Vyf lande oor 15 jaar en amper weer tuis

03/05/2023
| Deur AfriForum Wêreldwyd
2-1

Deur Riekie Nel

Min mense weet waar Salalah is. Dis minder bekend as Dubai en Abu Dhabi en Doha en Muscat, wat die hoofstad is van Oman. Dis eers as mens “Midde-Ooste” byvoeg wat daar ’n liggie aangaan. Maar ja, dit is waar ek en my man ons al die afgelope (amper) ses jaar bevind. Nodeloos om te sê, ons het nog sowat twee maande om klaar te maak waarmee ons hier besig is, dan gaan ons huis toe, en ons kan nie wag nie!

Salalah was egter nie ons eerste bestemming in die buiteland nie. 

In 2007 ontmoet ek vir Willie waar hy in Maputo gewerk het en ek in Pretoria, en ons trou ’n jaar later. In dieselfde jaar, 2008, kry Willie ’n werksaanbod in Dubai wat hy nie kon weier nie. So kom ons etlike maande later in Dubai aan, elkeen met net twee tasse. 

2008 was nie ’n maklike finansiële jaar nie, ook nie in Dubai nie, want salarisse is drasties gesny. In 2009 kry Willie ’n werksaanbod in Abu Dhabi, waar ons toe byna twee jaar gewoon en gewerk het. In die tweede jaar kry Willie ’n oproep van ’n “headhunter” uit Engeland en vra of hy dalk sou belangstel om ’n pos in Egipte te aanvaar, om vir die seevaartmaatskappy MAERSK te werk. Ná ’n deurdagte oorweging het hy die aanbod aanvaar, en kort voor lank is ons gevestig in Port Fouad, ’n deel van die groot stad Port Said in die noorde van Egipte, by die uitloop van die Suezkanaal in die Mediterreense See. ’n Uitdagende, redelik eensame drie jaar het vir ons voorgelê, maar ná ’n rewolusie en presidente wat gekom en gegaan het, het daar weer ’n groot werkgeleentheid op ons pad gekom, en ons het aanbeweeg.

’n Splinternuwe hawe word in Aliaga aan die weskus van Turkye gebou, en Willie word ’n pos aangebied as HSSE-bestuurder vir die projek. Izmir sou die stad wees waar ons sou bly, en ons moes eers ’n kaart nadertrek om te sien waar hierdie plek/ke was. 

Dit het goed gelyk en Willie het die pos aanvaar. Ná sowat drie jaar in Egipte trek ons sak en pak Turkye toe, hierdie keer met ’n 40 voet vragskeepshouer met al ons besittings van die afgelope nege jaar in die buiteland. 

Ons vestig ons net buite Izmir in ’n pragtige villa en is uit die staanspoor beïndruk met die lieflike land! Wes-Turkye is so sentraal dat ons die geleentheid kry om baie te reis. Ons reis ook na baie landmerke in Turkye. Dit is voorwaar ’n pragtige land om in te woon, maar net soos voorheen is Turkye nie die laaste land op ons lys van die ekspatlewe nie. Ná drie jaar trek ons weer agter ’n werk aan, hierdie keer was ons bestemming Salalah, Oman in die Midde-Ooste.

Wille het in Julie 2017 in Salalah begin werk tot op hede. Ons het ekpats gesien kom en gaan, hoof- uitvoerende beamptes gesien kom en gaan, veranderinge gesien realiseer, baie van die mense en hulle kultuur geleer, vir baie mense ook van ons kultuur geleer, ook baie gesien, gereis en ervaar, en selfs ’n nuwe sultan aan bewind beleef nadat die vorige een ná baie jare van heerskappy oorlede is. Ons het in 2018 selfs ’n sikloon beleef wat die stad in chaos gedompel het, maar die stad is binne vyf jaar weer pragtig herstel.

Salalah is die derde grootste stad in die Sultanaat van Oman. Dis glad nie ’n stad met hoë of blink geboue nie. Dit is ’n tipiese Arabiese stad met sy diverse geboue van lelike akkommodasiewoonstelblokke vir die werkersklas, middelklas akkommodasie vir die middel-werkersklas, tot pragtige villas vir die meestal plaaslike inwoners. Salalah is geleë tussen ’n groot bergreeks en die Arabiese see. Salalah grens aan die Arabiese see, en is ook gewild vir sy lekker weer dwarsdeur die jaar. In die hitte van die somermaande beleef dit ook ’n weerverskynsel genaamd die Khareefseisoen, ’n moesontoestand uit die oostelike gebiede van Indië en die Arabiese see. Dan is dit vir drie tot vier maande mistig met misreën. Waar omliggende lande gebuk gaan onder hoë temperature en droë hittetoestande, het Salalah heerlik tropiese koeler weer. Gewoonlik stroom toeriste Salalah toe tydens Khareeftyd, juis vir die heerlike weer.

Vir ons raak dit ’n tyd van laastes. Vir my veral. Laaste Ramadan. 

My laaste vlug uit Salalah. Laaste datahernuwing. Die naweek die laaste keer braai met vriende. Alles raak nou vinnig laastes, want as alles volgens plan verloop land ek en ons kat Sashy vroeg in Mei in die Kaap. Willie volg vroeg in Julie, en dan is ons tuis en gelukkig. Ons sien uit.

Deel op

Nuutste artikels