Deur Alana Bailey
Mense het uiteenlopende menings oor slakke. Sommige kan aan wrede maniere dink waarmee jy hulle in jou tuin kan uitroei. Ander dink dadelik aan ’n knoffelbottersousie … en dan is daar sowaar mense wat slakke as troeteldiere aanhou! Dit is nou veral die reuse landslakke.
Suid-Afrika is die tuiste van 27 slakspesies in vier genera van die familie Achatinidae, wat ook as die reuse Afrikaanse landslakke bekendstaan. Hierdie slakke is eierlêende hermafrodiete. Gemiddeld word ongeveer 200 eiers per keer gelê. Die proses kan 5 tot 6 keer per jaar herhaal word. Die eiers broei na 8 tot 21 dae uit. Die slakke bereik hulle volwasse grootte binne ongeveer ses maande, waarna hulle groei vertraag, maar nooit ophou tydens hulle leeftyd nie. Hulle kan van 5 tot selfs 10 jaar oud word.
’n Reuse Afrikaanse landslak se grootte hang af van die omgewing waarin dit woon. Die Bruinlip Agaat (Metachatina kraussi) wat in woude en savannebosgebiede in KwaZulu-Natal aangetref word, kan tot 16 cm lank word. Hierdie slakke is plantvreters – hulle hou skynbaar selfs baie van vrugte. In die natuur sorg hulle skulpe vir besonder effektiewe kamoeflering en eers as jy weet dat hulle in ’n gebied aangetref word, sal jy hulle begin raaksien. Oor rowwe terrein kan hulle stadig, maar vaardig teen rotse opklim.
Daar is mense wat graag reuse Afrikaanse landslakke as troeteldiere aanhou, maar dit kan buite hulle natuurlike verspreidingsgebied tot ernstige omgewingsprobleme lei, omdat hulle ywerige indringerspesies is. Hulle is nie giftig nie, maar slakke kan die draers van parasiete wees wat gesondheidsprobleme by mens en dier kan veroorsaak.