Uit en tuis: ’n e-pos uit Newfoundland en Labrador

12/05/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
IMG-20231210-WA0034

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Ladine Britz, wat in Newfoundland en Labrador, ’n eiland in Kanada woon.

Hallo Ladine Britz! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om verlede jaar in Kanada te gaan woon?

Ek en my man is albei van Pretoria-Oos en het in Moreletapark gewoon. My man is ’n vlieënier en het 14 jaar lank vir National Airways Corporation (NAC) gevlieg, waarvan hy grotendeels buitelands gevlieg het, van Afghanistan tot die DRK. In sy laaste vier jaar van sy loopbaan by NAC het hy ’n lugambulans gevlieg wat baie veeleisend was. Ongelukkig het Covid ook die deure van talle lugrederye laat sluit en het vlieëniers se opsies al minder geraak. My man was op die uitkyk om van lugredery te verander en om ander ervaring op te bou, en so het Kanada op ons pad gekom. Let wel, ons het met vier tasse en ons twee honde in Kanada aangekom. Die res van ons besittings en meubels het alles agtergebly. Ons het werklikwaar ’n splinternuwe blaadjie omgeslaan.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ek en my man is in 2018 getroud. Met ’n moeilike paar jaar agter die rug, het ek swanger geraak met ons dogtertjie wat binnekort twee jaar oud sal wees. Sy is die middelpunt van ons bestaan en bring soveel vreugde na ons huishouding. Ons hou daarvan om te stap met ons honde en om in die buitelug te wees wanneer die weerstoestande ons toelaat en natuurlik, braai!

Hoe het jy die emigrasieproses na Kanada ervaar?

Dit was ’n baie lang en uitputtende proses maar ook baie emosioneel en senutergend. Ons het ook nie gebruik gemaak van ’n agentskap om die dokumentasie en aansoeke vir ons te doen nie, en dit het baie kop hou en moed hou geverg.

Dit kan uitdagend wees om in ’n nuwe land aan te pas. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland? Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

Ons het aan die einde van die winter uit Suid-Afrika vertrek en in die begin van die winter in Kanada aangekom; dit was ’n riller. Die winters hier is nie vir sissies nie. Met temperature so koud as -25 en sneeu wat jou heuphoogte in die oë staar, het dit baie moed hou gekos. Ek was al talle kere, in die tyd wat ons hier is, gereed om weer op ’n vliegtuig te klim terug Suid-Afrika toe. Mens voel by tye skoon kloustrofobies met die hoeveelheid sneeu om jou.

Jy het genoem dat jy ‘n dogtertjie het. Hoe oud is sy en hoe het sy in die nuwe land aangepas?

Ons dogtertjie wat amper twee jaar oud is, het dit ook maar aan die begin moeilik gehad omdat ons nie veel buite kon wees met die snerpende koue nie. Dit het baie kreatiwiteit gekos om aktiwiteite binnenshuis te doen sonder om verveeld te raak – ’n uitdaging met ’n kleuter. Sy het in Januarie met dagsorg begin en kort daarna was sy in die hospitaal opgeneem met longontsteking. Ek kan uiteindelik sê dat sy dagsorg begin geniet en aanpas by die weerstoestande.

Hoe vorm of behou jou dogtertjie ’n verhouding met haar grootouers?

Ek het nuwe waardering vir tegnologie gekry! Ons praat daagliks met mekaar op WhatsApp en video-oproep ten minste elke naweek en elke ander keer wanneer die tye ooreenstem en tyd ons toelaat. Video’s, foto’s en stemnotas word daagliks oor en weer gestuur van nuwe en spesiale gebeurtenisse. Ons moet gereeld spasie op ons fone maak vir nóg foto’s en video’s!

Hoe verskil die skoolstelsel in Kanada van dié in Suid-Afrika?

Ek is nog nie bekend met hoe die skoolstelsel hier werk nie. Wat ek wel weet is wanneer daar sneeustorms is, bly skole toe totdat die sneeustorm verby is, dit word dan ’n “snow day” genoem. Skole en meeste ander ondernemings en instansies is dan toe en almal is baie verheug om ’n “bonusrusdag” te kan hê! Ek haal my hoed af vir mense wat wel moet werk deur “snow days”.

Vertel ons watse werk julle doen en hoe die werkskultuur in die land verskil van dié in Suid-Afrika.

My man vlieg ’n lugambulans in Kanada en ek werk by ’n organisasie wat programme aanbied vir swanger vrouens asook vir kinders van die ouderdom van 0 tot 6 jaar. Dit is heeltemal die teenoorgestelde van dit wat ek in Suid-Afrika gedoen het, maar ek geniet dit en dit is ’n geleentheid vir my om nuwe dinge en mense te leer ken. Ek het in Suid-Afrika vir die South African Medical Association gewerk. Dinge kan soms baie stadig gebeur hier en soms verg dit baie geduld, maar die lewenskwaliteit is ook soveel anders.

Hoe vergelyk die lewenskoste en verblyfopsies in Newfoundland en Labrador met dié in Suid-Afrika?

Alles oor die algemeen is maar duur en die grootste fout wat ons steeds maak is om alles om te skakel na rand toe! Behuising regoor Kanada is ’n massiewe probleem omdat dit so ongelooflik duur is en dit veroorsaak dan dat daar soms drie gesinne en dalk nog meer hulself in een huis probeer inpas.

Was Newfoundland en Labrador se klimaat ’n groot aanpassing?

Tussen alles bly dit steeds die grootste aanpassing. Ons glo en vertrou dat die sneeu nou eers op ’n einde is en ons het al ’n paar “warmer” dae gehad met dagtemperature tussen 0 en 12 grade. Ons het al gespot en gesê enige iets van 0 grade en op is warm! En dan is mense soos miere wat buite rondwemel, ons inkluis, wat ons hele lewe lank gekla het wanneer dit té warm was!

Hoe verskil die kossoorte in Kanada van dié in Suid-Afrika? Is dit anders om inkopies te doen in Newfoundland en Labrador in vergelyking met Suid-Afrika?

Die meerderheid kos wat ons hier in die winkels koop is maar dieselfde as wat dit in Suid-Afrika is, maar tog ook anders … anderste smake, geure, verpakkings, ens. Ons is wel baie trots Suid-Afrikaans wanneer ons in Walmart sien dat die druiwe en ander vrugte van Suid-Afrika is, teen ’n baie hoë prys. Omdat ons op ’n eiland woon, kos alles dubbel soveel as in ander dele van Kanada en belasting is ook baie hoër.

Wat doen jy vir ontspanning in Newfoundland en Labrador?

As gevolg van die aard van my man se werk het ons nog nie veel geleenthede gehad om die eiland te verken nie. Ons probeer soveel as moontlik na ander dorpies om ons toe ry, wanneer die weerstoestande ons toelaat. Ons sien uit na ’n welverdiende, eerste wegbreek wat om die draai vir ons wag!

Watter interessanthede het jy ontdek van Newfoundland en Labrador wat jy nie vantevore geweet het nie? 

Interessante feite oor Kanada/Newfoundland en Labrador:

  • Newfoundland and Labrador het sy eie tydsone. In die somer, vier en ’n half uur agter Suid-Afrikaanse tyd, in die winter en dagligbeparing, vyf en ’n half uur agter Suid-Afrikaanse tyd.
  • Alhoewel Kanada se twee hooftale Engels en Frans is, is Newfoundland ook ryk aan Ierse geskiedenis.
  • Die eiland dra ook die grootste populasie walvisse in Noord-Amerika, asook die meeste voëlspesies, insluitend die Atlantiese papegaaiduikers!

Bestuur van motors en bestuurslisensies – hoe verskil dit van Suid-Afrika? Besit julle jul eie motor of maak julle gebruik van alternatiewe vervoer?

Ons het elkeen ’n internasionale lisensie gekry voor ons weg is uit Suid-Afrika wat geldig is vir ’n jaar. Om hier jou leerling- en bestuurderslisensie te doen, vat minute in vergelyking met die proses in Suid-Afrika. Om gewoond te moes raak om aan die regterkant van die pad te bestuur, was ’n uitdaging op sy eie en het kop hou geverg. Ek kry myself nog gereeld dat ek aan die linkerkant van die kar wil inklim. Ons het ons eie voertuig, maar hier is ook taxidiensverskaffers waarvan mense gebruik kan maak.

Is daar enige eg Suid-Afrikaanse winkels naby waar jy trooskos soos biltong kan koop?

Ongelukkig nie hier op die eiland waar ons woon nie, maar wel in ander dele van Kanada. Mens kan deur Amazon ook sekere Suid-Afrikaanse produkte bestel, teen ’n stewige bedraggie! Ons probeer maar met wat ons hier beskikbaar het tradisionele, Suid-Afrikaanse geregte maak. Maar niks sal ooit soos my ma se mielietert of my pa se gebraaide skaaptjoppies of my ouma se souskluitjies proe nie!

Is daar enige professionele diensverskaffers (byvoorbeeld dokters, prokureurs en tandartse) waar jy woon wat jou in Afrikaans kan help?

Soveel mense het ons al van die misterieuse dr. van Heerden vertel wat van Suid-Afrika is en nou in Gander (die dorp waarin ons woon) tuis gaan, maar nog nooit in lewende lywe ontmoet nie. Van Heerden is ook my nooiensvan. Wie weet, dalk is ons nog vêrlangs verwant.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?

Ek mis “huis”. Die gevoel van nabyheid aan my ouers, ouma, boetie, familie. Die onbeplande, maar tog ingestelde Sondagetes by my ouers se huis. Geen reëlings word getref nie, ons wéét net Sondagete is by my ouerhuis, wat meeste van die tyd braai was. Daar was selde kere wat my ma binne die huis gekook het, en wanneer dit die geval was, het jy gewonder of daar dalk iets fout is!

Enige lesse wat julle geleer het?

Ek weet met my hele hart dat ons as gesin hier is met ’n groter doel, maar tog is mens elke dag bewus daarvan dat die grond onder jou voete, nie “joune” is nie. Almal sê, “met tyd” sal dit ook jou “huis” word, maar ek is nog vêr daarvandaan. Die gras is nie altyd groener aan die anderkant nie! Kanada het net soveel uitdagings en glo dit of nie … slaggate ook!

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Ek is elke dag bewus daarvan dat ons werklik geseënd en bevoorreg is dat die geleentheid oor ons pad gekom het. Dit val nie elke dag in enige iemand se skoot nie, maar saam met die geleentheid kom daar ook ’n baie swaar hartseer, ’n gevoel van rou, ’n intense verlange na jou mense, jou land, jou kultuur wat mens gereeld oorrompel, en dan ook soms ’n gevoel van alleenheid. Elkeen gaan aan met hul dag en daar is ook sommige wat van jou “vergeet”. So het elke voordeel ook sy nadeel, maar ons pak elke dag met ’n dankbare gemoed en hart aan. Sommige dae is moeiliker as ander maar ons werk na ’n doel en hoop om sommer spoedig in Suid-Afrika te gaan kuier en hopelik om vir ouma en oupa ook ons “nuwe” lewe te kom wys! Wie weet, sou daar ’n geleentheid oor ons pad kom om terug Suid-Afrika toe te trek, beslis! Vir nou kan ek darem nog Suidooster en Binnelanders kyk en ek mis dit vir niks! Groete uit Gander, Newfoundland en Labrador.

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels