Deur Alana Bailey
Wêreldstorieverteldag word jaarliks op 20 Maart gevier. Dit werp die soeklig op die kuns en noodsaaklikheid daarvan om stories oor te vertel. Op dié dag word spesiale geleenthede vir soveel mense moontlik geskep om stories deur die dag en nag in soveel tale en op soveel plekke moontlik te vertel.
Dit klink dalk soos oordrywing om te sê dat dit noodsaaklik is om stories te vertel, maar die dag is juis ingestel om bewusmaking oor dié feit te skep.
Wanneer ons aan vertelkuns dink, mag dit dalk mooi herinneringe aan ons kinderdae oproep – aan slaaptyd met ’n ma of pa wat vertel of voorlees, of ’n ander familielid wat stories uit hul jeugjare vertel. Later het ons paaie waarskynlik gekruis met storievertellers soos Jan Spies of Tolla van der Merwe, wat ons nie net met stories nie, maar ook met tonekrullekker lag assosieer. ’n Goeie komediant moet beslis ’n goeie storieverteller wees, maar alle goeie storievertellers is nie noodwendig komediante nie.
Verder is daar stories wat geheel en al verdigsels is, ander wat die reine waarheid is, en dan ’n mengsel van die twee, waar feite nie té veel in die pad van ’n goeie storie staan nie.
Navorsers publiseer deurentyd bevindings oor die waarde van stories. Dit sluit in dat dit empatie by mense kweek, waardes en kennis oordra (en dit só help bewaar), sosiale verandering kan aanwakker (dink byvoorbeeld aan Charles Dickens se verhale wat mense van sy tyd van die lot van armes bewus gemaak het), kan help om idees te bemark, en mense selfs kan help om sin van moeilik verstaanbare gebeure te maak. Stories word natuurlik ook makliker as “droë” feite onthou.
Die belangrikste voordeel is egter dat dit mense aan mekaar verbind. Nie alleen bou dit ’n sterk emosionele band tussen die verteller en die luisteraar nie, maar ook ’n verbintenis tussen hulle en die karakters waaroor die storie gaan.
Vir mense wat immigreer, is stories selfs nog van groter belang. Die verhale van hul land van herkoms wat hulle onthou en oorvertel, bly vir hulle ’n band met en anker in die land wat hulle verlaat het en kan troos wanneer heimwee toeslaan. Dit skep ook vir die geslagte ná hulle ’n band met dié land wat daarvan ’n werklikheid maak, al sal hulle dalk nooit eers daarheen reis nie! Dit skep ’n gevoel van geborgenheid, maar terselfdertyd ook iets eksoties, want die verteller en hul mense is nie net deel van die plek waar hulle woon nie, maar ook van elders. En laat ons nou maar eerlik wees: As ons oor ons grootwordplekke en -tye gesels, is die stories altyd meer opwindend as wat die werklikheid was. Soos die Nederlandse sanger Benny Nejman in Wat was het leven mooi oor sy kinderdae sing: “De tuin was altijd groen, de lucht was altijd blauw.”
Die stories oor mense se immigrasie is ook kosbaar: oor hoe die besluit geneem is, ingepak is, afskeid geneem is, aangepas is, die skade en skandes wat deel van die proses was, die avonture en die prestasies wat behaal is. Dit kan huidige en komende geslagte inspireer, want elke immigrasieproses het te make met lesse wat geleer is en struikelblokke wat oorkom is.
Ten slotte is daar die stories van die nuwe land. Dit kan weer help om waardering vir dié plek en sy mense te skep, en help om hulle beter te verstaan. Só skep dit weer ’n anker in nuwe, minder bekende vaarwater.
Veral mense wat met kinders immigreer, of wat ná immigrasie kinders in die buiteland kry, kan groot waarde tot hul eie én die kinders se lewens toevoeg deur hierdie drie soorte stories te vertel.
Dit geld nie net vir kleuters nie, maar ook vir ouer kinders en volwassenes. Eie ervarings kraai altyd koning, maar legendes en sprokies van oor die wêreld kan maklik bygevoeg word.
Familie en vriende wat nie saam immigreer nie kan saamkuier en hul stories deur media soos Zoom en Teams vertel. Op dié manier bou en behou hulle ’n lewende band met die mense wat weggegaan het en voeg nog meer kennis en herinneringe oor die land van herkoms by.
In stories bly mense se streekstaal, uitdrukkings en eiesoortige humor voortbestaan. My ouers en grootouers is almal al oorlede. In my gedagtes kuier ek dikwels weer saam met hulle om ons eetkamertafel met die songeel damasktafeldoek ná die Sondagmiddagete. Pa vertel van die kattekwaad wat hy en oom Boet aangevang het. Ma volg op oor hoe sy leer motor bestuur het, maar vergeet het hoe die remme werk en toe met Oupa se Ford al om die skuur moes ry totdat die petrol op was. Nog beter is die stories van Oupa en Ouma – sy vertel van die koekblik met die trourok en silwer wat tydens die Anglo-Boereoorlog op Oupagrootjie se plaas begrawe is, en hy van die gewoontes van die diertjies en goggatjies van die Nokland, waar hy grootgeword het. My pa se pa is oorlede toe my pa nog ’n tiener was. Enige storie oor hom het my aan ’n legendariese figuur voorgestel wat ek helaas nooit self geken het nie. My pa se ma was weer ’n eindelose bron van Jakkals-en-Wolf-stories – sy kon skreeusnaakse stemme vir dié twee karnallies maak as sy oor hul avonture uitgewei het. So bly hierdie ses kosbare mense lewendig – al is dit net in my herinneringe. Hul stories is ’n skat wat ek kan waardeer en weer verder kan deel.
Soms het stories selfs interessante gevolge oor geslagte heen. In die 1990’s het ek Tim, ’n jong Australiër, ontmoet, wat na Suid-Afrika verhuis het. Sy oupa was ’n Suid-Afrikaanse soldaat wat tydens die Tweede Wêreldoorlog op ’n Australiese verpleegster verlief geraak het. Hulle is getroud en het hulle in Australië gevestig. Tim het grootgeword met sy geliefde oupa se stories oor Natal in sy ore, en toe Tim klaar studeer het, het hy liefdadigheidswerk in Suid-Afrika kom doen. Uiteindelik het hy besluit om te bly en hom hier te vestig. “Ek was al kind in my klas met tarentaaleiers in my kosblik,” het hy altyd vertel.
Dus: Deel op 20 Maart of sommer nou ’n paar stories met iemand. Jy is welkom om dit ook vir Wêreldwyd te stuur. Wie weet watter gevolge dit kan inhou!
“[A] person who had never listened to nor read a tale or myth or parable or story, would remain ignorant of his own emotional and spiritual heights and depths, would not know quite fully what it is to be human.”
– Ursula K. Le Guin