Kuns, wortels en ’n lewe tussen twee wêrelde

20/08/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Kuns onderwys gemeenskap

Deur Samantha van der Wouden

Ek het in Harrismith en Warden grootgeword en skoolgegaan – ’n regte Vrystaatse meisie. Vir my is grootword sinoniem met die plaaslewe, perdry en berge. Vandag woon ek in Berkenwoude, in wat die Nederlanders die Groene Hart van de Krimpenerwaard noem. Hier is alles plat, groen en mensgemaak, en dit voel soms asof ’n mens twee weke die toekoms in kan kyk!

Vir my het grootword nog altyd beteken om naby die aarde en volgens die ritme van die natuur te leef. Daardie invloed vorm steeds die kern van my menswees en my manier van dink – en vind natuurlik ook uitdrukking in my kuns.

Ek het Beeldende Kunste en Kommunikasiekunde studeer en later as kunstenaar by Iscor gewerk. Dit was my droomwerk, want ek kon al my talente daarin uitleef.

My lewe het egter drasties verander ná ’n ernstige motorongeluk waarin ses mense, onder wie my verloofde, gesterf het. Dié gebeurtenis het my wêreld onherroeplik verander en my lewe in ’n nuwe rigting gestuur.

Kort daarna het ek my Nederlandse man ontmoet en mettertyd het Nederland ons tuiste geword.

My man het jare lank aan groot nywerheidsprojekte in Suid-Afrika gewerk en ons het as gesin in Vereeniging gewoon. Ons seun is daar gebore en het sy vormingsjare daar deurgebring. Hy was in ’n Afrikaanse kleuterskool waar kaalvoet skoolgaan, buite speel, rugby, tennis, swem en krieket deel van die alledaagse lewe was. Safari’s, kampeer en die buitelewe was deel van ons manier van leef.

Toe ons na Nederland verhuis, moes ek en my seun die moeilike proses deurmaak om in ’n nuwe land, taal en kultuur wortel te skiet.

Vir my was dit besonder uitdagend omdat my kwalifikasies destyds nie in Nederland erken is nie. Ek moes myself opnuut uitvind. My man het baie vir sy werk gereis en soms was ek en my seun alleen in ’n vreemde land. Dit was moeilike jare.

Gelukkig het my Nederlandse skoonouers in dieselfde dorp gewoon en kon hulle soms help wanneer ek grafieseontwerpwerk vir ’n reklameagentskap gedoen het. My besluit om uiteindelik my eie ateljee te begin en dit vir kunslesse oop te stel, was een van die beste besluite wat ek vir myself kon neem.

Só het ek stadig maar seker begin wortelskiet.

Kuns, onderwys en die gemeenskap

My dae bestaan vandag uit ’n kombinasie van kunsgeskiedenis, kunsonderrig en die skep van my eie kuns. Ek gee ook joga- en dansklasse.

Ek bied kunslesse vir volwassenes aan in onder meer skilder, teken, beeldhou, linodruk, gelplaatdruk en keramiek, asook kunsontwikkeling vir kinders. Deur die jare het ek ’n besondere verbintenis met onderrig, kreatiwiteit en gemeenskapsbetrokkenheid opgebou.

Benewens my onderrig neem ek ook aan nasionale en internasionale uitstallings deel en tree ek as kurator van groot uitstallings op.

Toe ek en my seun aanvanklik in ’n klein Nederlandse dorpie kom woon het, moes ons ’n heel nuwe skool- en leefgemeenskap leer ken. Dit was ’n groot kultuurskok. Die dorp is sterk gereformeerd en die leefstyl het aansienlik van my Suid-Afrikaanse verwysingsraamwerk verskil.

Tog het dié nuwe omgewing ook geleenthede gebring. Ek het begin om kunslesse vir kinders van albei plaaslike laerskole aan te bied en is later gereeld genooi om kuns- en kreatiewe aktiwiteite by verskillende skole aan te bied.

Saam met my studente het ek jaarliks ’n groot uitstalling in ’n ou boerderyskuur en hooiberg gehou. Hoewel dié ruimte ongelukkig nie meer bestaan nie, gebruik ek vandag my eie huis en ateljee as galery.

Ek neem ook aan oopateljeedae deel, wanneer besoekers welkom is om my kuns te besigtig en te koop. Besoekers wat my ateljee wil besoek, kan vooraf ’n afspraak maak.

Benewens my werk as kunsdosent is ek ook ’n sport- en groepslesinstrukteur en bied ek verskillende vorme van joga en vrye-uitdrukkingsdansterapie aan.

Die groot verandering van menswees

Ek noem hierdie deel van my lewe my “hibriede fase” – ’n tyd van aanpassing, absorpsie en verandering om in ’n nuwe wêreld te kan funksioneer.

Om jou moedertaal, Afrikaans, noodgedwonge meer na die agtergrond te skuif, is ’n diep emosionele ervaring. Hoewel Nederlands en Afrikaans op die oog af baie na mekaar lyk, verskil die tale tog merkbaar wat sinsbou, klank en ritme betref.

Afrikaans bly my hartstaal en ’n onlosmaaklike deel van my identiteit.

Om werklik deel van ’n nuwe gemeenskap te word, is dit egter noodsaaklik om die plaaslike taal te kan praat. Aanvanklik het dit vir Nederlanders geklink asof ek “babataal” praat, en dit is moeilik om só ervaar te word. Jy bly vir ’n lang tyd bewus daarvan dat jy ’n buitelander is.

Wat dit nog ingewikkelder maak, is dat mense in verskillende dorpe en provinsies hul eie dialekte praat – bo en behalwe Standaardnederlands.

Ek spot altyd dat ek ook ABN praat: Algemeen Beroerd Nederlands!

Gelukkig raak dit met tyd makliker. Vandag voel ek darem nie meer heeltemal soos ’n vreemdeling nie.

Iets wat ek besonder interessant vind, is hoe ’n mens se persoonlikheid saam met die taal wat jy praat, kan verander.

Een van die beste maniere om deel van ’n nuwe kultuur te word, is om by plaaslike verenigings en aktiwiteite betrokke te raak. Ek het doelbewus begin deelneem aan aktiwiteite soos koor, tennis en perdry. Op dié manier het ek nuwe mense ontmoet en vriendskappe gevorm.

’n Mens kan probeer om net aan jou bekende kring vas te hou, maar dit werk nie altyd nie. Jy moet soms weer jou “mense” vind – en uiteindelik gaan dit minder oor watter taal julle praat en meer oor wat julle met mekaar deel.

In die dorpie waar ek woon, is daar geen ander Suid-Afrikaners nie. Tog is my Suid-Afrikaanse invloed hier sigbaar. Van my woorde, uitdrukkings en gewoontes het selfs deel van ons vriendekring se taalgebruik geword, en verskeie van ons vriende het Suid-Afrika besoek nadat hulle oor die jare na my stories geluister het.

’n Stukkie Suid-Afrika in Nederland

My huis bly gevul met die beelde, woorde en geure van Suid-Afrika: biltong, braaivleis, boerewors, Bovril, braaibroodjies, pap en sous, souskluitjies en malvapoeding.

Dit alles is vir my verweef met wie ons is.

In hart en siel bly ek Suid-Afrikaans.

Deur ons gereelde besoeke aan Suid-Afrika en die tyd wat ons deur die jare saam met familie en vriende daar deurgebring het, het my man en seun Afrikaans en Afrikaanse gewoontes met die spreekwoordelike paplepel ingekry.

Dit bly deel van ons identiteit.

Ons is vandag ’n mengelmoes van kulture, tale en gewoontes. Ons praat eintlik ons eie taal – ’n mengsel van Afrikaans, Nederlands, Engels, Duits, Sotho en soms selfs ’n bietjie Zoeloe en Xhosa.

Ons lewe is dus ’n verhaal van twee wêrelde: van oorsprong en aanpassing; van verlies en voortgaan; van taal en identiteit; van val, opstaan en weer aangaan.

Dalk is dit juis in daardie spanning tussen hier en daar, tussen Afrikaans en Nederlands, tussen wat was en wat geword het, waar my menswees en my kreatiewe stem die duidelikste sigbaar word.

Die simboliek van my Afrikahart is en bly verweef in al my kunsvorme en in wie ek is.

Suid-Afrika is nie net ’n plek nie. Dit is ’n hartklop, ’n geur en ’n klank wat jou nooit heeltemal los nie. Dit leer jou wyd kyk en verstaan; dit dra verhale van swaarkry én menswees, van opstaan en weer probeer.

Ons is ’n nasie wat selfs in moeilike tye nog vir onsself kan lag en met warmte en waardigheid kan voortgaan.

En waar ek ook al woon, probeer ek steeds naby aan die aarde leef – met dankbaarheid.

My raad aan mense wat emigrasie oorweeg:

Dink twee keer voordat jy emigreer.

Ja, in Nederland is die gras groener – maar dit is waarskynlik omdat dit so baie reën!

Van buite kan ’n nuwe lewe in ’n ander land soms soos ’n sprokie lyk. Die werklikheid is veel ingewikkelder. Emigrasie kan ongelooflik moeilik wees en vereis dat jy sterk in jou eie skoene staan.

Die ondersteuningsnetwerk waarop jy in Suid-Afrika kon staatmaak, is nie noodwendig daar nie. Familie, vriende, bekende plekke, taal, kultuur en die klein dinge wat deel van jou alledaagse lewe was, is skielik ver weg.

Niks voel aanvanklik vanselfsprekend nie.

Dit kan voel asof jy weer moet leer kruip voordat jy kan loop – en dat dit jare neem voordat jy weer gereed is om te hardloop.

Die ervaring leer jou om baie dinge self te doen, maar dit laat jou ook opnuut besef hoeveel jy dalk in Suid-Afrika as vanselfsprekend aanvaar het. Jy word met ander leefwyses, sosiale strukture en kulture gekonfronteer, en dit verander noodwendig die manier waarop jy na jouself en die wêreld kyk.

Daar is wel ondersteuningsgroepe vir Suid-Afrikaners in Nederland en verskeie aanlyn gemeenskappe waar mense met mekaar kontak maak. Braaie en ander byeenkomste bied soms ’n stukkie bekendheid wanneer die verlange groot raak. Selfs iets so eenvoudig soos biltong, boerewors, pap of braaibroodjies kan jou dan aan jou wortels herinner.

Die goeie én moeilike kante

Daar is aspekte van die Nederlandse leefwyse wat ek baie waardeer. Fietsry is byvoorbeeld ’n groot deel van die alledaagse lewe. Ek ry fiets werk toe en my grootste verkeersprobleem is dikwels ander fietsryers – of miskien ’n koei wat op pad stal toe die pad oorsteek!

Kinders kan ook dikwels self fietsry skool toe of sportoefening toe.

Om in ’n ander land te woon, verbreed jou verwysingsraamwerk. Dit stel jou bloot aan ander mense, kulture en maniere van dink en laat jou dikwels met nuwe oë kyk na dit wat jy agtergelaat het.

Reis binne Europa is ook relatief toeganklik, veral wanneer jy oor ’n Europese paspoort beskik. Ek en my seun, Leonard, het vandag dubbele nasionaliteit, wat dit vir ons makliker maak om te reis en die wêreld te verken.

Maar daar is ook dinge waarna ek verlang.

Die landskap hier is grootliks deur menslike ingryping gevorm. Daardie gevoel van eindelose ruimte, die vryheid van ver kyk en die ongereptheid wat ek met Suid-Afrika verbind, is nie altyd hier te vind nie.

Nederland is ’n klein, digbevolkte land en daar is baie reëls en strukture wat die samelewing orden. Vir iemand wat grootgeword het met die oop ruimtes van die Vrystaat en die Suid-Afrikaanse buitelewe, verg dit aanpassing.

Hierdie is natuurlik my verhaal en my ervaring. My man en seun het elkeen hul eie verhaal, want die aanpassing was vir hulle net so groot.

Maar miskien is dit ’n verhaal vir ’n ander keer.

My Afrikanerhart bly klop vir my Suid-Afrika.

Deel op

Nuutste artikels