Natuurhoekie 69: Giftige sampioene in Suid-Afrika

17/05/2024
| Deur Alana Bailey
thomas-bormans-ZtM-W-3f0C4-unsplash-scaled

Deur Alana Bailey

Enkele jare gelede het my ma en ek in ’n gastehuis naby ’n woud in die Suid-Kaap gebly. Net na sonop het ons die gasvrou se ma met ’n mandjie vol sampioene deur die tuin sien loop. Sy het skrikwekkend baie na Sneeuwitjie se stiefma in my sprokiesboek gelyk. Later die oggend was sampioen-omelette deel van die ontbytspyskaart, maar ons het wantrouig verbygehou …

Dit is ’n feit dat verskeie gevalle al in Suid-Afrika aangeteken is waar mense gesterf het na hulle giftige sampioene gepluk en geëet het. Een van die webtuistes oor sampioene in die land merk sinies op dat álle sampioene wel geëet kan word … maar sommige net een keer.

Daar is verskeie soorte giftige sampioene in die land. Die sondebok wat skynbaar vir die meeste sterftes verantwoordelik is, is Amanita phalloides, ook bekend as duiwelsbrood, slangkos, of in Engels, death cap. Dit groei in klam en koel omgewings soos plantasies. Hierdie spesie is nie inheems nie. Die spore het waarskynlik saam met ander plantmateriaal in die land aangekom. Die grootste probleem is dat dit baie na eetbare sampioene lyk en dus maklik daarmee verwar kan word.

Wat gebeur wanneer Amanita-sampioene geëet word? Van 6 tot 14 uur later begin die slagoffers siek word. Hulle gooi op, kry diarree, maagpyn en kopseer. Dan vind ’n vals herstel plaas, maar ’n dag of twee later begin hulle tekens van lewer- en nierversaking toon. Pasiënte gaan in ’n koma en sterf. So min as 30 gram van die sampioen kan dodelik vir ’n volwassene wees. Teenmiddels bestaan, mense kan die vergiftiging oorleef, maar in sommige gevalle sal die gevolge só ernstig wees, dat hulle leweroorplantings sal benodig.

Die beste raad is dus om nie self sampioene te gaan pluk nie, al meen jy ook jy is ’n kenner, maar dit eerder by betroubare handelaars te koop.

Indien iemand vermoed dat hy of sy deur sampioene vergiftig is, is dit nodig om so gou as moontlik mediese hulp te kry en ’n voorbeeld van die sampioen wat geëet is, saam te neem vir identifikasie. Nie alle soorte sampioene se gif het dieselfde uitwerking nie, daarom moet die soort geïdentifiseer word voordat behandeling kan begin.

Skryf vir ons

Is jy lief vir die natuur? Het jy al enige interessante dieremaniere dopgehou of pragtige landskappe in die buiteland ontdek? Deel jou staaltjies en foto’s met ons by wereldwyd@afriforum.co.za.

Lees ook: Natuurhoekie 68: Op Vlerke: Die natuur se geheimenisse gee vlerke … eendag by ’n watergat

Foto: Thomas Bormans/ Unsplash

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels