Gedrukte boek of e-boek – die groot debat

08/06/2023
| Deur Alana Bailey
Photo-by-Sincerely-Media-on-Unsplash-scaled

Deur Alana Bailey

Die vraag of die boekdrukkuns nog ’n toekoms het, word jare lank al gevra. Die spoed waarteen die koerant- en tydskrifbedryf kwyn, laat ’n mens dink dat dit ook die lot van gedrukte boeke gaan wees, maar die saak is nie só eenvoudig nie. Bowendien bevredig aanlyn nuusmedia die onmiddellike behoefte aan nuus, wat noodsaaklik is in die 21ste eeu, maar wanneer dit by boeke kom, is lesers se behoeftes anders van aard.

Die voordele van e-boeke is voor die hand liggend: Jy kan dit enige tyd en enige plek lees, solank daar krag beskikbaar is en jy genoeg plek op jou apparaat het om dit te stoor, of toegang tot die internet het om aanlyn te lees. Die plek waar jy ophou lees, kan maklik gemerk word, wat boekmerke of aaklig gevoude bladsye, onnodig maak. Inligting neem weinig spasie op en dus kan jy letterlik honderde boeke in jou sak saamdra. Teks wat vergroot kan word, maak dit makliker vir mense met gestremdhede om toegang tot die inligting daarin te verkry. Verder is daar heelwat webtuistes waar jy wettig gratis boeke kan aflaai. Verouderde of foutiewe inligting kan natuurlik goedkoop en vinnig reggestel word in e-boeke en vir immigrante-gemeenskappe is dit die ideale manier om die jongste publikasies uit hulle vaderland in hulle moedertaal te kry.

Die nadele is minder bekend – dikwels omdat die nagevolge van die gebruik van e-boeke nou na jare se impak eers duidelik begin raak en ontleed kan word.

Suid-Afrikaners sal waarskynlik eerste dink daaraan dat kragonderbrekings lelik kan inmeng met die gebruik van ’n elektriese leesapparaat. ’n Gedrukte boek hoef nie gelaai te word nie en is minder stremmend op die oë.

Die aanlyn opdatering van inligting het voor-, maar ook nadele. Met gedrukte boeke geld bronverwysings vir ’n onbepaalde tyd, maar in e-boeke kan bladsynommers verander, wat verwysings ongeldig maak en veroorsaak dat inligting moeiliker gekontroleer kan word.

’n Ander kwessie wat tans opduik, is sensuur. Die verhale van geliefde skrywers soos Agatha Christie, Roald Dahl en Ian Fleming word tans herskryf om meer polities korrek te wees, veral wat die beskrywing van mense se voorkoms, verwysings na ras, geweld en geslag aanbetref. Lesers wat ’n sekere weergawe van daarvan aangekoop het, se kopieë word aanlyn outomaties bygewerk met die veranderinge. Hulle lees dus nie meer die skrywer se oorspronklike boek nie, maar iemand van 2023 se weergawe daarvan, gebaseer op sy of haar opinie van hoe dit geskryf moes gewees het. In fiksie is dit ’n skrikwekkende gedagte, maar nog meer so in nie-fiksie, waar feite in geloofwaardige skrywers se werke aangepas kan word om ’n bepaalde narratief te ondersteun. Alle publikasies is dokumente van hulle tyd. Al stem ons nie vandag noodwendig saam met karakteruitbeelding, standpunte of taalgebruik nie, het dit steeds nut om kennis te neem van opinies wat in die verlede gegeld het. As jy nie kan sien hoe dinge vroeër was nie, kan jy immers nie waardeer hoe die samelewing ten goede verander het nie. Gelukkig bly die teks in ’n bepaalde uitgawe van ’n gedrukte boek altyd dieselfde en bied dit ’n bronteks waarheen die leser kan teruggaan om die skrywer se ware stem te hoor.

Dan is daar ook die kwessie van kopiereg. Afrikaanse skrywers het die afgelope tyd uitgevaar teen roofkopieë van hulle boeke wat blitssnel via die internet versprei het. Dit kan nie met die weggee van ’n gedrukte boek wat jy reeds gekoop en gelees het, vergelyk word nie, want die gedrukte boek verwissel hande tussen twee mense wat persoonlik in kontak met mekaar is, terwyl een koper binne minute honderde roofkopieë van ’n onbeskermde e-boek wêreldwyd kan versprei. Tegnologie ontwikkel deurentyd en beskerming wat vandag voldoende is, mag teen môre heeltemal oneffektief raak. Roofkopieë van e-boeke sal dus ongelukkig ’n verskynsel wees wat nog lank met ons is.

Vir akademici is navorsing uit boeke dikwels makliker, omdat jy tegelyk vinnig tussen etlike kopieë kan naslaan. Navorsing in verskeie lande het verder bevind dat lesers beter konsentreer wanneer hulle teks op papier lees. In elektroniese weergawes lei advertensies soms hulle aandag van die teks af. Selfs wanneer daar nie advertensies voorkom nie, is hulle al gewoond om skermteks met minder konsentrasie te lees en swakker te memoriseer. Tegnologie bombardeer mense met inligting, maar in ’n gedrukte boek word meer gefokus wat die leser help om te konsentreer en beter te onthou wat gelees is.

’n Verrassende feit is dat gedrukte boeke veel meer omgewingsvriendelik is as e-boeke. Elektroniese leesapparate het ’n beperkte leeftyd en bevat skadelike elemente wat die weggooi daarvan bemoeilik. Dit vereis ook meer koolstofinsette om dit te vervaardig. Eers wanneer jy tussen 22 en ’n honderd boeke aanlyn lees, kan die omgewingsimpak vergelykbaar met die lees van gedrukte boeke raak. Daarenteen bied opsies soos die koop van tweedehandse boeke of dié wat by biblioteke uitgeneem kan word, uiters omgewingsvriendelike, bekostigbare leesgenot. Drukprosesse gebruik selde nog skadelike stowwe. Wanneer jy ’n gedrukte boek klaar gelees het, kan jy dit weggee of herverkoop – iets wat jy nie wettiglik met ’n e-boek kan doen nie – en selfs wanneer ’n boek onbruikbaar raak, kan die papier herwin word, of kan dit as dekorelement ingespan word.

Nog ’n minder bekende feit, is dat e-boeke nooit die eiendom van hulle kopers word nie. Sou jou leesapparaat gesteel word, of breek, kan jy alles wat jy oor jare aangekoop het, in ’n oogwink verloor. Dit kan nie ’n bate vir die koper wees nie, terwyl gedrukte boeke miljoene rand werd kan wees.

Dan is daar ook die sensoriese waarde van boeke. ’n Pragtig ontwerpte boek of treffende omslagontwerp kan net soveel vreugde as enige ander kunswerk bring. Jou boeke kan selfs as ’n getuigskrif dien – besoekers oordeel dikwels mense aan die boeke op hulle rakke, maar as jy net iemand se Kindle of tablet sien, het jy geen idee wat daarop afgelaai is nie.

Gedrukte boeke spreek ook tot die reuksintuig. Die papier, kleefmiddels en ink waaruit dit bestaan, breek mettertyd geleidelik af. Die proses gee vlugtige organiese verbindings af wat ’n reuk soortgelyk aan vanielje het. Lesers vind dit kalmerend. Via die limbiese stelsel van die brein, kan hierdie reuk herinneringe oproep en selfs emosies opwek.

Die blote vashou en blaai deur ’n boek kan ’n mens se gemoedstoestand positief beïnvloed en konsentrasie verbeter.

Nadele sluit in dat boeke wat swak gebind is, of op swak papier gedruk is, gou vergaan, dat boeke swaar is en baie rakspasie beset, asook goeie lig vereis om gelees te kan word.

Miskien is die beste antwoord op die vraag “Gedrukte of e-boek?”, dat dit nie ’n keuse hoef te wees nie. In die woorde van ’n leser op Facebook: “Moet ek kies? Ek hou daarvan om boeke elektronies te lees, maar wil graag my gunstelinge op papier besit.”

Bowendien maak tegnologie ook deesdae ander opsies moontlik, soos ’n kombinasie van gedrukte boek én aanlyn funksies, deur middel van versterkte realiteitstegnologie (augmented reality).

Beide soorte leesstof het dus in ’n gedeelde formaat, maar ook afsonderlik, nog menslikgesproke ’n lang toekoms voor.

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels