Deur Martin J. Labuschagne
“If music be the food of love, play on.”
Ek vermoed toe William Shakespeare dié beroemde woorde neergepen het, het hy met die woord “love” na romantiese liefde verwys. Tog dink ek musiek wakker allerhande ander liefdes ook aan, soos die liefde vir ’n mens se land en taal.
Ek moet eerlik bieg: As jongmens het ek geen erg aan Afrikaanse musiek gehad nie. Inteendeel, dit was die teenoorgestelde van alles waarin ek belanggestel het. In die laat tagtigerjare van die vorige eeu het Afrikaans alles verteenwoordig wat vervelig was. (Laat ek dit net duidelik maak: Ek bedoel geensins dat die Afrikaanse musiek van daardie tyd geen meriete gehad nie; dit het net nie tot my generasie gespreek nie.)
Maar toe breek daar in 1988/1989 met die aanbreek van die Voëlvry-beweging ’n rewolusie in die Afrikaanse musiekbedryf uit. Ongeag wat ’n mens ook al persoonlik van die beweging dink, was dit ongetwyfeld ’n keerpunt in die Afrikaanse musiekwêreld gewees, omdat dit populêre musiek vir my generasie geskep het.
Die geskiedenis van die Voëlvry-beweging se algehele mislukking is alombekend, so ek gaan dit nie herhaal nie.
En toe, net toe rebelle-musiek dood is, breek ’n tweede Voëlvry-oomblik aan met die uitreik van Bok van Blerk se liedjie cum lofsang “De la Rey”. In teenstelling met die reaksie op Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis, et al. se anti-Afrikaner nihilisme het daar plotseling ’n splinternuwe tydsgees ontluik. Ofskoon ek nog steeds (om nostalgiese redes) van Johnny K se musiek hou, het dit vir my te vervreemdend begin raak. Afrikaners is nie meer die bose onderdrukkers waarteen die Voëlvry-beweging uitgevaar het nie. Inteendeel, Afrikaans en Afrikaners is nou self die slagoffers van onderdrukking deur die meerderheid en protesliedjies uit die verlede het verouderd en sinloos begin raak.
Maar “De la Rey” is anders. ’n Nuwe gees van taalpatriotisme het in Afrikaans begin blink. Dit skep ’n gevoel van tuishoort by ’n gemeenskap wat geen ander musiek nog kon skep nie. Weereens, ek wil geensins die talle ander begaafde Afrikaanse musiekkunstenaars afbreek nie, maar van Blerk se musiek het ’n optimistiese politieke kwaliteit wat ek nog nie by hulle teëgekom het nie.
Sedert ons na die Verenigde Koninkryk geëmigreer het, het my Afrikaanse musiekversameling my kosbaarste aandenkings uit Suid-Afrika geword. Voor ons vertrek het my liewe moeder aan my ’n spul van haar Afrikaanse CD’s geskenk om saam met my die vreemde in te neem.
Ek luister veral na hulle as ek skryf – soos wat ek nou doen.
Musiek is betowerend. ’n Mens kan binne-in musiek ’n woning maak wat jy in tye van heimwee kan besoek. Dit is wat ek hier in die vreemde doen as ek na Afrikaanse musiek luister. Vir baie van ons ekspats is musiek ’n onontbeerlike middel om ons weer aan ons taal en land te verbind, want vir ’n oomblik, net vir die oomblik terwyl ons daarna luister, is ons weer tussen ander (Suid-)Afrikaners.
Onlangs het ’n treffende oomblik hierdie waarheid vir my onderstreep. Een middag sit en ontspan ek en my vrou in die kombuis, elkeen besig op ons eie selfoon. Ek het ’n ruk gelede op YouTube op ’n hartroerende treffer van Bok van Blerk afgekom en dit spontaan begin luister. Binne oomblikke was ek en my vrou in trane. Ons het mekaar omhels en vasgehou terwyl ons heen en weer wieg op die maat van “Tyd om te trek”.
Die liedjie het vir my soos ’n manifes geword. In die lirieke word ons hele belewenis van emigrasie saamgevat asof dit net vir ons geskryf is. (Ek gaan nie die lirieke verklap nie en raai almal aan om self hier daarna te luister.)
Musiek voed inderdaad die liefde, en in die geval van Afrikaanse musiek ook vaderlandsliefde.