‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan, moet plaasvind in ’n gebou wat vir logistieke doeltreffendheid ontwerp is. Geen plek vir die seer verhale wat hulle daarin afspeel nie. Net nóg ’n storie in die storiefabriek wat ons lughawens noem.” – Dr. Sulette Ferreira
Lees ook: Lughawens is storiefabrieke
Ons het onlangs vir ons Wêreldwyd-vriende gevra hoe hulle die afskeidsgroet by die lughawe ervaar. Hulle het hulle ervarings met ons gedeel.
Lindi-Lee Lock Bekker
Waar lughawens vantevore vir my ’n plek van opwinding en vooruitsig was, is dit nou die plek waar my hart uit my lyf geskeur word. Albei ons kinders en hulle eggenote en ons kleinkind woon in Nieu-Seeland. Daardie opwinding wanneer hulle arriveer, is onbeskryflik. Maar heeltyd weet jy dat jy weer oor twee of drie weke daar gaan staan met die teenoorgestelde gevoelens. Daai laaste voel van die hande, laaste drukkie, laaste ruik aan jou kind se hare voor hulle begin loop, is aaklig. Jy sien niemand anders behalwe hulle nie en die trane loop onbeheers. Jy staan en waai totdat jy hulle nie meer kan sien nie. Dan draai jy verwese om en stap terug kar toe om terug te gaan na ’n dolleë, stil huis vol herinneringe. Jy weet nie wanneer jy hulle weer gaan sien nie.
Hannetjie Jordaan
Beide ons kinders is oorsee met hulle gades en die kleinkinders. Wat dit erger maak, is dat hulle nie in dieselfde land woon nie. Ons kuier nooit meer almal saam nie. Iemand is altyd ‟missing in action”. Dit is rof op ’n mens se gemoed.
Anne-Marie Strydom Bronkhorst
Ek en my sussie, my enigste lewende familie, groet baie vinnig met ‟Bye. Sien jou (hopelik) gou weer.” Toe ek in Julie daar was, het ons letterlik ’n minuut gehad om te groet toe my lughawe-kombi by haar huis opgedaag het. ’n Vinnige drukkie, soen, en daar gaan ek. Ons kan nie meer die lang uitgerekte groetery hanteer nie. Dis te emosioneel vir ons albei.
Elmarie Kemp
Na 24 jaar is ek nog steeds baie hartseer. Dit raak nooit makliker nie. Ek het die laaste jare van my ouers se lewe hulle eerder tuis gegroet en my vriende het my lughawe toe geneem – nog steeds tranerig, maar darem nie so erg nie. Ek is net ontsettend dankbaar dat beide ons kinders by ons in Kanada is, een 150 km ver en die ander in ons stad. Ons en ons ouers was die twee hartseer generasies wat ouers en kinders moes groet. My hart is so seer vir my vriende wie se kinders oorsee woon. Ek is bevoorreg om twee vriende se kinders en kleinkinders naby te hê en ek is nou hulle Kanadese ma en ouma. Ons Kerstafel het groter geword.
Tania Nel
Ons is nou 17 jaar in Nieu-Seeland. My ma en pa gaan nooit saam lughawe toe, dis te (hart)seer. Om my sus, swaer en kinders by die lughawe te groet, laat my hart pyn. Ons gaan gewoonlik vroeg, eet saam, stap na die terminaal en groet en kry klaar. Dis nooit maklik nie.
Tania Schnetler
Toe ons geëmigreer het, het my pa by die lughawe gehuil. Ek onthou nou nog hoe hy sy oë met sy sakdoek afgevee het. Dit was hartverskeurend. Gelukkig sien ek hom elke jaar.
Néll Delport
Ons huur ’n kar en ry alleen lughawe toe.
Susan van der Walt
Dit voel soos dood, ’n stukkende, hartverskeurende oomblik. Na 15 jaar se groet op lughawens is die seer nog net so erg.
