AfriForum verwelkom internasionale lede

04/07/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
sa_event_sluitaan4

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum Wêreldwyd is al vir meer as ’n dekade die tuiskomplek vir Suid-Afrikaners in die buiteland. Hierdie platform verskaf ’n waardevolle diens waardeur ekspats vanuit die buiteland kan kontak hou met Suid-Afrika en waardeur hulle die Afrikaanse taal en kultuur in ander lande kan bewaar en uitbou.

Om bogenoemde doelwit te bereik bied AfriForum Wêreldwyd onder meer die jaarlikse Afrikaans is Lekker-musiekkonserte aan en verskaf belangrike inligting wat dié gemeenskap raak deur die Wêreldwyd-webtuiste en die gratis Wêreldwyd-nuusbrief. Daar is ook uitstekende Afrikaanse programme wat gratis op AfriForumTV gekyk kan word. Dit sluit natuurlik verskeie reekse vir die jongspan in.

Op plaaslike bodem volhard AfriForum egter steeds in die vestiging van ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir familie en vriende van ekspats wat in Suid-Afrika woon.

“AfriForum is toegewyd aan die versterking van ons veiligheidstrukture oor die hele Suid-Afrika heen. Met 172 buurtwagte staan ons saam teen misdaad, beskerm ons gemeenskappe in dorpe, stede en op plase, en bou ons aan ’n netwerk van veiligheid en ondersteuning. AfriForum werk onverpoosd om ’n veilige en voorspoedige toekoms vir inwoners van die land te probeer verseker. Voorts bied ons traumaeenheid unieke ondersteuning aan slagoffers van geweldsmisdaad, insluitende plaasaanvalle,” vertel Sue-Ann de Wet, hoof van Diaspora by AfriForum.

Sue-Ann de Wet, hoof van Diaspora by AfriForum

Van AfriForum se grootste veldtogte is om Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp) stop te sit. Laasgenoemde word uit verskeie oorde as ’n direkte aanval op Afrikaanse skole beskou. Indien dié wet in werking sou tree, sal besluite oor openbare skole se taal- en toelatingsbeleid uit die hande van skoolbeheerliggame geneem word en aan ’n staatsamptenaar, wat geen benul van die skool se behoeftes het nie, oorgedra word. AfriForum is gereed om albei hierdie wette in die hof te beveg indien nodig.

AfriForum veg ook daagliks teen korrupsie en het ook reeds meer as 70 noodwaterpunte in die land opgerig om die waterkrisis wat al op verskeie dorpe kop uitgesteek het, te pak.

Internasionale AfriForum-lidmaatskap NOU beskikbaar

AfriForum Wêreldwyd het hierdie week sy internasionale AfriForum-lidmaatskapplatform bekendgestel. Deur hierdie platform kan ekspats – wat ten spyte van geografiese afstand steeds wil help bou aan die toekoms van ’n veilige en voorspoedige Suid-Afrika ­– ’n bydrae tot AfriForum se projekte maak.

In ’n boodskap aan mense in die buiteland verduidelik Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, hoe mense in ander lande AfriForum verder kan ondersteun.

“Jy kan AfriForum help om hierdie aksies verder uit te bou deur as internasionale lid by AfriForum aan te sluit. Dit sal jou in staat stel om self te kies hoeveel jy per kredietkaart kan bydra,” sê hy.

Sluit-aan

Klik hier om as ’n internasionale AfriForum-lid aan te sluit.

Hierdie artikel het oorspronklik in Forum Nuus verskyn.

Deel op

Nuutste artikels