Die legkaart: ’n Verhaal van hoop, geloof en ’n dogter se liefde
Vir baie Suid-Afrikaanse ekspats is die pyn van afstand ’n bekende metgesel. Dit is die kilometers tussen jou en jou ouers, die oseane wat jou van jou familie skei, en die wete dat jy soms nie daar kan wees wanneer jou geliefdes jou die nodigste het nie. Vir Lijlanie Viljoen het hierdie werklikheid ’n persoonlike verhaal geword wat uiteindelik sy weg na die bladsye van haar boek, Die legkaart – Deel 1: My pa se genesing van kanker, gevind het.
Lijlanie is ’n Suid-Afrikaanse ekspat wat tans in Nieu-Seeland woon. Sy is koördineerder en een van die stigterslede van SA Kiwi Chicks, ’n Christelike organisasie sonder winsbejag wat Suid-Afrikaanse ekspat-vroue in Nieu-Seeland ondersteun. Tans praktiseer sy as mediator en streef daarna om partye tot ’n geskil toe te rus met beter konflikhanteringsvaardighede en om deur die proses hul waardigheid te behou. As ’n limfoom-bloedkanker-oorwinnaar getuig sy graag oor haar eie reis deur kanker, immigrasie en geestelike oorlogvoering – ’n reis waarin sy ontdek het hoe die Heilige Gees ’n familie oor kontinente heen nader aan mekaar kan bring.
Die legkaart is gebore uit ’n tyd waarin Lijlanie se lewe deur verlies, siekte en geloof getoets is. In 2019 is haar pa met fase 4-prostaatkanker gediagnoseer. Die gesin was van die begin af oortuig dat hierdie nie bloot ’n fisiese stryd was nie, maar ook ’n geestelike oorlog wat deur geloof aangepak moes word.
Geskei deur twee oseane, maar herenig deur geloof, het Lijlanie en haar gesin saam die berg begin uitklim. Sy skryf eerlik oor die vrese, uitdagings en geloofstryd wat daarmee gepaardgegaan het, maar ook oor die wonderwerke en die kosbare oomblikke wat binne die storm ontstaan het. Tussendeur ontvou herinneringe aan haar kinderjare, die soms vurige toutrek-verhouding tussen pa en dogter, en die besondere, onbreekbare band tussen susters.
Maar die verhaal eindig nie by haar pa se kanker nie – soos sal blyk uit die res van die trilogie, Die legkaart.
In 2021, tydens die deltagolf van die Covid-pandemie, het Lijlanie albei haar ouers verloor, te midde van haar eie stryd teen limfoom-bloedkanker.
Dit was in hierdie rou tyd, kort ná die verlies van haar ouers, dat sy Die legkaart geskryf het. Die manuskrip is dus nie vanuit ’n plek van gemak geskep nie, maar te midde van bokse opgehuilde sneesdoekies, strome trane, diepe nostalgie en die verlammende seer van afskeid.
Tog het daar binne hierdie donkerte ’n belangrike boodskap gekom. Lijlanie vertel hoe die Heilige Gees haar herinner het om nie toe te laat dat die trauma van 2021 die wonderwerk van 2019 doodvee nie.
Daardie woorde vorm die hart van Die legkaart.
Die boek is meer as ’n verhaal oor kanker. Dit is ’n eulogie aan haar ouers – ’n liefdesbrief aan mense wat ’n onuitwisbare merk op haar lewe gelaat het. Dit is ook ’n getuienis oor die manier waarop geloof ’n mens kan dra wanneer die stukke van jou lewe skynbaar nie meer sin maak nie.
Ekspats sal besondere aanklank vind in Lijlanie se ervaring. Die spanning tussen ’n nuwe lewe oorsee en die behoefte om naby jou familie te wees, is iets waarmee talle Suid-Afrikaners wêreldwyd kan identifiseer. Vir iemand wat self deur kanker, rou of immigrasie gegaan het, bied die boek ’n herkenbare en eerlike blik op die emosionele landskap van verlies, hoop en herstel.
Uiteindelik is Die legkaart ’n uitnodiging om die stukke van ons lewens weer saam te begin plaas – selfs wanneer ons nie die geheelprent kan sien nie. Dit herinner ons dat sommige paaie eers agterna sin maak, en dat daar selfs in die diepste seer ruimte vir hoop, dankbaarheid en genesing kan wees.
Vir Lijlanie het die skryfproses begin as ’n manier om deur haar grootste seer te werk. Dit het uiteindelik ’n getuienis geword – aan haar ouers, aan haar familie, van haar geloof en aan medepelgrims wat steeds hulle eie kronkelpad bewandel.
Die legkaart is beskikbaar in Afrikaans en Engels (Pieces of the puzzles Part 1 – How my dad beat Cancer) – harde kopie en e-formaat. Kyk uit vir Deel 2 en 3: Lij beats lympho en Free fall without fear.
Navrae: Lijlanie@dignified.co.nz of https://www.facebook.com/LijBeatsLymphoma
Deel op
Nuutste artikels



















