Natuurhoekie – Die gezoem van die bye

10/02/2023
| Deur Alana Bailey
krzysztof-niewolny-c3RWaj8L3M8-unsplash-scaled

Deur Alana Bailey

Wêreldwyd word groot moeite gedoen om bye te beskerm. Daar word toenemend besef hoe afhanklik ons van die klein insekte vir voedselsekuriteit is.

Volgens die navorser Tlou Masehela in ’n artikel wat op The Conversation verskyn het, is heuningbye in Suid-Afrika vir die bestuiwing van meer as 50 gewasse verantwoordelik. Daar is veral twee inheemse spesies wat die rol vertolk, naamlik die Kaapse heuningby (Apis mellifera capensis) en die Afrika heuningby (Apis mellifera scutellate).

In die Wes-Kaap word byvoorbeeld 91 000 korwe benodig vir die voortbestaan van die sagtevrugtebedryf en daar word verwag dat nog meer in die toekoms sal nodig raak. Tog was daar in 2021 net 77 088 bestuurde korwe beskikbaar, wat aandui hoe dringend noodsaaklik aandag aan die plaaslike byeboerderybedryf is.

Plaaslik word bye se voortbestaan bedreig deur onder meer veranderende benutting van grond, die bestryding van indringer plantspesies wat belangrike voedingshulpbronne vir bye is, die landboubedryf se gebruik van chemiese plaagbeheermiddels en die gevolge van klimaatsverandering. Grootskaalse bewusmaking is nodig om die toekoms van die bye en die voedselbedrywe wat van hulle afhanklik is, te beskerm.

Internasionaal word bye ook al meer beskerm. In lande soos Engeland word areas soos kerkterreine en begraafplase toenemend gelos sodat gewasse na wildekeur daar kan groei en aan bye en ander insekte kos en skuiling bied. Sogenaamde goggahotelle word selfs opgerig op openbare plekke soos stasies in Engeland om ’n diverse inseklewe te bevorder. Ook in Ierland word aandag aan die toekoms van bye gegee. In Christ Church Cathedral se gronde is twee korwe wat deel uitmaak van die land se projekte in dié verband.

Deel op

Nuutste artikels