Erfenisjuwele 14 – Vriende van NALN Vereniging

12/11/2024
| Deur Alana Bailey
Erfenisjuwele 14 – Vriende van NALN Vereniging

In die reeks Erfenisjuwele werp AfriForum lig op erfenisbakens en -projekte in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar. Erfenisbewaringsprojekte word wêreldwyd oor die algemeen nie rojaal deur owerhede befonds nie, daarom speel vriende-organisasies ’n noodsaaklike rol om fondse in te samel, bewustheid te skep en met vrywillige hulp die personeel van museums en erfenisterreine se hande te sterk.

Vandag gesels ons met Paul Colditz, voorsitter van die Vriende van NALN Vereniging, wat juis so ’n organisasie is wat ’n onmisbare rol speel in een van die land se mees kosbare kultuurjuwele, die  Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum  (NALN) in Bloemfontein.

Alana:   Baie dankie vir die deelname aan Erfenisjuwele, Paul. Wat is die geskiedenis van NALN?

Paul:     NALN is op 24 Maart 1973 deur die destydse Vrystaatse Provinsiale Regering tot stand gebring.  Ons het dus gedurende die afgelope jaar die vyftigste bestaansjaar van NALN gevier.

Die groot dryfveer agter die totstandkoming van NALN was prof. Petrus (P.J.) Nienaber wat destyds aan die RGN verbonde was en wat die besondere visie gehad het dat Afrikaans bevorder moet word deur die bewaring van die Afrikaanse woorderfenis, met klem op die versameling en bewaring van Afrikaanse letterkunde en letterkundige publikasies. Prof. Nienaber was sedert 1966 die dryfkrag agter so ’n museum. Tydens ’n vergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Stellenbosch het hy die eerste pleidooi daarvoor gelewer.

Terselfdertyd het ’n tweede groep hulle onafhanklik van prof. Nienaber ook vir so ’n bewaringsinstansie begin beywer. Dit was die Vrystaatse Adviserende Biblioteekkomitee. Hierdie komitee het sy kommer uitgespreek oor die feit dat daar so baie manuskripte, eerste drukke van Afrikaanse boeke en personalia van skrywers verlore gaan. Die gedagte is so gebore om materiaal van skrywers wat ’n Vrystaatse verbintenis het, te versamel en dit in ’n Vrystaatse Skrywersbiblioteek te bewaar.

Later is Afrikaanse musiek en teater/drama ook bygevoeg.  Dit dien uiteraard ook as belangrike navorsingsbron oor vele aspekte van Afrikaans.

NALN het gegroei tot ’n unieke nasionale en inderdaad ook ’n internasionale instansie waar die kultuurskatte van Afrikaanse letterkunde, musiek en teater versamel en bewaar word.  Die versameling het sodanig uitgebrei dat unieke artefakte van bekendes in die skryfkuns ook in die versameling te sien is in kamers wat tematies die lewe en werk van vooraanstaande skrywers uitbeeld.  Dit is die enigste instelling ter wêreld wat so ʼn uitgebreide versameling het oor alle aspekte van ’n taal en daarom is die behoud en bevordering van NALN van kardinale belang vir Afrikaans, maar ook vir die breër Suid-Afrikaanse bevolking en geskiedenis.

Die nuutste toevoeging is die redakteurskantoor van die Volksblad wat na NALN verskuif is en daar as gedenkwaardigheid herskep is nadat die Volksblad as gedrukte koerant gestaak is.

Alana:   Wat kan mense alles by NALN sien en doen?

Paul:     Die eerste besienswaardigheid is natuurlik die gebou self waarin NALN gehuisves is. Dit is die ou Goewermentsgebou waarvan die hoeksteen reeds in 1875 gelê is.  Dus, volgende jaar 150 jaar gelede.  Die Vriende van NALN beplan juis om hierdie mylpaal in die geskiedenis volgende jaar, saam met die eeufeesviering van Afrikaans as amptelike taal te vier.  Die gebou, geleë aan die bopunt van die hoofstraat van Bloemfontein, is van buite en binne ’n indrukwekkende gebou en dit is opsigself ’n besoek waardig.

Die museumversameling beloop ’n geraamde eenmiljoen items.  Benewens meublement en persoonlike items uit talle skrywers en andere se literêre nalatenskap, sluit dit boek- en publikasieversamelings in, asook kluise vol manuskripmateriaal, tydskrifte en koerante, knipselversamelings, bladmusiek-, plakkaat- en programversamelings, kunswerke en oudiovisuele versamelings en vele ander unieke besienswaardighede.

Skool- en studentegroepe besoek NALN gereeld, asook groepe soos leeskringe, verskillende verenigings en belangegroepe.

Alana:   Hoe het die Vriende van NALN tot stand gekom?

