Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het en weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Erney Breytenbach wat na 21 jaar in die Republiek van Ierland besluit het om in Suid-Afrika te kom aftree.
Hallo, Erney. Dit is baie lekker om te gesels met iemand wat na Suid-Afrika terugkeer. Waar in die buiteland het jy gewoon en hoekom het jy besluit om terug te kom?
Ek, my man Vivian, ons 23-jarige pleegkind Brandon (na wie ek voortaan as “ons seun” sal verwys) en ons bokser-meisiekind Zola, woon sowat 75 km suidwes van Dublin in die suide van County Kildare in die Republiek van Ierland. Nadat ek besluit het om my by Vivian in Ierland aan te sluit, het ek dit duidelik aan hom gestel dat ek op die platteland wil gaan bly.
Op 27 Augustus 2001 het ek in Dublin aangekom en ’n maand later het ons na die platteland verhuis. In 2002 het ons begin om die ou murasie van ’n huis wat in ongeveer die 1820’s vir ’n sluismeester gebou is, leefbaar te maak. In Junie 2003 het ek, Vivian, ons twee bokserhonde, Zoeloe en Zinzi, en ’n kat, Zak, ingetrek.
Voordat ek my by Vivian aangesluit het, het ek vir my ’n huis in Hermanus gebou. Sedert 2005 het ons jaarliks Kersfees in my huis in Suid-Afrika kom hou. Vivian het verlief geraak op die son in die suide, braaivleis, koeksisters en om op safarite gaan, soos hy dit noem.
Gedurende Covid-19, toe ons nog in kwarantyn moes leef, het ons baie tyd saam spandeer en gepraat oor goeters soos aftrede, planne en wense vir reis en die toekoms. My besluit was om in Hermanus te kom aftree sodra ek ons seun se gradeplegtigheid bygewoon het en my Ierse staatspensioen van ouderdom 66 af ontvang. Beide hierdie gebeure het in November 2022 plaasgevind en ek het besluit om my laaste Kersfees in die Noordelike Halfrond deur te bring. Op 19 Februarie 2023 het ek die laaste fase van my lewe begin nadat ek 3 jaar in Kanada, 4 jaar in Noorweë en 21 jaar in Ierland gewoon het.
Weens werksverpligtinge het Vivian besluit om hom eers in Oktober vanjaar by my aan te sluit.
Jy noem dat jy voorheen as Suid-Afrikaanse diplomaat in Kanada en Noorweë gewerk het. Vertel ons meer daarvan.
Vroeg in September 1989 toe die vliegtuig oor ’n tapyt herfskleure afdaal om in Ottawa te land, was ek baie opgeklits oor die nuwe fase wat in my lewe sou begin. Die Kanadese regering, wat toonaangewend was in die globale sanksieveldtog teen Suid-Afrika, het amptelike kontak tussen ons ambassade en hul regering en amptenary bykans verbied.
Ek het vir die eerste keer in my lewe begin ski, maar wou nie vir lesse gaan nie, daarom het ek oor die volgende paar jaar een of twee boompies teen die skihellings bykans ontwortel. Gelukkig het ek slegs een keer in die hospitaal beland na ’n val. My subjektiewe mening is dat die boompie slegter daarvan afgekom het as ek.
Vroeg in 1990, met Madiba se vrylating, was ons as die “uitgeworpenes” skielik die “nuwe tienderjariges” in die buurt.Ek het die geleentheid gehad om nege van die tien provinsies in Kanada te besoek en die land met sy mengelmoes van etniese en kulturele groeperings het ’n blywende indruk op my gelaat.
In 1995 het ek in Oslo, Noorweë, geland om my pos by die Suid-Afrikaanse ambassade op te neem. Dit was moeilik om Noorweegse vriende te maak aangesien die meeste Nore skugter trolle is. Nadat ek my eerste Noorweegse vriend, Marius, gemaak het, het die deure egter begin oopgaan toe hy my aan sy vriende voorgestel het. Ek het vir Marius leer “polisiekoffie” (brandewyn en Coke) drink, en hy het vir almal vertel hoe lekker KWV 10 jaar oue brandewyn met Coke is.
Gedurende my termyn in Noorweë het een van die vyf wense op my emmerskoplys gerealiseer: Ek het ’n olieboorinstallasie, Ekofisk, in die Noordsee besoek. ’n Ander emmerskopwens het gerealiseer toe ek in 1990 op pad na Suid-Afrika was vir tuisverlof: Op 26 Oktober 1990 het ek met die Concorde van New York af Londen toe gevlieg.
Was al die verskillende plekke vir jou ’n kultuurskok?
Ek kan eerlik sê dat geen plek of kultuur my nog ooit geskok het nie, seker omdat ek ontvanklik is vir ander kulture, tale en denke. Ek probeer altyd om iets nuuts of anders te ervaar en om dit deel van myself te maak.
Was Ierland se klimaat ’n groot aanpassing? Is dit so reënerig as wat hulle sê?
Afkomstig van die droë Wes-Kaapse dorpie Montagu in die Klein-Karoo, was ek nog altyd lief vir reën en water. Water gee mos lewe. Ja, dit reën baie in Ierland, daarom word dit die “Emerald Isle” genoem, aangesien die landskap reg deur die jaar uit honderde skakerings van groen bestaan. Die baie reën in Ierland het my nog nooit gepla nie, maar wel die kort, grys, klam dae gedurende die lang winterseisoene. Ons beplan om “swaeltjies” te word en van Junie tot Augustus in Ierland deur te bring en die res van die jaar in Suid-Afrika.
Het jy kans gekry om te reis?
Ek was al in al vier provinsies in Ierland: Connaught, Leinster, Munster en Ulster. En in totaal was ek al in 42 lande oor die wêreld. Elke land was ’n unieke ervaring en ek kan oor elkeen ’n storie vertel. Ek dink daaraan om ’n boek met kortverhale oor mense en plekke saam te stel. Met my Ierse/Europese paspoort (ek het dubbele burgerskap) kan ek sonder ’n visum na bykans enige land in die wêreld reis, anders as wat die geval is met die groen en vals-goud boekie.
Watter interessanthede het jy ontdek oor die lande waar jy gewoon het wat jy nie vantevore geweet het nie?
Iets wat my voortdurend opval, is hoe die Republiek van Ierland en Noord-Ierland deur baie mense as een staat beskou word. Ierland het in 1948 ’n Republiek geword terwyl Noord-Ierland deel is van die Verenigde Koninkryk met die Britse koning as staatshoof.
Soos wat baie van ons Suid-Afrikaners kuier deur te braai, sosialiseer die Iere deur in ’n “pub” te ontmoet vir “craic” (uitgespreek “krêk”, wat beteken gesellige samesyn) met ’n pint of twee.
Die Republiek van Ierland het tans die tweede hoogste bruto binnelandse produk (BBP) in Europa naas die Faroëreilande. Daar is dus ’n tekort aan werkers in alle sektore van die samelewing en salarisse en voordele is baie goed. Die grootste probleem is egter verblyf. Verblyf is eerstens baie duur en tweedens is daar bykans geen huur-akkommodasie beskikbaar nie.
Die sektariese konflik tussen die Protestante en Katolieke is iets van die verlede en die verhouding tussen die Republiek en Noord-Ierland word vandag op politieke grondslag bedryf. Die Republiek van Ierland was en is die enigste land ter wêreld wat selfdegeslaghuwelike op grond van ’n referendum toegelaat het. Ek is baie trots om ’n Ierse-Suid-Afrikaner te wees.
LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Swede
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.