Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?

11/07/2025
| Deur Sue-Ann de Wet
Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?

Emigrante deel hul hartseer, heimwee en humor

Wanneer iemand besluit om hul lewe op te pak en na ’n nuwe land te trek, is daar soveel dinge wat jy moet agterlaat – sommige waarvan jy dalk nie eers bewus is totdat jy reeds vertrek het nie. Die verlange na geliefdes, bekende gesigte en daaglikse geriewe kan onverwags intens wees.

AfriForum Wêreldwyd het onlangs ons vriende op ons Facebook-blad gevra: “Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?”

Die antwoorde het vinnig ingestroom – en dit het nie net voorstelle vir gunstelingprodukte of -plekke ingesluit nie, maar ook brokkies van mense se harte. Ons kyk vandag na ’n paar van die antwoorde uit ons wêreldwye gemeenskap.

Vir baie emigrante is die verlange na geliefdes die diepste wond:

  • Yolandi Enslin Moss en Anel Brink het net eenvoudig gesê: “My ouers.”
  • Dinè Nagel, Leanie van Brummen en Angelique Vogel verlang almal intens na hul ma’s.
  • Reyno Lizelle Engels het ’n besonder seer plekkie onthul: “Ons oudste seun.”
  • Leanie Heijmans-Soine skryf hartroerend: “My kleinkinders en mammie.”
  • En Carolien Pieterse som dit mooi op: “My familie, my werk, my huis, my vriende en my menswees.”

Soms is dit die klein, alledaagse goed wat ’n mens die meeste mis:

  • Sunél Kukkuk het met passie verklaar: “Woolworths se voedselafdeling.”
  • Chantel Keyzer verlang na “Cream Soda. In ’n blikkie.”
  • Adele Wepener Stone se lys is ’n gedig op sigself: “My hartsmense. Hadidas. ’n Volksblad, Huisgenoot, Keur. Reuk van grond ná donderweer. Seesand. Boerseep. Ai, te veel om te noem.”
  • Erna Coomans dink met nostalgie terug aan iets wat baie Suid-Afrikaners ken: “Lennon’s medisyne.”
  • Vivienne Wilson mis haar papegaai Cleotjie.
  • Jaco Moniqué Lazenby skryf: “My hondjies en familie.”
  • En Japie Swart bring dit almal huis toe: “Ons almal sal sê ons familie en vriende, maar ek mis die Bosveld en ons diere verskriklik.”
  • Jacqueline Fattori wens sy het meer kon vasvang: “Meer foto’s en my Doc Martens.”
  • Jolene Harley verlang terug na haar speelskool.
  • Maryns van Rensburg sê dit so mooi: “Altyd familie. Maar ja, om net met ’n tas oor te gekom het … sou graag meer sentimentele goed wou bring.”

Sommige het eenvoudig geantwoord:

  • Willemijntje Ten Cate: “Afrika.”
  • Yolande van der Merwe het net gesê: “My lewe voor immigrasie.”

Elke antwoord op ons Facebook-blad was ’n herinnering daaraan dat emigrasie nie net gaan oor ’n nuwe begin nie, maar ook oor wat agterbly. Die tas waarmee jy vertrek, mag fisiek lig wees – maar emosioneel dra dit soveel gewig.

Die emigrasieproses bring nuwe uitdagings en oorweldigende emosies mee. Verlange na familie en bekende dinge is ’n diepgewortelde deel van elke emigrant se ervaring. Het jy ook dinge wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het? Ons wil graag van jou hoor! Deel jou blog en foto’s met ons.

Lees ook: Ver weg, maar steeds naby: Hoe om die uitdagings van verskillende tydsones te oorkom – AfriForum Wêreldwyd

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels