Deur Alana Bailey
In die middae wanneer ons huis toe ry, kom daar dikwels vragmotors van voor af aangery met die mooiste Afrikaanse name soos Hoop, Vrygekoop en Dankbaarheid. Vandat ek die eerste keer die name opgemerk het, begin ek uitkyk vir die netjiese vragmotors en wonder ek wat die storie agter die name is. Dit is nogal iets besonders dat ’n onderneming in ’n nietaalverwante industrie so onbeskaamd Afrikaans is. Op ’n dag kontak ek toe vir Sandra en Kobus Faber, en hier as deel van die derde aflewering van Taal Tel, is hulle merkwaardige en inspirerende getuienis, soos deur Sandra vertel.
Hoe het Faber Vervoer ontstaan?
Faber Vervoer het sy ontstaan gehad in 1989. Kobus het destyds begin met watertenkwaens en het kontrakte met die destydse TPA gehad. Met die nuwe bedeling het dit al hoe moeiliker geword om vir die tenkwaens werk te kry, en hy het besluit om oor te gaan na baksteenvervoer. Ons het in 1995 ons eerste perd en wa met ’n hidrouliese kraan gekoop en begin om stene te vervoer. Namate ons onderneming gegroei het, het ons besluit om ons toe te spits op dié eenhede. Deur die jare het ons baie verskillende en interessante vragte vervoer, maar ons bly maar terugkom na bakstene, plaveistene, betonprodukte (meestal toilette) en pype. Deur genade bestaan die onderneming al 34 jaar.
Is dit ’n familie-onderneming?
Kobus en ek is in 1995 getroud, waarna ons besluit het dat ek die administratiewe funksie sal behartig. Ons seunskind het ook in 2022 sy ambag in dieselwerktuigkunde aan Sol-Tech voltooi ter voorbereiding vir sy toetrede tot die onderneming, want al wat Kobus (junior) wil doen is vervoer ‒ iets waaroor sy pa nie ophou glimlag nie. Maar soos dit maar is, moet ’n mens onder begin, en werk hy tans as vakleerling in die werkswinkel. Faber Vervoer is dus in murg en been ’n familie-onderneming.
Waar kom die vragmotors se name vandaan?
Kobus het tydens sy vakmanskap by die destydse Ellenby Motors in Centurion aan van die weermag se vragmotors gewerk. Van die troepe het hulle vragmotors name gegee. Dit het ’n blywende indruk op Kobus geskep, hierdie trokke met ’n naam. Namate ons vloot gegroei het, het ons besluit om ook ons trokke name te gee in stede van nommers. Aanvanklik het ons geliefdes vernoem: Vettie (Kobus se pa se bynaam), Sandra, Larize, Roelien, JJ jnr. en so meer. Later het die Here aan ons hartsdeure kom klop en het ons die vragmotors “herdoop”. Jare gelede, tydens een van die taai ekonomiese tye in ons land, het ’n wildvreemde man eendag ná kerk na Kobus toe gekom en vir hom gesê dat hy nie bekommerd moet wees nie, want God het gesê Hy sal vir hom meer werk gee as wat ons trokke het. Hierdie man het absoluut niks van ons geweet nie. Daardie belofte is waarop ons staan en waarop ons die onderneming uitbou en God het daardie woorde aan ons ’n werklikheid en ons waarheid gemaak.
Die meeste van die woorde of name op die vragmotors kom uit die Skrif. Ja, dit is alledaagse woorde, maar vir ons het dit ’n dieper betekenis. Dit sal Skrif wees wat ons net raakgelees het, of iets wat ons as ’n gesin bespreek het, of waaroor die dominee Sondag in die kerk gepraat het.
Geloof, Hoop, Dankbaarheid, Liefde, Sagmoedigheid, Nederigheid, Eerbied, Ontsag, Genade, Waarheid, Lewe. Dit klink net na ’n klomp woorde, maar hierdie woorde beteken vir ons of dalk vir iemand anders iets.
Agterop elkeen van ons sleepwaens is ’n bord waarop staan “Aan God die Eer”. Op hierdie wyse glo ons stuur ons ֺ’n boodskap die wêreld in, nie net vir ons nie, maar vir almal, want aan Hom kom al die eer toe. Aan God die eer vir die voorreg om ’n kar te ry en in verkeer vas te sit. Aan God die eer, want ek kan gou winkel toe gaan. Aan God die eer, want ek het ’n werk en daarom is ek nou op die pad. Aan God die eer vir elke klein dingetjie in ons lewens!
Hoe reageer die publiek hierop?
Ons kry van tyd tot tyd boodskappe en e-posse van mense om te sê hulle het vandag hierdie of daardie woord op ’n trok gesien, en dit het vir hulle besonderse betekenis vir daardie oomblik gehad. So byvoorbeeld het ’n vroutjie vir ons ’n e-pos gestuur waarin sy vertel het dat dit op daardie oomblik bitter swaar gegaan het met haar. Sy was moedeloos dié oggend en het met God gestoei. Die volgende oomblik kom die vragmotor met die woord “Hoop” van voor af. Sy sê dit was asof God self met haar gepraat het. Vir ons is hierdie so ongelooflik spesiaal, want onthou, ons het nie aanvanklik besef dat God die vragmotors se name op so ’n wonderlike wyse gaan gebruik nie en ons het dit vir seker nie beplan nie! Ons is ook op ’n praktiese vlak betrokke by sekere liefdadigheidsinstansies en die lot van Afrikaanssprekende mense lê ons baie na aan die hart.
Waarom juis Afrikaans?
Afrikaans is ons taal. Ja dit is ’n hartsaak. Geen taal beskryf so lekker, praat so lekker, skel so lekker, of lag so lekker soos Afrikaans nie. As ons nie alles in ons vermoë doen om ons taal uit te bou en te beskerm nie, wie gaan? Ons hele gesin is nogal regtig “Boers” as dit by ons taal kom. Hierby bedoel ek ons is harde koejawel, en gaan jou eers probeer kry om Afrikaans te praat voordat ons met jou Ingels gaan praat. Of ons taal vir ons enige besigheidsvoordele inhou, is ’n ope vraag. Ons glo dat ander Afrikaanssprekende mense wel sal onthou van die vragmotor met die Afrikaanse naam op, maar die teendeel hiervan is ook waar. Ons is genoop om die onderneming se naam van die vragmotors af te haal, want die voertuie word deur onlusmakers en kwaaddoeners geteiken as hulle die onderneming se naam daarop sien. Ons sal egter nie die name of die woorde agterop afhaal nie.
Ons is darem nie volslae leke as dit kom by ander tale nie, deur die jare het ons redelik gegroei sodat ons nou al baie van die dialekte in ons land baasraak. So kan ons byvoorbeeld goed in Afri-Engels kommunikeer: “Ja you weet mos man, daardie thing that goes daar by die agterdeur”. Ons het ook ons Zimbabwe-Ingels onder die knie, “No you don’t do it so, you do it like so, sien jy? So.”
’n Feit soos ’n koei is dat meer mense in Suid-Afrika Afrikaans kan praat as wat dit wil erken. Ons sal in gesprek wees met byvoorbeeld ons kliënt, en dié praat net hoog Engels, maar so na die derde keer se “I don’t know the word” wat ons vir mekaar kyk, of sê “Hoe sê ’n mens dit?”, kom die repliek gewoonlik “Jy kan maar Afrikaans praat, ons verstaan, ons kan dit net nie so lekker praat nie.”
Ja, ons is bitter trots op ons taal en probeer ons beste om dit sover as moontlik uit te brei. Dit is al ’n staande grap by ons dat dit nie saak maak waar ons gaan nie, die eerste ding wat Kobus doen, is om te vra “Praat jy Afrikaans?”. As die antwoord “nee” is, sê hy altyd “Dan moet jy begin leer”. Het jy al ’n Fransman se reaksie gesien as jy met hom Afrikaans praat? Dit lyk kompleet of hy ’n paddaboudjie heel ingesluk het! En tog, met ons pragtige taal en lekker mense kan ons nog altyd met almal praat. Maak nie saak of hy Engels, Shona of Frans praat nie, maak nie saak of dit ons onderneming baat of nie, ons praat Afrikaans en ons gooi hom lekker!
Waar kan mense meer oor julle dienste uitvind?
Faber Vervoer se kontakbesonderhede is op ons webtuiste beskikbaar en as jy ons kontak, kan jy verwag om gou in Afrikaans gehelp te word.
AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids
Weet jy van AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids en wat dié gids behels? Woon jy in die buiteland en is op soek na ondernemings wat jou taal verstaan? AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is die antwoord!
Dié gratis interaktiewe gids stel jou in staat om ondernemings op te spoor wat dienste en produkte in jou moedertaal lewer.
Weet jy van ’n onderneming in die buiteland wat puik diens in Afrikaans kan lewer? Stuur vir ons ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za.