Uit en Tuis: Voordele en nadele ná 22 jaar

02/11/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
pexels-ian-panelo-6564832

Deur Charles

Ons woon sedert 2004 in Adelaide, Australië. Hier geland, hier ons staangemaak. Ná al die jare duik daar steeds klein dingetjies op wat Suid-Afrika en Australië op ’n soms ergerlike, maar dikwels vertederende manier met mekaar kontrasteer.

Die vlieë

Op dees aarde, die Australiese vlieg is ’n woestaard – meedoënloos, onbedagsaam en lui! Hom jaag jy nie sommer met ’n waai van die hand weg nie. Nee, jy moet hom behoorlik wegvee. Hy kleef, klou en plak, veral om jou oë, neus en mond – en nogal in daardie volgorde. En hulle is legio maal legio!

Só beskryf ’n kennisgewingbord by ’n nedersetting sowat 600 km noord van Adelaide die situasie:

Dat die mens dit reggekry het om op die maan te land, maar steeds nie die Australiese vlieë kan baasraak nie, wys maar net hoe onverklaarbaar die lewe soms is.

As jy in die Outback kamp, veral tussen Oktober en April, hou jy maar ’n gesignet byderhand – of liewer, bydergesig! Die Suid-Afrikaanse vlieg is beslis ’n voordeel.

Die winkeltrollies

Meer spesifiek: die agterwiele van die trollies. Hulle draai ook! As jy dit nog nooit beleef het nie, ag jouself gelukkig. Jy beur en sleur om jou inkopies by die motor te kry, en wee jou as die trollie met ’n maand se inkopies gelaai is. Dan beweeg hy soos daardie olifant wat te veel maroelas geëet het.

Nog nie een keer het ek ’n trollie hier gestoot sonder om met swetsende verlange aan die Suid-Afrikaanse weergawe te dink nie. En tot vandag toe bly die rede vir dié rigtingduiwelende ontwerp vir my ’n raaisel. Trollie vir trollie is dié in Suid-Afrika ’n voordeel!

Die spoedgrens

Op die mooiste, breedste en veiligste snelweë is die spoedgrens 110 km/h. Op die oop, slaggatlose streekspaaie wat oor honderde kilometers strek, is dit ook 110 km/h. Dit laat die sowat 2 000 km tussen Adelaide en Brisbane, waar ons dogter en haar gesin woon, net daardie bietjie langer voel. Veral wanneer die bekende vraag opkom: Hoe ver nog?

Jy kan natuurlik ’n kans waag, maar as jy gevang word, moet jy die gevolge dra. Verkeersoortredings kos jou punte, en as jy te veel verloor, kan jou rybewys opgeskort word. Die amptelike 120 km/h op Suid-Afrika se snelweë is dus ’n voordeel!

Die toilette op plattelandse dorpies

Hier moet ons erken dat Australië ’n voordeel is. Jy kan by byna enige plattelandse dorpie aftrek en ’n skoon openbare toilet kry. Sommige vertoon selfs met trots ’n toekenning vir die skoonste geriewe in die omgewing. Geen geknyp of haastige uitstappie veld toe is nodig nie. ’n Mens kry sommer trane van dankbaarheid in jou oë!

Die Suid-Afrikaanse pompjoggie

Nog ’n voordeel van Suid-Afrika. In Australië gooi jy self brandstof in, en meestal stap jy daar weg met die reuk van diesel of brandstof aan jou hande. Daarmee verdwyn ook daardie klein verposing in jou motor wanneer iemand anders die werk doen en jy vir ’n oomblik net kan terugsit en ontspan. Of die karakterbouende geleentheid om nié sommer uit die motor te kan spring wanneer jy en jou wederhelf in ’n argument gewikkel is nie!

Die hotelle op die Australiese platteland

In Australië is ’n hotel dikwels eerder ’n drink-en-eetplek as ’n plek om te oornag. Vir slaap is daar die motelle. Jy kan by feitlik enige plattelandse hotel instap en ’n heerlike pub lunch teen ’n billike prys geniet. Dit is beslis ’n Australiese voordeel, veral in vergelyking met die algemene verdwyning van hierdie eertydse instelling op die Suid-Afrikaanse platteland.

Kinders wat jou in die oë kyk en groet

Hier is Suid-Afrika weer ’n voordeel. Daar is min dinge so lekker soos kinders wat jou behoorlik in die oë kyk en vriendelik groet wanneer hulle by jou voordeur instap. Dit is een van daardie klein kultuurverskille wat ’n mens telkens opnuut trots maak op jou Afrikanerkultuur en die maniere waarmee ons grootgeword het.

Verkeersligte tydens kragonderbrekings

Laastens is daar ’n Australiese nadeel wat gelukkig so skaars soos hoendertande is, maar wat jou bloeddruk binne sekondes kan opstoot: verkeersligkruisings tydens kragonderbrekings. Of, soos ons in Suid-Afrika sê, “robotkruisings”. In Australië is ’n robot immers ’n robot!

Ai toggie, dit is ’n uitdaging wat skynbaar heeltemal bo die Australiërs se vuurmaakplek is. Wanneer die verkeersligte nie werk nie, lyk dit asof almal skielik oorbluf, verbyster en verward is. Dan is dit elke man vir homself! Van die vierrigtingstopreëls is daar min sprake.

Ons krui maar ons taal om beter te voel wanneer ons by so ’n kruising vasval. Gelukkig gebeur dit net een keer elke jaar of twee. Hier is Suid-Afrika beslis ’n voordeel!

Die klein dingetjies wat jou lewe inkleur

Nie een van hierdie voor- of nadele is op sigself ’n rede om te bly of te gly wanneer dit by emigrasie kom nie. Maar dit is juis hierdie klein dingetjies wat jou daaglikse lewe inkleur. Soms binne die lyne, soms buite die lyne en soms sommer heeltemal van die bladsy af.

Want ’n mens vergeet nie waarvandaan jy kom nie. En jy skeur ook nie die bladsye uit nie. Dis immers hoe jou lewensboek vol word

Deel op

Nuutste artikels