Deur Alana Bailey
Op 6 Maart 2003, dus twintig jaar gelede, het Solidariteit en die destydse Maatskappy vir Immigrasie die Kom Huistoe-Veldtog bekendgestel. Die doel was om Suid-Afrikaners wat geëmigreer het, maar wou terugkeer, met betroubare advies by te staan. (Terloops, hierdie samewerkingspoging het aanleiding gegee tot die totstandkoming van AfriForum twee jaar later).
Die veldtog is met oorweldigende reaksie begroet. In die eerste vier maande is die webwerf met inligting meer as 50 000 keer besoek. Daaruit het honderde individuele navrae gespruit wat gehandel het oor burgerskap, werkverskaffing, evaluering van buitelandse kwalifikasies, terugbring van huisraad of troeteldiere, finansiële sake, studiegeleenthede, mediese fondse, skoolplasing van kinders en vele meer. Positiewe en negatiewe kommentaar is ook op die projek ontvang en hulp is deur ’n netwerk kundiges aangebied.
Die aantal lande waaruit die navrae afkomstig was, het weer bevestig hoe wyd ons mense oor die aardbol versprei het. Daar was onder meer e-posse uit Engeland, Skotland, die VSA, Nederland, Australië, Kanada, Nieu-Seeland, Ierland, Italië, Zimbabwe, Saoedi-Arabië, Zambië, Swede, België, Bulgarye, Abu-Dhabi, Oman, Malawi, Frankryk, Hongkong, Korea, Thailand, Denemarke, Nigerië, Duitsland, Taiwan en Dubai.
Sedertdien het emigrasie toenames en afnames getoon, maar so ook die aantal mense wat terugkeer, of te wel remigreer. Hulle redes is uiteenlopend – van verlange na geliefdes, hulle eie kultuur en die bekende landskap, tot die vermoë om uit die buiteland unieke besigheidsmoontlikhede in die land raak te sien en daarop voort te bou.
Frustrasies soos die burokratiese rompslomp waarmee die terugkeer gepaard gaan, het nie minder geword nie, maar deesdae is daar al meer diensverskaffers wat hierdie irritasies help oorbrug.
Remigrante kyk soms die realiteit mis dat die land wat jy verlaat het, nie die een is waarheen jy terugkeer nie – mense en stelsels het aanbeweeg tydens jou afwesigheid en lewenskoste het gestyg. Tog getuig remigrante van toegevoegde lewensgehalte waarop hulle nie noodwendig in die buiteland kon reken nie, insluitend om persoonlike kontak met geliefdes te hê. Die reisinperkings tydens die Covid-19-tyd het weer geleer dat afstand en grense letterlik onoorbrugbaar kan raak en dat kontak deur sosiale media net nie dieselfde is as om fisies bymekaar te wees nie.
Plaaslik hou AfriForum se Wêreldwyd-inisiatief en die Solidariteit Beweging se Kuberkanton kontak met ons mense in die buiteland. Remigrante word steeds sover as moontlik deur AfriForum met advies bygestaan. Van owerheidsweë is daar geen pogings van die aard nie, en beperk wetgewing met betrekking tot die verlies van burgerskap, belasting op inkomste uit die buiteland en valutabeheer mense se mobiliteit. Nogtans skrik dit nie remigrante af nie, maar sien vele steeds ’n meer sinvolle toekoms vir hulleself aan die suidpunt van Afrika as in die res van die wêreld.
Toenemende beweeglikheid van mense het tot gevolg dat migrasie ook wêreldwyd toeneem. Die uitdaging is om geen persoon wat kies om te bly, te gaan, of te remigreer te vervreem nie, maar almal steeds kultureel betrokke te hou sodat elkeen met hulle unieke insig en kennis saam aan ons toekoms kan bou.
Teken in op AfriForum Wêreldwyd se Kollig-nuusbrief. Wees die eerste om die jongste nuus en meer te ontvang!