Dr. Sulette Ferreira
“… jy kry ʼn kleinkind, en ek kan vir jou sê dis die grootste pluspunt van als. Jy is nie liewer vir jou kleinkind as vir jou kinders nie; jy het jou kleinkind op ʼn onbeskryflike manier lief want jy weet hierdie kind is deel van jou kind, en al wat jy wil gee is liefde. Dit is hoekom grootouers veronderstel is om daar te wees, want hulle gee die suigstokkie al sê mamma dis sleg vir jou tande. Dit is die rol, die suigstokkie – en dit is van my af weggeneem.”
So beskryf ’n transnasionale ouma haar rol as ouma. ’n Grootouer word gebore wanneer ’n kleinkind gebore word. Die verkryging van die eretitel Ouma of Oupa word deur talle grootouers gesien as een van die mees betekenisvolle emosionele gebeurtenisse in hulle lewens. Tog kan die merkwaardige aankondiging dat jy ’n grootouer gaan word gedemp word deur hartseer, veral wanneer die verwagtende ouers – jou kinders – kontinente en selfs tydsones vêr van jou af woon.
’n Grootouer se nabye betrokkenheid by ’n kleinkind het ’n positiewe uitwerking op die emosionele welstand van beide die grootouer en die kleinkind. Om na die kleinkind om te sien verskaf aan die grootouer, veral die ouma, ’n geleentheid om haarself te verlustig in ’n verhouding wat baie uniek van aard is.
Die moontlikheid om ’n betekenisvolle verhouding met ’n kleinkind te ervaar word grootliks bepaal deur deurlopende kontak tussen hierdie drie generasies: die grootouers wat agterbly, die volwasse kind wat emigreer het, en die kleinkind. Om die ouma steeds deel te laat voel van die gesin, is dit noodsaaklik dat die kinders gereeld foto’s van die kleinkinders stuur en hul daaglikse aktiwiteite en belangrike mylpale met haar deel. Op dié manier bly die grootouers steeds deel van hul kleinkinders se lewens. Die kinders vorm dus ’n belangrike skakel tussen die grootouer en die kleinkind en het ’n verantwoordelikheid om die verhouding in stand te hou, veral wanneer die kleinkinders nog baie jonk is.
Hoe gee jy as ouma vir jou kleinkind ’n suigstokkie as julle kontinente vêr van mekaar af bly?
Om die pluspunte van liefdevolle verhoudings met kleinkinders ten volle te geniet, is daar geen plaasvervanger vir fisieke nabyheid nie. Besoeke, indien moontlik, is die beste manier om jou kleinkind se nuwe wêreld te leer ken en te ervaar. Dit laat jou toe om deel te wees van jou kleinkind se nuwe omgewing en om nuwe herinneringe te skep.
Die ander alternatief is internetkommunikasie soos byvoorbeeld e-pos, Skype, WhatsApp en FaceTime. Dit is baie belangrik dat grootouers vertroud raak met digitale kommunikasietegnologie en die nodige vaardighede aanleer om met hulle kleinkinders op hierdie platforms te kan kommunikeer. ’n Ouma wat betrokke wil bly in die lewe van haar kleinkind kan innoverend en kreatief wees deur byvoorbeeld haar skootrekenaar te gebruik om die kleinkinders virtueel te leer om ou familieresepte baas te raak. Maak afsprake met die kleinkind om spesiale aktiwiteite te doen, soos om elke week op ’n sekere tyd ’n storie voor te lees of ’n bordspeletjie te speel. Kontinuïteit word sodoende in die grootouer-kleinkind-verhouding bewerkstellig.
Vind jou unieke manier om die band met jou kleinkind te versterk. Pak die uitdaging met entoesiasme aan om sodoende jou liefde as grootouer vir jou kleinkind uit te leef, selfs oor kontinente en tydsones heen.
Dr. Sulette Ferreira
Beradingsterapeut | Familiebemiddelaar | Emigrasieterapeut
www.drsulette.com
LEES OOK: My kind emigreer – hoe nou gemaak?
Deel op
Nuutste artikels