Verlangdans: Wanneer heimwee ’n lied word

10/06/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Verlangdans: Wanneer heimwee ’n lied word

Deur Sue-Ann de Wet

Vir baie Suid-Afrikaners in die buiteland is verlange ’n bekende reisgenoot. Dit is die emosie wat onverwags opduik by ’n lughawe, tydens ’n video-oproep met familie of wanneer ’n bekende liedjie skielik herinneringe wakker maak. Dit is ook die emosie wat vir Adriaan Laubscher, ’n Suid-Afrikaner in Engeland, die inspirasie gegee het om sy nuwe lied, “Verlangdans”, te skryf.

Die lied is onlangs op Spotify en YouTube vrygestel, maar die verhaal daarvan begin lank voor die eerste note opgeneem is.

“Die laaste jaar of so is ek besig met lirieke vir ’n lied, en die stories wat ek vroeër geskryf het, was eintlik almal deel daarvan,” vertel Adriaan. “Verlang bly mos maar deel van verhuis na die buiteland. Ek noem dit ‘Verlangdans’.”

Vir hom het die lied oor baie meer as net nostalgie gegaan. Dit het ontstaan uit jare se belewenisse, afskeide, nuwe beginne en die emosionele spanning tussen dankbaarheid vir die lewe wat hy opgebou het en die mense wat hy moes agterlaat.

“Skryf nou ’n liedjie asseblief”

Die eerste inspirasie vir “Verlangdans” het gekom uit ’n eenvoudige stemnota van sy suster.

“Ek verlang so en weet nie hoe om vir mense te verduidelik nie – skryf nou ’n liedjie asseblief.”

Daardie woorde het by hom vasgesteek.

Ná byna nege jaar in Engeland het hy geweet presies waarvan sy praat.

“Ek verstaan wat sy sê en besef daar is vele mense oor die wêreld wat met hierdie selfde moeilik beskrywende maar baie werklike emosie leef.”

So het hy begin om klein gedagtes en indrukke neer te skryf soos die lewe gebeur.

“Ons gaan ontmoet en groet familie by lughawens en die aand skryf ek: ‘Lughawens waar trane en hoop mekaar soek.’”

Met verloop van maande en jare het hierdie los gedagtes, herinneringe en waarnemings stadigaan begin saamvloei totdat die lirieke van “Verlangdans” vorm aangeneem het.

Die dans met verlange

Vir Adriaan beskryf die lied die voortdurende wisselwerking tussen mooi herinneringe en hartseer.

“Dit is die naaste wat ek kom aan verduidelik. Die dans met verlange.”

Hy verwys na een van die kernlyne in die lied:

“Somtyds lei ek met mooi onthou, somtyds lei die dans met trane wat ek nie wou hou.”

Dit is juis hierdie beeld van ’n dans wat die emosie so treffend vasvang. Verlange is nie altyd hartseer nie. Soms bring dit warmte, dankbaarheid en mooi herinneringe. Ander kere bring dit pyn en die besef van alles wat gemis word.

Vir baie emigrante is dit nie ’n emosie wat verdwyn nie. Dit verander bloot met tyd van vorm.

Vir die mense wat nog dans

Wanneer Adriaan oor die lied praat, is dit duidelik dat hy hoop dit sal aanklank vind by ander Suid-Afrikaners wat dieselfde pad stap.

“Ek hoop dit beteken iets vir my sus, dalk vir ’n ma wat na haar kinders verlang, en vir kinders wat in ’n nuwe land sit en gereeld daardie dans met verlange doen.”

Dit is waarskynlik waarom die lied reeds aanklank vind by mense wat hulle eie emigrasiepad stap. Die woorde probeer nie eenvoudige antwoorde gee nie. Dit erken bloot die werklikheid van die emosie.

’n Lied uit die lewe

Wanneer gevra word wat “Verlangdans” vir hom persoonlik beteken, sukkel Adriaan om dit in ’n enkele sin op te som.

“Elke woord is ’n bousteen van oomblikke van ervaar en beleef en groei en wonder en smeekgebed en dankiegebed.”

Vir hom is die lied die resultaat van jare se lewenservaring – van afskeid en aankoms, van verandering en aanpassing, van verlange en hoop.

“Dit klink seker deurmekaar,” lag hy, “maar dalk is dit ’n aanloop na ’n lied wat harte losmaak en mense laat weet daar is tog iemand iewers wat ook probeer.”

En dalk is dit presies wat “Verlangdans” doen.

Want oral waar Suid-Afrikaners oor die wêreld versprei is, is daar mense wat weet hoe dit voel om tussen bekende herinneringe en nuwe beginne te leef. Mense wat soms glimlag oor ’n mooi herinnering, soms stil raak oor wat hulle mis, maar steeds vorentoe beweeg.

Mense wat hul eie verlangdans ken.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels