Kuiers by jou kinders in ’n verre land

21/05/2024
| Deur Dr. Sulette Ferreira
pexels-rdne-6148876-scaled

Wat ouers moet weet

Deur Sulette Ferreira

Die oomblik wat jy van die vliegtuig afstap, word jy oorweldig deur gemengde gevoelens – gevoelens van vreugde én onsekerheid. Jou hart loop oor van afwagting vir die langverwagte kuier by jou kinders en kleinkinders wat nou ’n vreemde land hul tuiste noem.

Dit is die realiteit van talle ouers met volwasse kinders in die buiteland. Met hierdie reise poog ouers om die emosionele afstand te oorbrug wat dikwels ’n bittersoet ervaring kan wees: die diepliggende vreugde van die weersiens en die kompleksiteite van veranderde familierolle.

In my werk as ’n emigrasieterapeut deel ouers dikwels hulle ervaring van besoeke aan hul kinders in die buiteland met my. Deur die lens van die besoekende ouers verken ons die uitdagings wat hierdie transnasionale besoeke inhou en gee ek wenke om jou te help om dit so waardevol as moontlik te maak.

Vra jouself af: Waarom wil ek gaan kuier?

Op die oog af lyk die antwoord dalk voor die hand liggend: Jy en jou kinders is lief vir mekaar en hunker na nabyheid.

Die antwoord is egter nie so eenvoudig nie. Sodra jy as ouer die redes vir die kuier van nader begin ondersoek, kom sekere nuanses na vore wat jy in ag moet neem. Vir ouers wat die lang en duur reis onderneem om by kinders en kleinkinders oorsee te kuier, bied so ’n besoek meer as net ’n geleentheid om saam te wees. Dit is ook ’n verkenning van jou kinders se nuwe wêreld. Dit is ’n geleentheid om hul nuwe daaglikse lewe te leer ken en daaraan deel te neem en ook om jou eie plek daarin te ontdek. Dit bied jou die geleentheid om ’n aktiewe deelnemer te word eerder as ’n toeskouer.

Jou transnasionale reis bied veel meer as die fisiese weersiens; jou teenwoordigheid as ouer verbind die hede met die verlede en is ’n bewys van jou verbintenis om deel te bly van hul toekomsdrome.

Foto: Getty Images/ Unsplash

Beplan doelgerig, maar laat ruimte vir die onverwagte

Deeglike voorbereiding vir jou kuier in die buiteland kan ’n reuseverskil maak. Dit is raadsaam om jou vlugte vroeg te bespreek – dit is dikwels sinoniem met koste-effektiwiteit.

Neem jou kinders se verpligtinge en skedules in ag en integreer dit in jou reisplanne. Met goeie beplanning kan elke lid van die gesin bydra tot ’n suksesvolle besoek. Dis meer as net ’n logistieke uitdaging – dit word ’n liefdestaak.

Onthou, selfs noukeurige planne kan skipbreuk ly as gevolg van gekanselleerde vlugte of gesondheidskwessies. Maak dus seker dat jy ’n alternatiewe plan in plek het.

Kommunikeer deurlopend

’n Transnasionale besoek kan nooit ’n eensydige aangeleentheid wees nie. Proaktiewe, gesamentlike beplanning en goeie kommunikasie verseker dat almal op dieselfde bladsy is. Dit is noodsaaklik dat die dialoog voortdurend aangepas word om ruimte te laat vir elkeen se unieke behoeftes.

Wees bedag daarop dat daar ’n verandering in die manier van kommunikasie gaan wees wanneer jy jou kinders weer sien. Waar julle voorheen van e-posse, boodskappe of video-oproepe as kommunikasie middel gebruik gemaak het, moet julle nou gewoond raak aan mekaar se fisiese teenwoordigheid. In sommige gevalle is dit ’n sensitiewe proses wat geduld, empatie en ’n oop gemoed verg. Gun mekaar die nodige tyd en ruimte om aan te pas by die subtiele nuanses van julle geselskap.

Opofferings en die ouer reisiger

Die hoë koste van oorsese reise kan ’n struikelblok wees om jou kinders meer gereeld te sien, veral gedurende die feesseisoen. Die bykomende uitgawes van reis- en gesondheidsversekering dra by tot die finansiële las. Groot en besige internasionale lughawens en vreemde tale is ’n verdere uitdaging en lang vlugte kan jou energie tap.

Nietemin weeg die kostes nie op teen die waarde daarvan om naby jou kinders en hul gesinne te wees nie. Die opofferings lei tot ’n reeks kosbare beleggings in die gesin wat vir altyd gekoester sal word.

Foto: Getty Images/ Unsplash

Koester realistiese verwagtinge

Kuiers bied ’n toets vir realistiese verwagtinge.

Jou kinders het hulle eie huishoudings gevestig in ’n ander samelewing met sy unieke kultuur en gebruike. Dit is natuurlik om trots te wees op die volwasse mense wat hulle geword het. Nietemin is die nostalgiese verlange na vervloë dae, toe jou plek in hulle daaglikse lewens meer prominent was, onvermydelik.

Die realiteit is egter anders; jou rol as ouer het verander van toesighouer en gids na besoeker en ondersteuner.

Wanneer jy in jou kinders se huis instap, is jy ’n besoeker. Jy bepaal nie meer die rigting van hul lewens nie. Pas aan by die veranderde gesinsdinamika. Vind die sensitiewe balans tussen om betrokke te wees en om voldoende ruimte te laat waarin hulle kan floreer.

Plaas die klein irritasies en frustrasies wat julle tyd saam kan versuur opsy. Dit kan verhoudings vertroebel en soveel hartseer veroorsaak. Neem verantwoordelikheid vir jou optrede: Kies om dankbaar te wees vir die geleentheid om saam te wees. So kan die besoek ’n positiewe en verrykende ervaring vir almal wees en die geleentheid bied om herinneringe te skep vir wanneer elk weer in sy eie wêreld is.

Sluit af deur vorentoe te kyk

Om weer te groet, is nie maklik nie. Wanneer jy huiswaarts keer, gevul met ’n skatkis vol kosbare herinneringe, is dit wenslik om vorentoe te kyk.

Beplan daarom nou reeds die volgende ontmoeting – of dit nou ’n besoek in die warmte van julle huise sal wees, die gedeelde vreugde van ’n vakansiebestemming, of ’n digitale gesprek.

Kuiers oor landsgrense heen is skaars en kosbaar. Wanneer jou kinders en kleinkinders aan jou besoek terugdink, moet hulle dit onthou as ’n tyd van onverganklike liefde en vreugde, ’n getuienis van die lewende band wat julle as ’n familie saambind. Laat die beste van jouself agter.

Hierdie kosbare mense is immers die rede vir jou besoek.

Foto: Tyler Nix/ Unsplash


Lees ook: Ons moet praat oor emigrasie

Kontak Sulette Ferreira

sulette.ferreira@gmail.com

www.drsulette.com

Instagram

Facebook

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels