Deur Alana Bailey
In die reeks Erfenisjuwele werp AfriForum lig op erfenisbakens en -projekte in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.
AfriForum is al jare lank een van die borge van die herdenkingsritte wat ’n groep entoesiaste te perd aflê. Met hulle ritte en die publisiteit daaroor, skep die ruiters opnuut bewustheid oor historiese roetes, terreine, monumente, kleurryke figure en streeksverhale. Sosialemediagebruikers kan as’t ware elke rit saam met hulle meemaak en hulle foto’s, video’s en vertellings geniet. Ons gesels vandag met Theunis van Staden oor Herdenkingsritte.
Alana: Theunis, dit is ’n groot voorreg om ’n keer oorsigtelik oor julle ritte van die afgelope twaalf jaar te gesels. Hoe het alles begin?
Theunis: In 2012 was ek en Johan Nel werksaam by Solidariteit. Ons was kollegas in die Rustenburg kantoor. Beide van ons het ’n passie vir perde en ons het ’n behoefte gehad om ’n langafstandrit met die perde aan te pak.
In daardie tyd was dit ook herhaaldelik in die nuus dat kultuurerfenisbakens en monumente toenemend onder vandale deurloop en dat die erkenning en instandhouding daarvan beslis nie op die regering van die dag se prioriteitslys is nie.
Ons het daarom besluit om gedurende Desember 2012 met ons perde van die Voortrekkermonument in Pretoria na Bloedrivier te ry, en daar by die Geloftefeesvieringe op 16 Desember aan te sluit. Op hierdie rit sou ons dan ook te perd by al die monumente en erfenisgebiede langs die pad aangaan om bewusmaking te skep vir hierdie “erfenisjuwele”.
Ek, Johan en Adel Kotze het die rit met die ondersteuning van my vrou, Fiona, en dogter, Mia, voltooi. Dit was epies en die saadjie vir die Herdenkingsrit-idee is daar geplant … diep geplant.
Alana: Watter roetes het julle sedertdien gery?
Theunis: Sedertdien het ons al regoor die breedte van Suid-Afrika gery – van Bloedrivier in die ooste na Port Nolloth in die weste. Die ritte het só op mekaar gevolg:
2012 Pretoria na Bloedrivier
2015 Pretoria na Bloemfontein
2018 Bloemfontein na Kimberley
2019 Kimberley na Upington
2022 Upington na Onseepkans
2024 Onseepkans na Port Nolloth
Tussenin het ons verskeie korter ritte ook gedoen, veral ritte wat met feeste en herdenkings gepaard gaan.
Alana: Vanjaar se rit het by Port Nolloth by die see geëindig – waarheen sal julle graag volgende ry?
Theunis: Vanjaar se rit was van Onseepkans af Port Nolloth toe. Dit was in baie opsigte ’n uitdagende rit gewees, maar beslis een om te onthou. Tans is daar nie vaste beplanning vir ’n volgende rit nie. Dit is ’n droom om eendag die roete tot by die Taalmonument in Paarl te onderneem, maar na dese het ons besef dat die logistieke uitdagings al hoe moeiliker word en dit net te duur raak om die roete langs die kus af suidwaarts te ry.
AfriForumTV het ons genader met ’n idee en begroting vir ’n dokumentêr en dit sal daarom eerder sinvol wees om ’n roete te identifiseer wat nader aan die huis is en wat met ’n besondere historiese figuur of gebeurtenis verband hou.
’n Volgende rit is dus in die vooruitsig, maar nog nie beplan nie.
Alana: Die besondere aard van julle ritte lê nie alleen in die verhouding van mens en perd, of die plekke waar julle aandoen nie, maar ook die mense wat oor julle pad kom. Wie bly julle van die mees onlangse rit by?
Theunis: Die mense wat ons ontmoet is werklik iets wat deurlopend ’n indruk op ons as ruiters, en eintlik op die hele span maak. Ons ervaring op al hierdie ritte is ongetwyfeld ’n teenoorgestelde beeld van wat die media oor die mense van Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse platteland skep. Daar is ’n persepsie van wreedheid en totale onveiligheid, enige plek in Suid-Afrika, en dit is bloot net nie waar nie. Die teendeel is wel. Die norm wat ons beleef het, is vriendelikheid, hulpvaardigheid en eensgesindheid, veral wanneer die perde en die geskiedenis ’n deel uitmaak van die boodskap wat jy na die mense toe bring.
Hierdie jaar was ons van die eerste aand af, terwyl ons nog op pad na Onseepkans toe was, op mense wat ons onderweg ontmoet het aangewese vir oornaggeriewe, asook advies oor hoe om die roete aan te pak en waar om weer te gaan oornag. Dus was ons amper elke dag in interessante geselskap wat ons altyd sal bybly.
Wat hierdie jaar egter uniek was, was die Nama-gemeenskappe wat prominent die groter deel van die bevolking uitmaak al langs die pad en in die dorpe waarlangs ons gery het. Oral is ons ontvang met dieselfde gasvryheid en toeganklikheid waaraan ons gewoond begin raak het op die herdenkingsritte. En natuurlik is die Namas ook perdemense, en daarom het die perde heelwat verwondering en reaksie uitgelok.
Dit is moeilik om een dag, persoon, of geleentheid uit te sonder. In Okiep was dit Ooms George en Louwrie (Frederick Egbert) Fielding. In Steinkopf was dit Cathy, Mia en Robert Drage, Redge Oppel en Hilton. Hier het ons só lekker gebly dat ons sommer twee dae vertoef het.
Wat egter ’n besef gelaat het dat ons beskouing van die wêreld só deur lense van vooropgestelde idees ingekleur word, was die dag toe ons na die monument in Concordia gesoek het. Ons het nie geweet waarna ons soek nie en ons het ook nie geweet waarnatoe om te ry nie. Natuurlik met perde kan daar nie bekostig word om verkeerde paaie te ry nie. Nie baie van die mense langs die pad weet van die monument nie, maar deur kort-kort te vra, is ons wel in die regte rigting beduie. Die monument is amper in die kern van die dorpie op die gemeenskapsentrum se terrein geleë.
Met ons aankoms is daar ’n groot groep motorfietsryers met ’n funksie besig. ’n Klomp mense sit-staan die terrein vol en waar jy kyk, staan motorfietse. Mense wat ons nie ken nie, van ’n kultuurgroep wat ons nie verstaan nie. Ons het toe maar baie versigtig afgeklim en die perde die terrein binnegelei. Versigtig, tog ernstig gevra of ons gou met die perde die monument wat so ’n ent regs van die gemeenskapsaal staan, mag gaan besoek. En die kort vriendelike antwoord, amper onverwags, ja! Op die monument speel kinders. Twee meisiekinders van nie ouer as tien jaar nie en ’n seuntjie wat nog jonger voorkom. Toe ons na die monument toe loop, is hulle huiwerig om hulle speelplek af te staan, maar ons vra toe vir ’n foto en hulle gee toe. Ek vra vir die oudste van die drie of sy nie vir ons ’n foto sal neem waar ons en die perde voor die monument staan nie. Sy willig baie vinnig in en toe sy so effe sukkel, is die jongeres vinnig by om haar touwys te maak. Terwyl ons die foto’s neem, kom ’n middeljarige man, klaarblyklik van Nama-afkoms, geklee in ’n volle motorfietsuitrusting en ’n doek om die kop, reguit na ons toe aangestap. Sonder om dit te kon behelp, wonder ek of ons nou in die moeilikheid is. Die man stel homself voor as Potties en vertel ons dat hulle besig is met ’n uitreik aksie vir die behoeftiges in die gemeenskap. Hulle het baie sop, en vra of ons nie ook ’n koppie sop wou gehad het voor ons verder ry nie. En net daar, is ons weereens tuis, en is my geloof in die deursnee Suid-Afrikaner se goedheid en gasvryheid bevestig.
Alana: Julle kry voorwaar die kans om die mooi van geskiedenis, land en mense te sien! Watter unieke erfenisbakens het julle hierdie keer besoek?
Theunis: Wanneer ’n mens van die Oranjerivier af wegdraai en in Namakwaland inbeweeg, is die bevolking maar yl gesaai. Die dorpies is verder uitmekaar en gevolglik is die erfenisspore ook maar min. Ons was egter aangenaam verras om te besef dat daar soveel is om te leer wanneer jy in persoon daar is en dat daar soveel is wat die “alwetende” internet nie weet nie.
Langs die Oranjerivier af, so 20 kilometer soos die kraai vlieg, is Caboob, ’n voormalige plaas van Gert Luttig, wat na 1994 met die bedelingsverandering, aan die plaaslike gemeenskap oorgedra is. Die plaas en die uitleg is besonders, tussen die ruwe rotskranse uitgekap met die huis wat soos ’n kasteel van ver af vertoon, hoog bo-op ’n krans gebou.
Net ’n entjie verder is Pelladrif in die rivier en daar vat jy die tweespoorpaadjie weg van die rivier af na Pella met sy sendingstasie, Rooms-Katolieke kerkgebou en dadelbome.
Dan die Carolusberg en Goegap Natuurreservaat en ’n entjie verder Concordia met sy monument ter nagedagtenis aan die Concordia Dorpswag wat geweier het om deur die Anglo-Boereoorlog ingesluk te word.
In Okiep is dit natuurlik die ou skoorsteen en kliphamer van die Okiep kopermyn. Gaan soek gerus daar na die skietbank. Wanneer jy nie die skietbank kry nie, soek vir Oom Louwrie Fielding op, en hy sal jou gaan wys wat dit is en waaroor dit gaan.
Buitekant Steinkopf is die Kinderlêmonument waar 32 Namakinders te ruste gelê is. Hulle is deur die San uitgemoor terwyl hulle ouers ’n kerkdiens in Steinkopf gaan bywoon het.
Die Anenouspas is opsigself ’n erfenisbaken, maar sy skouers vorm die fondamente van Klipfonteinstasie en die Klipfonteinhotel. Daar sal jy die spore van Ou Clara, die kopertrein van Okiep, nog plek-plek kan naspeur. Miskien ook ’n hoefyster of twee van die muile wat die muilwaens op dieselfde spore gesleep het. Pasop net vir die ou Britse begraafplaas en selfs die forte – die stories loop dat dit na donker spook daar!
Dan Port Nolloth, die erfenisbaken van die mens se soeke na kontak met die buiteland. ’n Poging om die welstand van hierdie land deur die ongenaakbare ongereptheid van die Richtersveld te sleep en aan die buiteland te verkwansel. ’n Moderne baken van hoop, dalk ’n droë oase vir vele fortuinsoekers … vandag nog.
Alana: Deur die jare het julle vele erfenisbakens besoek. Wat is jou indrukke – hoe lyk die erfenis van Suid-Afrika?
Theunis: Daar is geen twyfel aan hoe ryk en veelsydig erfenis in Suid-Afrika is nie. Met elke projek en met elke rit staan ons net verstom oor hierdie rykdom. Dit is meer as wat een mens in sy leeftyd kan naspeur en verstaan. Tog is dit een van die mees volledige handboeke vir die toekoms wat jy ooit sal kan oopslaan.
Tog, is dit opvallend dat die deursnee Suid-Afrikaner en veral jongmense maar betreklik min weet van hierdie erfenisse. Dit is hierdie wete wat ons dryf om meer te probeer doen.
Alana: Hoe kan gemeenskappe ’n verskil maak om dit te bewaar?
Theunis: Ons mening is dat die beginpunt van erfenisbewaring die kennis daaroor is. Ons moet weet van die rykdom wat in ons gemeenskap opgesluit lê. Dit is dan die verantwoordelikheid van elke geslag om daardie kennis oor te dra.
Verder is dit belangrik om ’n belangstelling daarin te kweek. Op dieselfde vlak as wat daar belangstelling in sport gekweek word, moet daar ook tyd en hulpbronne na die kweek van belangstelling in kultuur by gemeenskappe gekanaliseer word.
Verder is die behoud van ons erfenisse van onskatbare waarde. En dit begin deur bloot na erfenisbakens te gaan en tyd te spandeer om dit te besigtig, om ’n papier op te tel of ’n grassie uit te trek. ’n Bordjie wat skeef hang, regop te tel en daarvan te vertel. Iets wat behoorlik opgeteken is, kan nooit werklik verlore gaan nie. Iets wat beoefen word, kan nooit werklik vergeet word nie.
Alana: Ten slotte, ’n effe filosofiese vraag: Waarom is erfenis vir jou en jou mederuiters belangrik?
Theunis: Die antwoord is eenvoudig. Ons erfenisbakens is kentekens van wie ons is. Dit is rigtingwysers van waar ons vandaan kom, maar daarom ook na waarheen ons op pad is. Dit is daardie noodwendige karaktereienskappe wat ons agterlaat vir ons kinders wat sonder ons direkte leiding in die toekoms vir hulle ’n bestaansreg moet uitkalwe. Ons aandeel in die bewaring van ons erfenis is ’n nalatenskap waarop ons kinders kan aanspraak maak.
Alana: Dankie Theunis, ons wens julle en julle perde nog vele voorspoedige ritte toe en sê dankie vir julle unieke en kosbare aandeel om bewustheid oor ons kultuurerfenis te skep!
Kontakbesonderhede
Lees ook: Erfenisjuwele 6 – Vegkop Slagveld Historiese Terrein