Ons moet praat oor emigrasie

12/07/2024
| Deur Dr. Sulette Ferreira
ouers

Deur dr. Sulette Ferreira

Mense is altyd besig om te trek – na ’n nuwe huis, ’n nuwe dorp of stad, of selfs somtyds na ’n nuwe land. Die lewensveranderende besluit om uit jou land van oorsprong te emigreer kan die skaal van die lewe enige kant toe laat kantel. Ons kan óf baie wen óf baie verloor deur hierdie risiko te neem.

Die doel van hierdie enorme missie is om êrens elders in die wêreld te gaan vestig om ’n beter lewe te skep. Hierdie soeke na iets beters het egter ’n rimpeleffek op almal wat daarby betrokke is.

Om dit in ’n onbekende wêreld te waag

Ons almal leef in twee wêrelde: die uiterlike wêreld van ervarings, omstandighede en situasies, en die innerlike wêreld van reaksies, emosies en gedagtes. Emigrante waag dit in ’n nuwe, onbekende wêreld. Hulle verlaat dit wat bekend is om van voor af te begin in ’n nuwe kultuur en omgewing. Hierdie veranderinge kan verwoesting saai in ’n mens se binneste.

Alhoewel jy as emigrant fisies na ’n ander land getrek het, bly jou innerlike wêreld oorwegend dieselfde. Jy bevind jouself as’t ware tussen twee wêrelde – net een van die talle emosies ná jou ontworteling uit ’n bekende omgewing. Almal se ervaring van emigrasie is uniek. Emigrante ervaar dikwels die hervestiging in ’n onbekende omgewing met gemengde, uiteenlopende en wisselende emosies.

Emigrasie kan ’n bevrydende en positiewe ervaring wees. Talle mense gryp hierdie geleenthede ten volle aan en floreer in die nuwe wêreld. Ander ervaar ’n diepgesetelde gevoel van emosionele ontworteling wat gevoelens van verlies en pyn tot gevolg het. Sommige mense ervaar albei. Internasionale hervestiging kan jou lewenslegkaart erg deurmekaar krap!

Onsekerhede en twyfel

Vir die persoon wat dit nog oorweeg om te emigreer, kan daar baie onsekerheid wees:

  • Moet ek bly of moet ek gaan?
  • Het ek dít wat nodig is om die mas op te kom?
  • Maak ek die regte besluit vir my en my familie?
  • Wie sal na my geliefdes omsien wat in Suid-Afrika agterbly?

Vir die emigrante wat reeds daar is, mag daar dalk baie twyfel opduik:

  • Was dit die regte besluit om my seile te span en Suid-Afrika te verlaat?
  • Sal ek vir altyd soos ’n uitgeweke reisiger voel?
  • Hoe maak ek seker ek dryf nie weg van my geliefdes by die huis nie?

Die lewenslegkaart van geliefdes wat in Suid-Afrika agterbly is ook deurmekaar. In jul poging om dit te hanteer, mag daar dalk baie vrae opduik:

  • Gaan ek saam lughawe toe as hulle op pad is?
  • Hoe hanteer ek die enorme gevoel van verlies?
  • Hoe bly ek in kontak?

Om die legkaart te bou

Vir sowel die emigrant as die wat agterbly kan dit moeilik wees om openhartig te praat oor hoe ons werklik voel. Dit verg moed om vir berading te gaan. Jy moet bereid wees om introspeksie te doen en diep binne jouself te kyk om helderheid te verkry. Die oplossing vir al jou vrae lê in der waarheid binne jouself.

Die gesprek met ’n professionele persoon bring baie aspekte in skerper fokus. Laat dit na en jy loop jy die risiko van gekompliseerde rou. Binne die veilige spasie van die gesprek met ’n kundige kom onbewuste denke na vore wat jou help om sin te maak van jou huidige situasie. So val die stukkies van jou lewensreis een vir een in plek om die groter prentjie te help herstel.

Soms is een konsultasie voldoende, maar sommige van ons het ’n paar sessies nodig om duidelikheid en berusting te kry. Afstand is uit die aard van die saak nie so ’n groot kwessie met aanlyn emigrasieberading nie. Vir die emigrant maak dit die wêreld se verskil as daar ’n simpatieke oor is wat met groot begrip luister.  

Ontmoet ’n medereisiger

Ons is almal swerwers op hierdie lewensreis. Ons het al almal die opgewondenheid van nuwe dinge en die hartseer van dit wat ons moes agterlaat ervaar.

As berader beskou ek myself as jou medereisiger. In so ’n gelyke verhouding vind jy waardevolle leiding in beide jou fisieke en emosionele reise. Soos wat Irvin Yalom dit gestel het:

“Think of your clients as fellow travellers, rather than dividing into healers and the afflicted – we are all in this together and no person has immunity to the tragedies of existence.”
—Irvin Yalom, The Gift of Therapy (2003)

Dankie aan Cilliers Willers


Dr. Sulette Ferreira is ’n sosiaal wetenskaplike navorser en familieberadingsterapeut in privaat praktyk in Suid-Afrika. As navorser is sy passievol oor transnasionalisme en die uitwerking daarvan op verhoudings tussen verskillende generasies. Hierdie navorsingsbelangstelling word in haar praktyk toegepas, waar sy spesialiseer in die emosionele effek van emigrasie. As emigrasiekonsultant verskaf Sulette berading aan families voor en ná emigrasie om hierdie meervlakkige verlies te verwerk wat die emigrant sowel as die mense wat agterbly ervaar.  

Kontak dr. Sulette Ferreira

sulette.ferreira@gmail.com

www.drsulette.com

www.instagram.com/drsulette

Deel op

Nuutste artikels