Vier vlugte tussen my huis en ’n deel van my hart

23/03/2023
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Webtuiste-banier_website-copy

Deur Annalize Dedekind

As ’n ouma, ma en skoonma trek Annalize Dedekind se hart met ’n punt na die land van die lang wit wolk. Sy vertel ons meer van haar onlangse kuier by haar kinders en kleinkinders in Nieu-Seeland. Sy gesels oor dié dinge wat haar daar betower en beïndruk het, maar ook oor die traumatiese ervaring toe sikloon Gabrielle die land getref het.

Ek staan by die lughawe in die ry op die aanloopbaan op Napier in Nieu-Seeland, gereed om aan boord te gaan ná twee maande by my kinders. Die trane loop soos ’n rivier uit my oë. Die man voor my draai om, seker om te sien wie grens so.

En so grens ek op vier vlugte terug na Suid-Afrika en vir nog ’n week of wat ná ek tuisgekom het.

Ek glo daar is duisende Suid-Afrikaanse ouers wat die gevoel maar te goed ken. Jy skop daarteen, maar eintlik ook nie, want jy sien, jy ervaar, jy beleef die “beter” lewe wat jou kinders en kleinkinders daar het.

Daar is ek herinner aan vele waardes wat ons in Suid-Afrika half vergeet het. Die een wat vir my veral uitstaan, is bedagsaamheid. Die spoedgrens in beboude gebiede is byvoorbeeld 50 km/h, in onbeboude gebiede 100 km/h en op hoofweë 110 km/h. Bitter selde sal jy sien dat iemand die spoedgrens oortree, want die verkeerspolisie is oral. Strafpunte word toegeken vir veelvuldige verkeersoortredings, wat beteken jou rybewys kan vir ’n tydperk opgeskort word.

Motoriste is uiters bedagsaam teenoor fietsryers en voetgangers as hulle ’n straat wil kruis. Al die sypaadjies is geteer en elke hoofpad het ’n breë baan vir fietsryers. Skopfietse maak ook soos voetgangers gebruik van die geteerde sypaadjie met dien verstande dat voetgangers voorkeur kry. Dié “vervoermiddel” is baie gewild onder kinders en volwassenes. Ek het weer soos ’n kind gevoel toe ek saam met my kleinseuns al skoppende in hul pret gedeel het.

Wanneer die kinders in die skool en hul ouers by die werk was, het ek die omgewing verken. As drawwer was dit wonderlik om sonder vrees teen heuwels op en af op ’n netjiese paadjie in die natuur te kon draf, selfs op meer afgeleë plekke.

’n Beeld van hoe die huise in Wellington teen die heuwels gebou is. Hier stap jy letterlik straatop en straataf

Aan die begin het die seuns met hul skopfietse saam met my gegaan om vir my ’n roete te wys waar ek kan draf. Later het ek self oor die weg gekom. Of so het ek gedink. Ek het dieselfde roete as gewoonlik gehardloop, maar om een of ander rede ’n verkeerde afdraaipad geneem. Ná sowat 2 km het ek besef ek het verdwaal. Ek het op my spoor probeer teruggegaan, maar helaas … Gelukkig was ek naby die sakegebied waar ek toe op die sypaadjie ’n polisie-kiosk sien. By die kiosk druk jy ’n knoppie om met ’n geregsdienaar te praat ingeval jy aangeval of besteel word of as jy iets anders oorkom soos om te verdwaal.

Die stem vra wie ek is en wat my probleem is. Ek verduidelik ek is van Suid-Afrika en het op my drafroete verdwaal. Gelukkig onthou ek darem wat my kinders se adres is en sy belowe ’n geregsdienaar sal my binne 10 minute kom help. Dit was toe ook so. In die 10 minute in die motor kon ek hom darem iets vertel van my vaderland waarin hy nogal baie geïnteresseerd was.

Toe ek by die huis kom, sê my skoondogter sy was nou net van plan om my te gaan soek, want ek was so lank weg. Sy het natuurlik baie lekker gelag toe ek haar inlig dat die polisie sommer daardie takie verrig het.

As so iets met my in Suid-Afrika gebeur, is die polisie die laaste, indien enigsins, wat ek sal kontak.

Opvallend van Nieu-Seeland is hoe toeganklik en gebruikersvriendelik hul kultuurskatte soos museums is. Alle museums en akwariums is gratis en hulle doen baie moeite om kinders op verskeie maniere betrokke te maak, hetsy met praatjies, inkleurprente of speletjies in lokale wat daarvoor pasgemaak is.

Die een ding waarmee Nieu-Seeland nie by Suid-Afrika kan kers vashou nie, is ons pragtige strande. Daar is die sand grys tot swart en baie klipperig.

Wellington en Rotorua is my twee gunstelinge onder al die plekke waar ons was. Rotorua se kultuurskatte betower my. Dit is ’n pragtige plek waar die Maori-kuns en -boustyl oral te sien is. Een van die groot aantreklikhede is ’n reusepark waar stoom en modder uit die aarde borrel en wat as baie gesond beskou word.

Die hoofstad Wellington het my absoluut betower. Dit is ’n bergagtige stad waar dit moeilik is om ’n huis op gelyke aarde te sien. As jy hier bly, loop jy op- of afdraand. Sover jy kyk, is huise tussen die groen bome teen heuwels te sien. Die interessante geboue in die middestad is op hul eie ’n toeriste-attraksie. Daar is ook ’n botaniese tuin waar kinders heerlik kan baljaar.

Die slegste gebeurtenis tydens my Kiwi-kuier was natuurlik sikloon Gabrielle. In my lewe het ek nog nie so ’n sterk wind ervaar of sulke onbeskryflike skade beleef nie. Dit was veral erg in Hawke’s Bay waar Napier geleë is. Ek kon net in ongeloof staar na die reuseappelboorde, wingerde, mielielande, huise, voertuie, ensovoorts – noem maar op – wat deur modder verswelg is. Ek dink nie ek sal daardie beeld van verwoesting ooit uit my geheue kry nie.

Die dag met my vertrek toe ek so verskriklik aan die huil gegaan het, sit ek heel toevallig langs ’n man van Auckland, Steve Devine van Fenz Fire and Emergency in Nieu-Seeland. Hy het na Hawke’s Bay gekom om reddingswerk te doen en het tydens die vlug onophoudelik oor sy ervarings gepraat en vir my foto’s van die verwoesting gewys – hoe hulle mense wat in die nag uit hul huise moes vlug later van dakke af gered het en hoe hulle plaasdiere met hul hande uit die modder moes grawe. Op my vraag of hy getraumatiseerd is, het hy nie ’n oomblik geskroom om te sê hy en sy kollegas sal in sy tuisstad traumaberading kry nie.

Ons is self die oggend ná daardie verwoestende wind per selfoon beveel om na hoër grond te beweeg. Ons het eenvoudig die nodigste in sakke gegooi en onaangekondig na my kinders se vriende gegaan. Daar het alles wat op TV gewys is my eers die werklike omvang van die sikloon laat besef. Maar daar het ek ook gesien hoe ’n regering wat vir sy mense omgee eenvoudig middele beskikbaar stel om orde, gemak en sekuriteit te skep. Inwoners is deurentyd op verskeie maniere op hoogte van gebeure gehou. Diegene wat hul huise moes ontruim, is in sale en ander beskikbare plek gehuisves totdat dit veilig was om na hul tuistes terug te gaan.

In Napier was die krag vir ’n week of wat af omdat die kragstasie onder water was. Ek het tong in die kies vir my self gesê: Ons het nie ’n sikloon nodig om sonder krag te wees nie.

Die regering het sakelui wat in daardie tyd nie kon werk nie binne dae vergoed volgens die finansiële verlies wat hulle gely het.

As ek my tyd in Kiwi-land moet opsom, sal ek sê dit is ’n fantastiese plek om jou kinders groot te maak. My kinders bly in ’n singel waar daar seker tien seuns en net twee dogtertjies woon. Saans teen 21:00 moet hulle geroep word om huis toe te kom – soos dit in my kleintyd was. En ek besef: My kinders sal nooit terugkom Suid-Afrika toe nie, want hoekom?

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels