Uit en tuis: Van Delareyville tot Warwick in Australië

21/10/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
6

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat tans oorsee woon of wat vroeër in die buiteland gewoon en gewerk het.

Om jou lewe in ’n ander land te begin, beteken dikwels dat jy alles wat bekend en vertroud is, moet agterlaat en van voor af moet begin. Dit bring uitdagings, nuwe geleenthede en soms ook ’n paar verrassings mee.

Hierdie week gesels ons met Cecil Barnard, wat op ’n plaas naby Delareyville grootgeword het en hom uiteindelik in Warwick, ’n dorpie in Queensland, Australië, gevestig het.

Cecil vertel van sy emigrasie-ervaring, die Australiese leefwyse, sy gesin se aanpassing en waarom hy hierdie hoofstuk van sy lewe “Die jaar nul” noem.

Hallo Cecil, dit is baie lekker om met jou te gesels!

Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik, en waar in die wêreld woon jy tans?

Ek het op ’n mielie-en-melkplaas naby Delareyville in die destydse Wes-Transvaal, vandag Noordwes, grootgeword en aan die PUK in Potchefstroom studeer.

Gedurende my volwasse lewe het ek meestal in Pretoria gewoon, maar ook in lande soos Nigerië, Mosambiek en Uganda gewerk. My vrou is ’n gebore Pretorianer, hoewel sy as lugwaardin die wêreld vol gevlieg het.

Ons woon nou in Warwick, ’n pragtige dorpie sowat 165 kilometer suidwes van Brisbane. Dit is deel van die Southern Downs- en Granite Belt-streek, wat bekend is vir sy wynplase, appel- en kersieboorde.

Dit is ook die koudste streek in Queensland. In 2015 het dit selfs hier gesneeu!

Wat het jou laat besluit om Suid-Afrika te verlaat en oorsee te gaan woon?

Ek het in 2001 saam met MTN na Nigerië verhuis. Soos die Engelse sê: “Nigeria is not for beginners.” Hoewel ek my tyd in Lagos geweldig geniet het, het die ervaring my anders na Suid-Afrika se toekoms laat kyk. ’n Paar voorvalle van persoonlike misdaad in Pretoria was uiteindelik die waterskeiding.

Ek het verskeie lande oorweeg, waaronder Australië, Engeland, die Verenigde State, Nieu-Seeland en Nederland. My kwalifikasies as stadsbeplanner en projekbestuurder het gelukkig heelwat geleenthede gebied.

Australië het my nog altyd aangetrek. Die wye, oop vlaktes, die mense se liefde vir sport, die buitelewe en natuurlik braaivleis, al noem hulle dit ’n barbie of BBQ, het my laat tuis voel. En natuurlik bestuur hulle ook aan dieselfde kant van die pad as ons!

Vertel ons ’n bietjie meer van jou gesin en wie saam met jou in die buiteland woon.

Ons is ’n saamgestelde gesin. Ek en my vrou het mekaar weer by my pa se begrafnis in Suid-Afrika raakgeloop. Daarna het ons twee jaar lank oor die internet ’n verhouding gehad voordat ons op ons familieplaas, Vlakplaas, naby Delareyville getrou het. Ons het saam besluit dat sy en haar twee dogters uit ’n vorige huwelik eerder Australië toe sou verhuis as dat ek na Suid-Afrika sou terugkeer.

Hoe het jy die emigrasieproses ervaar, en wat was vir jou die grootste aanpassing?

My emigrasieproses was relatief eenvoudig, hoewel daar dik pakke papierwerk betrokke was. Daar was destyds ’n groot tekort aan stadsbeplanners in Australië, en my aansoek om permanente verblyf is vinnig goedgekeur. Ek het alles self hanteer en later ook Australiese burgerskap verkry.

Vir my vrou en die dogters was dit ’n ander proses, maar binne ses maande ná ons troue het hulle in Australië aangekom. Vandag is hulle al drie Australiese burgers. Die dogters is nou ware Aussies! Hulle preek vir my wanneer ek die spoedgrens oorskry en berispe my as ek nie my flikkerlig by ’n verkeersirkel gebruik nie.

Wat doen jy vir werk, en hoe verskil die werkkultuur daar van dié in Suid-Afrika?

Ek is ’n stadsbeplanner en projekbestuurder. My werk wissel van stedelike ontwerp en ontwikkelingsbeheer tot hernubare energieprojekte en klasgee aan die plaaslike universiteit. Ek geniet my werk en het groot waardering vir die professionele mense met wie ek saamwerk.

