Nuwe ID-slimkaarte en paspoorte vir Suid-Afrikaners

19/07/2024
| Deur Sue-Ann de Wet
Image-by-wirestock-on-Freepik

Die minister van binnelandse sake, Leon Schreiber, het onlangs planne aangekondig om nuwe, bygewerkte slim-identiteitsdokumente (ID’s) en paspoorte in te stel. Hierdie inisiatief het ten doel om die veiligheidskenmerke van die huidige dokumente te verbeter.

Alhoewel die verandering weerstand ondervind van Suid-Afrikaners wat geheg is aan hul tradisionele groen ID-boeke, benadruk Schreiber die noodsaaklikheid daarvan vir verbeterde sekuriteit.

Gedurende ’n onlangse begrotingstoespraak het Schreiber die regering se voorneme uiteengesit om hierdie noodsaaklike dokumente met verbeterde veiligheidskenmerke by te werk. Hy het genoem dat die skuif gemik is op die versterking van die integriteit van Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente en die hantering van voortdurende kommer oor bedrieglike aktiwiteite. Die doel is om meer lande en organisasies wêreldwyd se vertroue te wen.

Baie Suid-Afrikaners is steeds geheg aan hul geliefde groen ID-boeke. Skynbaar is daar ’n wydverspreide skeptisisme oor die noodsaaklikheid van die verandering, veral aangesien Schreiber nie spesifieke besonderhede oor die tydlyn vir die uitrol van die nuwe dokumente of die aard van die voorgestelde veiligheidsverbeteringe verskaf het nie. Die feit dat Schreiber van nuwe veiligheidskenmerke praat, laat mense wat reeds kaarte het ook met onsekerheid of hulle van vooraf vir kaarte sal moet aansoek doen en of die huidige kaarte steeds geldig sal bly. Die gebrek aan duidelikheid het gelei tot gemengde reaksies van die publiek. Baie het vrae oor die koste en die praktiese uitvoerbaarheid van die nuwe ID-slimkaarte.

Volgens onlangse beriggewing sal Suid-Afrikaners binnekort hul groen ID-boeke moet vervang met ID-slimkaarte, ’n oorgang waarop die vorige Minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, aangedring het. Die aanlyn reaksie op menige platforms toon egter dat Suid-Afrikaners skepties is, veral as gevolg van aanhoudende diensleweringskwessies by Binnelandse Sake.

Baie mense is tevrede met hul groen ID-boeke en gefrustreerd oor vertragings en ondoeltreffendheid in die verkryging van die nuwe slimkaarte.

Terwyl die regering probeer om met verbeterde sekuriteitsmaatreëls vertroue te bou by meer lande en organisasies wêreldwyd, bly die publiek verdeel oor die voorgestelde veranderinge. Dit is duidelik dat omvattende kommunikasie en effektiewe implementering noodsaaklik sal wees om hierdie oorgang glad te laat verloop.

ID-slimkaarte is nou beskikbaar vir genaturaliseerde burgers

Vir genaturaliseerde burgers wat al meer as ’n dekade nie vir ID-slimkaarte kon aansoek doen nie, het minister Schreiber positiewe nuus gehad. Volgens hom word ondersteuning vir ID-slimkaarte geleidelik geïmplementeer. Daar is reeds 280 kaarte uitgereik en nog 697 is tans onderweg.

Wanneer die stelsel aangepas is om voldoende aansoeke te verifieer, sal alle genaturaliseerde burgers enige kantoor van binnelandse sake met biometriese fasiliteite kan besoek om vir hulle ID-slimkaarte aansoek te doen.

Sedert die bekendstelling van ID-slimkaarte in 2013 was hierdie kaarte hoofsaaklik beperk tot burgers wat in die land gebore is. Gevolglik moes genaturaliseerde burgers wat hulle groen ID-boeke verloor het of wie s’n gesteel of beskadig is een van die min kantore besoek wat steeds die uitreiking van die ouer dokument ondersteun.

Die DA het aangevoer dat hierdie beperking hul regte as burgers skend. Die situasie sou ernstiger kon word as die departement voortgegaan het met sy plan om groen ID-boeke ongeldig te verklaar.

Binnelandse Sake het eers in Desember 2023 aangekondig dat hulle ’n loodsprojek begin het om ID-slimkaarte aan genaturaliseerde burgers uit te reik.

Die aankondiging van die beskikbaarheid van ID-slimkaarte vir genaturaliseerde burgers is ’n langverwagte stap in die regte rigting om te verseker dat alle burgers, ongeag hul geboorteland, gelyke toegang het tot moderne en veilige identiteitsdokumente.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels