AfriForum ontvang gereeld navrae oor vlugtelingstatus omdat mense al meer onveilig voel. Die burgerregte-organisasie voel sterk daaroor dat Afrikaners – wat geen ander tuiste ken nie – sinvol as Afrikaners, en in vreedsame naasbestaan met ander gemeenskappe, blywend vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika kan voortbestaan. Al voel jy dus bekommerd oor die toekoms, raai ons jou ten sterkste af om elders vlugtelingstatus te probeer verkry.
Vlugtelingstatus is ’n baie beperkende status en beslis nie bloot ’n maklike manier om te emigreer nie. Vlugtelinge geniet minder regte in ’n gasheerland as immigrante, en hulle mag in die meeste lande byvoorbeeld nie woon of werk waar hulle wil nie. Hulle mag ook nie die landsgrense oorsteek nie en verloor ook gewoonlik hul vlugtelingstatus as hulle uit eie wil na hul herkomsland sou terugkeer. Die gasheerland het ook die reg om te eniger tyd te besluit dat die gevaar in die herkomsland nou minder is en die vlugteling dan opdrag gee om terug te keer. Dis dus ’n status sonder waarborg of langtermynsekerheid. As ’n mens boonop een keer ’n vlugteling was of om vlugtelingstatus probeer aansoek doen het, sal jy internasionaal ook moeiliker ’n visum kry omdat jy as risikogeval beskou word wat moontlik ’n onwettige immigrant kan word.
Mense wat besluit om te emigreer, word dus aangemoedig om liewer die wettige kanale te volg – die “kortpad” na vlugtelingstatus is baie gevaarlik.