Paul:     Die Vriende van NALN het ook sy ontstaan in 1973 aan die Vrystaatse Provinsiale Regering te danke toe dit saam met die totstandkoming van NALN gestig is.  Aanvanklik het die Vriende nie so ’n beduidende rol gespeel nie omdat NALN voldoende deur die provinsiale owerheid befonds is en daar voldoende personeel was om NALN te bedryf.

In 2015 is die Vriende van NALN egter herskep en ’n nuwe grondwet is vir die vereniging geskryf en aanvaar. Dit het geskied onder leiding van die destydse kurator van NALN, wyle Otto Liebenberg.  Befondsing en personeelvoorsiening aan NALN is dramaties deur die nuwe regeerders in die Vrystaat ingekort en dus is die Vriende heraktiveer om ’n meer prominente rol in die voortbestaan van NALN te speel.

Alana:   Vertel ons meer oor hierdie rol asseblief?  

Paul:     Terwyl ons versigtig bly om nie in te meng in die werk van die klein personeelkorps wat oorgebly het by NALN nie, probeer die Vriende van NALN om sekere noodsaaklike dienste te lewer wat die voortbestaan van NALN as ’n nasionale én  internasionale bate sal verseker. (Eintlik kan ’n mens nie praat van ’n “personeelkorps” nie.  Van ’n aanvanklike 42 vakkundige personeellede is daar sedert 1 November vanjaar net 2 vakkundige personeellede oor). 

Vrywilligers van die Vriende help personeel met die uitvoering van hulle take, soos die uitsoek en uitpak van versamelings en waar hulle ook al hulp benodig. 

Die Vriende het ’n persoon in diens geneem om die personeel by te staan en selfs besoekers te ontvang en rond te wys.  Hy het baie jare as sekuriteitswag by NALN diens gedoen. Sy kennis en ervaring van NALN en lojaliteit teenoor die personeel en die instelling het beteken dat ons hom in diens geneem het.

’n Belangrike funksie is ook die bedryf van ’n boekemark vanuit die Boekekelder waar tweedehandse boeke ingesamel en verkoop word om broodnodige fondse te bekom. Die boeke word gehuisves in die ou ketelkamer.  Daar is ook ’n gedenkmuur in die Boekekelder waarop bekende skrywers en kunstenaars wat NALN besoek of daar optree, boodskappe en hul handtekeninge aanbring.  Honderde boeke vir elke denkbare smaak wat te koop is, word daar uitgestal en verkoop.

Foto: Ilze by die skrywersmuur

Een van die Vriende se grootste bydraes is om voete by NALN te kry en om die viering van ons kulturele erfenis lewend te hou. Dit geskied deur die aanbied van boekbekendstellings, viering van die lewe van skrywers en digters en hulle nalatenskappe, musiekuitvoerings van toonsettings van bekende digters se werke en vele ander geleenthede wat saans en soms op Saterdae aangebied word.  Daarmee saam natuurlik bemarking van NALN en die geleenthede wat aangebied word.

Die Vriende het ʼn baie aktiewe Facebook-blad wat sowat 60 000 besoekers per maand lok en waarin ook hulde gebring word aan ons skrywers, digters en kunstenaars, en belangrike inligting gedeel word. 

(https://www.facebook.com/search/top?q=vriende%20van%20naln)     

Alana:   Is daar spesiale byeenkomste wat die Vriende deur die loop van die jaar aanbied?

Paul:     Inderdaad, ja.

NALN vorm ’n integrale deel van die Vrystaatse Kunstefees en die fees word byvoorbeeld volgende jaar by NALN bekend gestel.  Die Vriende bied jaarliks die reeks, Hulde aan Helde as deel van die Kunstefees aan.  Skrywers en digters wat ’n besondere mylpaal in hulle lewe sou vier – soos byvoorbeeld verjaarsdae – se lewe en werk word dan deur kundiges voor belangstellende gehore bespreek.  Hulde is tydens die 2024-fees gebring aan TT Cloete (100 jaar gelede gebore), PG du Plessis (90 jaar gelede gebore) en Etienne van Heerden (70 jaar gelede gebore).

Verder word bekendstellings van publikasies en uitstallings, lesings oor tersaaklike onderwerpe, huldigingsgeleenthede en selfs interaktiewe geleenthede soos ’n moordraaiselspeletjie wat vanjaar plaasgevind het, by NALN aangebied. Dit geskied dikwels in samewerking met kultuurorganisasies en opvoedkundige instellings.

Alana:   Wat is van die uitdagings wat die Vriende teenkom en wat is op julle wenslysie?

Paul:     Die uitdagings is velerlei, maar kan hoofsaaklik teruggevoer word na gebrek aan befondsing en personeelvoorsiening deur die Vrystaatse regering.  Eintlik moes NALN – soos die naam aandui – ’n nasionale museum en navorsingsentrum gewees het, maar ’n ongelukkige sameloop van omstandighede het daartoe gelei dat die destydse Vrystaatse regering heel visionêr die verantwoordelikheid op hom geneem het.  Dit sou dalk tot beter befondsing en personeelvoorsiening en meer selfstandigheid gelei het as NALN wel as nasionale museum verklaar sou geword het.  Hierdie probleem hou ’n daadwerklike bedreiging vir die volhoubaarheid van NALN in.  Twee mense kan onmoontlik nie alles doen wat gedoen moet word nie.

Die wenslysie behels dus beter befondsing en personeelvoorsiening, veral wat vakkundiges in biblioteekdienste, museumkundiges, taalkundiges en navorsers insluit, asook beter ondersteuning deur die ganse Afrikaanse gemeenskap deur die hele land en wêreld.

Verder is wesenlike instandhoudingswerk en opknapping van die gebou en terrein nodig.  Die terrein leen hom tot iets besonders, maar geniet tans nie die aandag wat dit verdien in. Daarby is baie beter sekuriteit en brandbeskerming ook noodsaaklik.

Die digitisering van waardevolle versamelstukke en -materiaal en publikasies wat vanweë ouderdom en verwering verlore kan gaan, moet dringend aandag kry.  NALN is in besit van al die opnamekasette wat prof. Hans du Plessis byvoorbeeld in sy navorsing oor Griekwa-Afrikaans opgeneem het.  Dit is ’n kosbare kleinood waarop die kollig juis nou met prof. Hans se tragiese afsterwe val. Ons benodig ongeveer R10 000 om daardie opnames te laat digitiseer en het self nie op die oomblik voldoende fondse om dit te laat doen nie.

Alana:   Hoe kan belangstellendes betrokke raak?

Paul:     Belangstellendes kan by die Vriende van NALN-Vereniging as lede betrokke raak en help met bemarking en fondsinsameling.  Ledegeld beloop tans maar ’n skrale R120 per jaar wat gebruik word om die salaris van een persoon te betaal en funksies wat aangebied word smaakvol aan te bied.  Ons trek darem gewoonlik vol sale met ons boekbekendstellings en al die ander geleenthede wat aangebied word, maar elke geleentheid kos geld met betrekking tot die ontwerp en vervaardiging van skrywersbaniere, bemarkingsmateriaal en die opknap van noodsaaklike klank- en ander toerusting. Ons verskaf ook graag verversings tydens al ons geleenthede om aan besoekers en teenwoordiges geleentheid te gee om gesellig met mekaar en sprekers te verkeer.

Persone wat belangstel om aan te sluit, kan in verbinding tree met die sekretaresse van die Vriende van NALN, Annelien Diedericks, by anneliennaln@gmail.com.

Belangstellendes kan natuurlik ook ons Facebook-blad opsoek en dit volg. Al ons funksies en geleenthede wat ons aanbied word daar bekendgestel en mense kan dit dan kom bywoon. Wetenswaardige inligting oor wat in die Afrikaanse literêre en kunswêreld aangaan, word ook gereeld daar gepubliseer.

Belangstellendes wat nie in of naby Bloemfontein woon nie, maar daar deurry, kan gerus ekstra tyd inruim om NALN te besoek en ook ons Boekekelder te ondersteun.  Wees egter gewaarsku: jy gaan nie sommer woerts-warts deur die museum kan gaan nie.  Daarvoor is daar gans te veel om te sien en te ervaar!  

Alana:   Ten slotte, as ander gemeenskappe ook by ’n terrein, monument of museum in hulle omgewing betrokke wil raak, wat is julle advies aan hulle asseblief?

Paul:     Jim Collins sê in sy boek Good to great dat jy ’n krimpvarkie-posisie moet hê.  Dit is jou posisie waarheen jy terugval om jou onderneming te beskerm as sake skeef loop of moeilik gaan. Die krimpvarkie-posisie bestaan uit drie elemente:  (1) dit waarmee jy die beste in die wêreld is; (2) dit waaroor almal betrokke dieselfde passie deel; en (3) jou ekonomiese enjin, met ander woorde hoe jy die onderneming volhoubaar kan finansier.

Dit begin altyd by een persoon wat die idee het en dan vasberade die taak aanpak. Kry vrywilligers wat die belangstelling en passie deel om te help. Skryf neer wat gedoen moet word, wie dit moet doen en hoe dit gedoen moet word, sodat deelnemers presies kan verstaan en weet wat dit is wat gedoen moet word.  Stel ’n “konstitusie” op, hoewel dit nie so formeel hoef te wees nie. En ten slotte, kry helderheid oor hoe jy die taak gaan befonds.

Alana:   Baie dankie Paul – ons waardeer julle bydrae tot Erfenisjuwele, maar nóg meer die uitnemende werk wat julle by NALN verrig! Ons kan net met jou saamstem dat ’n besoek aan NALN ’n wonderlike ervaring is wat baie tyd verg. Ons moedig enigeen met ’n liefde vir ons taal en geskiedenis aan om lede van Vriende te word en met slegs R120 per jaar, hierdie kosbare instelling en span te ondersteun.

Deel op

Nuutste artikels