Australiërs is besonder stiptelik. Hulle is nooit laat vir vergaderings nie, maar hulle hou daarvan om baie vergaderings te hou! Alles moet volgens ’n bepaalde proses geskied, en hulle is baie gesteld op gesondheid en veiligheid in die werkplek.

Ek probeer altyd ’n grappie maak en neem min dinge té ernstig op. In die 19 jaar wat ek hier woon, het ek oorwegend positiewe ervarings met my kollegas gehad. Die ou beginsel om ander te behandel soos jy self behandel wil word, geld beslis hier.

Hoe verskil die algemene leefwyse en lewenskoste waar jy woon van dié in Suid-Afrika?

Die eerste les wat jy leer wanneer jy in jou nuwe land aankom, is om op te hou om alles na rand om te skakel. Wanneer jy ’n Australiese salaris verdien, is die land redelik bekostigbaar. Belasting op alkohol en tabakprodukte is hoog, maar ’n mens leer gou waar om goeie wyn teen ’n billike prys te koop.

Wat vir ons die grootste verskil maak, is die lewensgehalte. Ons dogters kan gaan draf, fietsry en laat in die aand uitgaan sonder om voortdurend oor hulle skouers te kyk. Australiërs is, net soos Suid-Afrikaners, lief vir die buitelewe. Kampeer, sport, visvang en motorfietsry is baie gewild.

Behuising is egter ’n groot uitdaging. ’n Gewone huis in Brisbane kan deesdae tussen 1,5 en 2 miljoen Australiese dollar kos. Hoë huispryse, inflasie en brandstofkoste plaas toenemende druk op huishoudings.

Die politiek verskil ook heelwat van Suid-Afrika s’n. Dit is byvoorbeeld verpligtend vir Australiese burgers om in verkiesings te stem, en jy kan beboet word indien jy nie stem nie. Wat ek interessant vind, is dat jou plaaslike parlementslid sommer deur die strate loop en met inwoners gesels.

Selfs ek het intussen ’n elektriese Tesla gekoop. Dit is nogal ’n ander ervaring om jou motor, amper soos jou selfoon, by die muur in te prop. Ons leef beslis in interessante tye!

Was dit maklik om nuwe vriende te maak en deel van die plaaslike gemeenskap te word?

Ja, vir ons was dit redelik maklik.

My vrou het as vrywilliger by die plaaslike inligtingsentrum begin werk, terwyl ek by fietsry- en motorfietsgroepe aangesluit het. Die kinders, wat destyds 11 en 13 jaar oud was, het by skoolaktiwiteite betrokke geraak en was sommer gou meer Australies as die Australiërs self!

Ons het goeie vriende gemaak en geleer dat dit belangrik is om jou nuwe land en sy gebruike te respekteer. Iets wat Australiërs irriteer, is Suid-Afrikaners wat voortdurend oor Australië se streng wette kla, vertel hoe wonderlik Suid-Afrika is en dan kort daarna weer oor die probleme in Suid-Afrika kla.

Ons probeer daarom om nie voortdurend vergelykings te tref nie, behalwe natuurlik wanneer dit by jerky en biltong kom! Ons praat ook nie graag sleg van Suid-Afrika nie. Die meeste mense hier ken nie ons land se ingewikkelde geskiedenis nie. Ons sê eenvoudig: “It is a beautiful country with some challenges.”

Die keuse van ’n skool was ook vir ons belangrik. Ons dogters het na ’n plaaslike Rooms-Katolieke skool gegaan. Die skoolhoof het destyds vir ons gesê: “This is an academic school. We aim to prepare your children for the grown-up world.” Ons was nog nie een dag spyt oor daardie besluit nie.

Is daar ’n Suid-Afrikaanse of Afrikaanse gemeenskap in jou omgewing, en kom julle soms bymekaar?

Ja, daar is verskeie Suid-Afrikaanse groepe, meestal rondom kerke, geloofsgemeenskappe en sport. Ons het ’n klompie dierbare Suid-Afrikaanse vriende en kuier gereeld saam. Ek het egter agtergekom dat, as jy nie in Suid-Afrika met iemand vriende sou wees nie, jy waarskynlik ook nie hier met daardie persoon vriende sal wees nie. Ons vermy ook die groepies wat voortdurend kla. Dit tap eenvoudig ’n mens se energie om ’n hele aand saam met mense deur te bring wat net oor alles ongelukkig is.

Is daar Suid-Afrikaanse winkels naby waar jy produkte soos biltong, beskuit en ander trooskos kan koop?

O ja, beslis! Aan die Gold Coast is daar ondernemings soos De Beers en Springbok Foods wat Suid-Afrikaanse produkte invoer en ook biltong, droëwors en boerewors verkoop.

In Toowoomba, ons naaste groot stad, is daar ’n SPAR wat allerlei Suid-Afrikaanse produkte aanhou, van speserye en houtskool tot koeksisters. Toowoomba is ’n pragtige plek. Ek sou sê dit is amper ’n mengsel van Potchefstroom en Pietermaritzburg. Ons koop gereeld sakke vol biltong en droëwors daar!

Watter interessante dinge het jy van jou nuwe tuisland ontdek wat jy glad nie geweet het voordat jy daarheen verhuis het nie?

Hoe ongelooflik gesteld Australiërs op reëls en regulasies is! Hulle is besonder wetsgehoorsaam. Nog iets wat my opgeval het, is hoe anders godsdiens hier benader word. Die Potchefstroomse Dopper-kultuur waarmee ek grootgeword het, bestaan eenvoudig nie hier nie. Baie mense is gelowig, maar geloof word grootliks as ’n persoonlike saak beskou.

Die gemiddelde Australiër is ook glad nie statusbewus nie. Dit maak nie vir hulle saak of jy ’n miljoenêr of ’n straatveër is nie. Jy gaan niemand hier beïndruk deur te vertel dat jy vroeër ’n groot huis met ’n swembad en twee Mercedes-Benz-motors in Bronkhorstspruit gehad het nie!

Kry jy kans om te reis, en watter plek wat jy sedert jou emigrasie besoek het, staan vir jou uit?

Ek en my vrou reis albei baie graag, en Suidoos-Asië is relatief naby. Ons gunstelingstad is Hongkong. Ek het ook heelwat vir akademiese doeleindes gereis, onder meer na Maleisië, Thailand, Viëtnam en Indonesië. Ek is gek oor die Ooste. Die mense werk ongelooflik hard, maar bly steeds vriendelik en gasvry.

Praat jy nog gereeld Afrikaans, en hoe hou jy jou Afrikaanse taal en kultuur lewendig in die buiteland?

Ja, ons praat Afrikaans by die huis en met ons Suid-Afrikaanse vriende. Ek het wel agtergekom dat ons baie meer Engels met ons Afrikaans meng as my familie in Suid-Afrika. Maar hulle is nogal taalpuriste!

Ons koop ook sakke vol Afrikaanse boeke en ruil dit onder mekaar uit. Ek het elke enkele boek van Dana Snyman, Deon Meyer en Chris Karsten. En natuurlik leer ek ook my Australiese vriende ’n paar Afrikaanse vloekwoorde!

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

My familie, die ongelooflike vriendelikheid en gasvryheid van die mense. Ek mis die Tswana-meisies se gelag en die natuurskoon van die Karoo, die Wes-Kaap, Botswana en Namibië. Daar is baie dinge wat ons mis.

As jy terug kon gaan na die tyd voordat jy Suid-Afrika verlaat het, wat sou jy anders doen, of watter raad sou jy vir jouself gee?

Dit is nogal ’n filosofiese vraag. Ek het baie lekker in Suid-Afrika gebly en koester goeie herinneringe. Ek sou vir myself sê om die mooi dinge meer te waardeer, meer oor eenvoudige dinge te lag en te onthou dat niks permanent is nie. Ek dink ook ek sou graag meer betrokke wou wees by burgerlike opvoeding en om mense praktiese lewensvaardighede aan te leer.

Wat sal jy hierdie “emigrasiehoofstuk” van jou lewe noem, en hoekom?

“Die jaar nul.” Dit herinner my aan die Afrikaanse boek oor Kambodja, Die jaar nul. Wanneer jy emigreer, begin jy werklik van voor af. Dit is ’n strawwe blitskursus in selfkennis, selfwaarde en diplomasie, veral met jouself.

Emigrasie is wild! Jy land in ’n plek waar jy niemand ken nie en waar niemand jou ken nie. Alles hang van jou af. Nie jou oupa se naam of die dorp waarin jy grootgeword het nie.

Maar ek is nie spyt nie.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van

Nuutste artikels

Meer artikels deur