só kan jy deel wees van die groter Kersfeesfeesviering van ons wêreldwye gemeenskap.

Foto: Getty Images/ Unsplash

Deel op

Nuutste artikels