Onderneming in die kollig: The South African’s Guide to Thriving in the Dutch Workplace

26/08/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Onderneming in die kollig

Om in ’n nuwe land te werk, vra meer as net ’n nuwe adres, ’n werkskontrak en die vermoë om die taal te verstaan. Elke land het sy eie werkskultuur – daardie ongeskrewe reëls oor hoe mense kommunikeer, terugvoer gee, besluite neem en professionele verhoudings bou.

Dit is iets wat Natasha Viljoen eerstehands ontdek het nadat sy agt jaar gelede Suid-Afrika vir Nederland verruil het.

Met ’n agtergrond in finansies en ’n passie vir mense het Natasha gou besef dat een van die grootste aanpassings nie noodwendig die taal of die praktiese kant van emigrasie was nie, maar die verskille tussen die Suid-Afrikaanse en Nederlandse werkskultuur.

Uit haar eie ervaring en die kennis wat sy oor die jare opgedoen het, het The South African’s Guide to Thriving in the Dutch Workplace ontstaan – ’n onderneming wat Suid-Afrikaners help om die Nederlandse werksomgewing beter te verstaan en met groter selfvertroue daarin te funksioneer.

Van aanpas na floreer

Wanneer ’n mens na ’n nuwe land verhuis, kan jy suksesvol gevestig wees en steeds soms wonder waarom sekere situasies by die werk anders verloop as wat jy gewoond is.

Kommunikasiestyle verskil. Kollegas benader terugvoer anders. Hiërargie, vergaderings, besluitneming en selfs die manier waarop professionele verhoudings opgebou word, kan anders lyk.

Dit beteken nie dat een manier beter as die ander is nie. Dit gaan eerder daaroor om die verskille te verstaan en te leer hoe om jou eie sterk punte binne ’n nuwe werksomgewing te gebruik.

Natasha se opleiding is juis daarop gemik om Suid-Afrikaners met hierdie proses te help.

Deelnemers kry praktiese leiding om:

  • met meer selfvertroue in die Nederlandse werksomgewing aan te pas;
  • kulturele verskille tussen Suid-Afrika en Nederland beter te verstaan;
  • moontlike misverstande in die werkplek makliker te herken en te hanteer;
  • sterker professionele verhoudings met Nederlandse kollegas en werkgewers te bou; en
  • hul eie vaardighede en ervaring só aan te wend dat hulle nie bloot aanpas nie, maar werklik in hul nuwe werksomgewing kan floreer.

Die opleiding is geskik vir Suid-Afrikaners wat nog ’n verhuising na Nederland oorweeg, pas in die land aangekom het of reeds daar woon en werk.

Suid-Afrikaners wat Suid-Afrikaners ondersteun

Natasha se onderneming is ook nou deel van AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids – ’n netwerk waar Suid-Afrikaanse ondernemings en diensverskaffers in die buiteland sigbaar gemaak word en gemeenskappe mekaar kan ondersteun.

Deur ondernemings soos The South African’s Guide to Thriving in the Dutch Workplace te ondersteun, ondersteun Suid-Afrikaners nie net ’n onderneming nie, maar ook iemand wat haar eie ervaring gebruik om die pad vir ander ’n bietjie makliker te maak.

Wil jy meer oor die opleiding uitvind of jou plek bespreek? Kontak Natasha gerus direk.

Is jy ’n Suid-Afrikaanse entrepreneur of sake-eienaar in die buiteland? Registreer jou onderneming gratis op AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids en word deel van ’n netwerk wat Suid-Afrikaners wêreldwyd met mekaar verbind.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels