Migrasie en die vyf tale van liefde

22/07/2024
| Deur Alana Bailey
getty-images-2QD8aD816iI-unsplash-002-scaled

In 1992 het Gary Chapman, ’n pastoor en huweliksberader, die konsep van liefdestale in sy boek, The 5 Love Languages, uiteengesit. In die boek het hy die vyf unieke maniere beskryf waarop mense liefde uitdruk en ervaar, op grond van sy waarnemings van paartjies. Sedertdien is baie hieroor gepubliseer en geteoretiseer. Dit kan dalk selfs vir mense van nut wees om enige tydelike of permanente migrasieproses te vergemaklik.

Hierdie tale geld nie net vir mense in ’n liefdesverhouding nie, maar vir enige interaksie met ander mense in die gesin, by die werk of waar ook al. Die fokus bly op wat nodig is om iemand gewaardeer en gelukkig te laat voel.

Die vyf “tale” kan kortliks opgesom word as opbouende woorde; kwaliteittyd, die gee van geskenke, diensbare dade en fisiese aanraking.

Voor, tydens en ná die migrasieproses kan individue en veral ook gesinne daarby baat om hulle eie en mekaar se liefdestale te verstaan – die mense wat verhuis sowel as die geliefdes wat hulle agterlaat.

Hiermee ’n paar gedagtes, maar ook die uitdaging dat ’n mens aan nog maniere probeer dink om hierop voort te bou.

1. Opbouende woorde

Vir mense wat opbouende woorde as liefdestaal ervaar, is dit belangrik dat hulle dade raakgesien en waardeer word. Hulle het ’n behoefte daaraan dat daar met groot aandag na hulle geluister word. Migrasie vereis baie harde werk en aanpassings van almal wat betrokke is. Erken mekaar se insette met waardering en al sluip foute soms in, fokus sterk op wat deur elkeen bereik is. Vir kinders is die migrasieproses soms uiters traumaties, al laat hulle dit nie blyk nie. Gee erkenning aan selfs geringe dade wat hulle doen, soos dat hulle hul kamers netjies hou, om hulle te midde van al die onsekerhede gewaardeer en veilig te laat voel.

Opbouende woorde hoef nie net in mekaar se teenwoordigheid uitgespreek te word nie. Stuur gou ’n boodskap aan ’n geliefde tuis om erkenning te gee aan wat hulle vir jou beteken, of om dankie te sê vir iets wat hulle jou geleer het of vir jou gedoen het. Hoe meer onverwags so ’n boodskap is, hoe meer kan dit vir die ontvanger beteken!

2. Kwaliteittyd

Migrasie en die aanpassing in ’n nuwe omgewing gaan gewoonlik met ’n geskarrel gepaard en vreet mense se energie en tyd op, maar vir die mense wat kwaliteittyd as liefdestaal het, is een-tot-een-gesprekke en onverdeelde aandag noodsaaklik al is dit selfs net vir kort tydjies. Maak seker dat daar sulke geleenthede is – met die mense saam met jou sowel as die mense wat agterbly.

Gesinsgesprekke met die mense wat agtergebly het op Teams of ander kanale is lekker, maar onthou om ook individueel te kuier.

3. Gee geskenke

Migrasie is duur en soms neem dit lank voordat ’n mens weer die lewensgehalte kan bekostig wat jy tevore geniet het. Tog hoef geskenke nie duur te wees nie – ’n mooi herfsblaar of blom, ’n lekkergoedjie onder iemand se kopkussing, of bloot net om spesiale geleenthede soos verjaarsdae en huweliksherdenkings te onthou, kan alles van groot betekenis vir hierdie liefdestaalmense wees. Ewe belangrik is om te onthou dat wanneer jy met hulle te make kry, geskenke van hulle met entoesiasme en waardering aanvaar moet word.

Deesdae is die aanstuur van geskenke oor landsgrense heen ’n uitdaging. Dit kos ook baie. Een oplossing is om vir mekaar geskenkbewyse te koop, ’n ander is om voor jy vertrek, of wanneer jy gaan kuier, geskenke vooruit vir geliefdes weg te steek of by iemand te los, sodat dit namens jou aan hulle gegee kan word wanneer dit Kersfees of hulle verjaarsdag is.

4. Diensbare dade

Ook hierdie liefdestaal hoef nie jou begroting te sink nie. Vind geleenthede om iemand se laste ligter te maak. Selfs om na ’n lang dag vir iemand ’n lekker koppie koffie of ’n warm bad reg te hou, kan help. Veral belangrik is dat hulle moet weet dat hulle op jou staat kan maak. Moenie beloftes maak wat jy nie kan nakom nie.

Oor afstand heen is dit ook doenbaar. Veral ouers wat agterbly, sukkel soms met onderhoudswerk. Vind uit wie in hulle omgewing ’n betroubare motorwerktuigkundige, elektrisiën of loodgieter is, en help om afsprake te reël as jy hoor dat daar probleme is.

5. Fisiese aanraking

Van die vyf tale, is hierdie een waarskynlik die moeilikste wanneer jy migreer. Mense wat saam verhuis, kan mekaar met ’n drukkie, soen, of hand op die skouer ondersteun, maar dikwels is die gebrek aan fisiese kontak juis wat die moeilikste is vir die mense wat agterbly. Maak seker dat hulle dus genoeg gekoester word wanneer julle wel weer saam is, al is jyself dalk nie besonder lief vir drukkies nie.

Ten slotte, mense is nie noodwendig net tot een liefdestaal beperk nie, al is daar gewoonlik een wat oorheersend is. As die uitdrukking van een taal nie moontlik is nie, kyk op watter ander maniere jy iets kan doen om vandag ’n verskil in ’n geliefde by jou, of kontinente ver se lewe te maak. Dit kan die angel uit tydelike of permanente migrasie haal en almal se welstand bevorder!

Foto: Getty Images/ Unsplash

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels