Waar om die beste Kersplekke in Londen te vind

13/12/2018
| Deur Wian
Fletch

Dit is die wonderlikste tyd van die jaar in die wonderlikste stad in die wêreld. Ja, Kersfees is voor Londen se deur. Van buitelugysskaats tot party van die mees ryk versierde geboue wat jy jou kan verbeel, doen niemand Kersfees soos die Londenaars nie. Sou jy nou of voor Kersfees in Londen wees, doen jouself ’n guns en besoek hierdie #ChristmasInLondon-plekke:

Annabel’s

Geleë in Mayfair by Berkeley-plein 46, is Annabel’s ’n privaat klub gesetel in ’n 26 000 vierkante voet Georgiaanse herehuis. Met sewe weelderig versierde kroeë, kamers en restaurante binne, is die klub toegespits op die vermaak van die koninklikes, magnate en die room van Londen se adellikes. Indien jy (soos ek) ’n blote nie-adellike is, is die aanskouing van hierdie toonaangewende klub se interieur nie in jou nabye toekoms nie. Maar gelukkig vir ons het Annabel’s die buitekant van hul gebou versier met een van Londen se rojaalste Kerstonele sedert menseheugenis. Reeds bekend oral oor sosiale media, sal jy jouself moet regmaak vir ’n geveg teen die talle Instagram-gebruikers wat rondhang om selfies saam met die gebou te kan neem. Dit is egter beslis die moeite werd en moontlik my gunsteling Kerstoneel in Londen hierdie jaar.

https://www.instagram.com/p/Bq2UrNEFJG9/?utm_source=ig_embed

The Royal Arcade

Gebou in 1879, is The Royal Arcade Londen se oudste doelgeriggeboude inkopie-arkade en is vandag die tuiste van ’n reeks deftige juweliers, antiekhandelaars en ontwerperswinkels. Die pragtig versierde Victoriaanse arkade het steeds sy oorspronklike glassaaldak, stucco-boë, asemrowende rooi kolomme en sy ikoniese uitgeboude vensters, tans alles in superstylvolle Kersversierings getooi. Met ingange by Albemarlestraat 12 en Ou Bondstraat 28 is dit moeilik om die arkade alleen te geniet – veral op ’n besige weeksoggend – maar neem gerus die tyd om die asemrowende dekor te gaan soek en onthou daar is niks verkeerd met ’n bietjie wenskopery nie!

https://www.instagram.com/p/Bq9hj9hlwe5/?utm_source=ig_embed

Burlington Arcade

Aanvanklik gebou om te keer dat die laer stand Londenaars vullis oor ’n muur in die tuin van Burlington House (toe deur Lord George Cavendish besit) gooi, het Burlington Arcade in 1981 geopen, met die aanbieding van ’n eksklusiewe inkoopervaring vir die rykes en bekendes van die dag, waar luukse en ingevoerde goedere, juweliersware en fyngebak tentoongestel word. Vandag is die arkade ’n deftige inkooplokaal met pragtig versierde winkelvensters en huisves modehandelsmerke, juweliers en vele antiekesilwerhandelaars.

https://www.instagram.com/p/BrDphWJFDW5/?utm_source=ig_embed

Covent Garden

Covent Garden doen nie net eenvoudig Kersfees nie, hulle IS Kersfees! Van die feestelik versierde winkels tot die reusagtige Kersboom en die kostelikste klein groen karretjie met geskenke gelaai, is ’n besoek aan hierdie wêreldbekende inkopiedistrik ’n Londense Kerstradisie. Terwyl jy daar is, verken handgemaakte produkte in oulike klein winkels of drink ’n drankie in een van die 60+ kroeë. Jy kan ook ’n ete gaan geniet by Londen se oudste restaurant, Rules, wat sy deure in 1798 – ’n allemintige 220 jaar gelede – geopen het.

https://www.instagram.com/p/Bq7ob0MFPpA/?utm_source=ig_embed

The Ivy

Wel, wat sou Kersfees sonder ’n gemmerbroodhuisie wees? Hierdie jaar het die Ivy Chelsea Garden alles uitgehaal en hul hele winkelvenster in ’n Kersdroom van suiker en spesery omgetower. Geleë in King’s Road, is die heeldag-eet restaurant ’n plaaslike gunsteling en ’n bespreking vir ’n tafel is ’n moet. Om die buitekant te bewonder is egter gratis, so maak seker jy gaan vir ’n perfekte Kersgeïnspireerde selfie.

https://www.instagram.com/p/BqMWFLmhWiS/?utm_source=ig_embed

Natural History Museum

Ysskaats buite, al om ’n asemrowend versierde Kersboom, slegs meters weg van my gunstelingplek in Londen? Asseblief, ja! Indien jy jouself moeiteloos oor die ys kan sien sweef soos prinses Elsa, met die Waterhouse-gebou in die agtergrond, dan is die Natural History Museum se ysskaatsbaan dié plek om hierdie Kerstyd te wees. Die ysskaatsbaan is oop tot 20 Januarie 2019, met kaartjies wat tussen £12.65 en £17.05 per volwassene kos.

https://www.instagram.com/p/BrA39ytFFY9/?utm_source=ig_embed

Peggy Porschen

En nou dat jy die dag regoor Londen spandeer het in ’n tog van die een weelderig versierde gebou na die volgende, wed ek dat jy honger is. Ja? Goed. Kry jouself by Peggy Porschen uit. Pragtig geleë op die hoek van Eburystraat 16, Belgravia, is Peggy en haar koeke ’n Londense tradisie. Eers sal jy ingehark word deur die perfekte wit, pienk en silwer Kersornamente, -tierlantyntjies en -klaterstringe wat hul Instagram-bekende ingang optooi. Maar dit is die ongelooflike aromas wat by die bakkery uitsweef wat jou regtig in ’n wip vang. Maak jouself weereens gereed vir ’n geveg deur ’n skare Instagram-gebruikers by die deur, ’n lang tou dors Londenaars voor jy nog in is en ’n effense duur prysetiket. Maar in die algemeen, doen dit beslis. Die warmsjokolade is ongelooflik, die koeke is ryk en romerig en die handversierde suikerkoekies is die oulikste goedjies wat jy ooit gesien het.

https://www.instagram.com/p/Bq4TNXyldQe/?utm_source=ig_embed

Deel op

Nuutste artikels