Madeleine O’Neill Karele
Ek woon nou al 23 jaar in Frankryk. Ek het probeer om elke jaar in Suid-Afrika te gaan kuier, om huis toe te gaan. Mense, dis hartseer. Ons almal huil met die aankoms van blydskap om mekaar weer te kan vashou en drukkies te kan gee. En dan die groet … Dis die seerste seer om te wonder óf ons mekaar weer gaan kan sien. Die seer en trane op my ma se gesig omdat sy nie haar kinders by haar het nie en nie haar kleinkinders kan sien grootword nie … Tot daai laaste afskeidsgroet toe ek geweet het dis die laaste keer wat ek haar kon druk en vashou. Lughawens is vir my van die hartseerste plekke.
John McDermott
Wanneer tyd uitloop in die lewe maak jy vrede met daardie laaste keer toe hulle deur daardie hekke geloop het vir die finale vlug, toe jy geweet het daar gaan nie maklik ’n weersiens wees nie. Dit was so onherroeplik, amper soos wanneer die kis in die graf afsak.
Hannetjie Jordaan
Lughawens is sekerlik dié plek waar die twee grootste uiterstes van emosies hulle afspeel. Daardie uit jou vel wees van blydskap oor die weersiens. En dan daardie voel asof jou hart uit jou liggaam geskeur word met die totsiens sê. Hoe ouer ’n mens word, hoe erger word dit. Dit sal nooit makliker word nie. Ons doen dit nou al vir jare. Ons is egter dankbaar dat ons hulle nog elke jaar kon sien.
Irma Montgomery
Dis baie traumaties! Dis nou 15 jaar en dis nog steeds hartseer.
Rina Pretorius
Die dag toe ek my man daar by die lughawe afgelaai het, het ek in my hart geweet hierdie afskeid is anders as alle ander. Dit was ’n finale rugkeer-afskeid. Ons is net daarna geskei. Die dag daar op die lughawe het ek my laaste trane hartstogtelik gehuil en toe vrede gemaak met my lot.
Zelda Hattingh
Die weersiens is so emosioneel – dis trane van blydskap! Maar die totsiens sê is moeilik. Dit voel of jou hart uitgeruk word wanneer jy totsiens sê. Ek was altyd die sterke, maar hierdie keer was die ergste ooit vir my. Om my dogter op die lughawe te groet en te sien hoe sy daar anderkant die doeanehek staan en huil en daar is niemand om haar te troos nie, het my hart gebreek.
John McDermott
Ek het my kleinkinders op die lughawe gegroet – ’n negejarige seun en vierjarige dogter. Al spelende het hulle gehardloop en aan alles gehang terwyl hulle ma haastig tasse moes herpak en sommige net daar moes los, net om die land gou te verlaat. Jy groet asof jy hulle oormôre weer sal sien!
Maar nee. Nou, agt jaar later, het dit ingesink: Dit was die laaste sien en groet op ’n lughawe! Dit laat my dink aan ’n tronkdeur wat toegeslaan het vir ’n langtermynvonnis. Nou besef jy: Maak vrede. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Hulle is weg, vir ewig.
Linda Cilliers
Soms kom ek in opstand en voel dis net nie aanvaarbaar om vier kinders en ses kleinkinders te hê en almal is oorsee nie. Ek het al meer trane op lughawens gestort as by enige begrafnis.
Suzette van Jaarsveld
Ek moet by die lughawe groet, anders voel dit vir my hulle is nie regtig weg nie. Ek wag tot daai vliegtuig opstyg, dan huil ek my oë uit, vee my trane af en besef hulle is beter af. En dan verlang en huil ek tot ek kan gaan kuier.
Lila Vermaak
Ek laat nooit my ouers toe om my lughawe toe te vat nie. Ek vra altyd vriende. Ons groet op ander plekke, soos ons sou groet toe ek nog daar gebly het. Ek weet nie wat ek sal doen as hulle vir my by die lughawe moet totsiens sê nie; ek is ook te bang om uit te vind.
Deel jou ervaring
Hoe hanteer jy die afskeid van familielede wat jy op die lughawe moet groet? Dalk het jy wenke vir ander wat gemengde emosies ervaar.
Foto: Skitter Photo/ Pexels