Hervey Bay Kerk in Afrikaans word een jaar oud

05/09/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Hervey Bay Kerk in Afrikaans word een jaar oud

Deur Willem Smit

Die volgende is ’n besinning dalk meer oor die Afrikaanse taal as oor aanbidding. Ons aanbid tog ook in taal en dalk is dit tog oor ons aanbidding.

Die begin

Die werklike begin is seker in 2021 toe ons as leraarspaar van die N.G. Kerk in Australië gaan werk soek. Die Covid-19-pandemie was maar ’n slegte tyd vir my en my vrou, maar tog glo ons dat God selfs in die sleg besig is om te werk. In Maart 2021 land die vliegtuig in Perth, waar ons by familie kuier voor ons lewe in Bunbury begin. In Bunbury dien ek as aflosleraar by St. Augustine Uniting Church, Perth Afrikaanse Kerk van Outreach WA, Lux Mundi Gemeente (Gereformeerde Evangeliese Kerk van Australië – GEKA) asook Bunbury se GEKA-gemeente. Dít terwyl ek as kapelaan in Bunbury se gevangenisdiens werk.

In Desember 2021 voel ons dat die Here ons na die ander kant van die land na die dorp Hervey Bay roep. In Oktober 2022 verlaat ons Bunbury en reis na Hervey Bay. Ek word in Hervey Bay Uniting Church as voltydse leraar bevestig, en my vrou werk as arbeidsterapeut by St. Stephen’s-hospitaal, deel van UnitingCare.

Seker so tien maande in die leraarstoel kry ek die behoefte om weer in Afrikaans te aanbid. Met kerkraadsgoedkeuring en deur middel van bemarking op Facebook (South Africans in the Wide Bay) en ’n paar plakkate wat ek by die plaaslike Suid-Afrikaanse winkel (Klipdrift Safari in Queensstraat, Hervey Bay) opgesit het, hou ons ons eerste maandelikse diens in September 2023. Ongeveer 30 ander kom aanbid saam.

So paar maande later …

Die wonder van taal en die Afrikaanse taal in die buiteland beteken dat jy mense ontmoet wat min of meer dieselfde pad as jy gestap het – wat weet wat dit beteken om te immigreer; wat die pyn van ’n lughawegroet ken; wat met die onsekerheid leef oor wanneer ons weer ons geliefdes gaan sien. Afrikaans en aanbidding bring al hierdie bymekaar. Min mense (dalk omdat ek in die bediening staan) wat ek in die proses ontmoet het, het nie ’n roepingsbewustheid oor hulle wegtrek nie. Dit gaan nie net oor die groener weivelde of beter leefstyl nie. Die meeste van ons trek weg van die bekende na die onbekende, wetend dat God saam met ons stap, dat Hy ons lei en die weg vir ons baan (dit is ten minste my ervaring).

In Desember 2023 stap ek en my vrou op die stand saam met Carin, een van die Suid-Afrikaners wat die eredienste bywoon. Sy vra my toe iets wat daarop neerkom of die Afrikaanse dienste na my verwagting is. In kort is die antwoord ja, want ek kan aanbid in my taal. Dit is wonderlik dat tussen 30 en 40 ander mense met elke maandelikse erediens saam met my kom aanbid. Die doel van Hervey Bay Kerk in Afrikaans is nie om ’n nuwe gemeente te begin nie, maar bloot om die ruimte daar te stel om in Afrikaans te kan aanbid.

Ontdek en herontdek deur taal en aanbidding

In Januarie 2024 kom Sonia en haar ouers, Johnny en Joey, na die Afrikaanse erediens toe. In Februarie 2024 bring Sonia haar man Janus saam.

Voor die diens drink ons gewoonlik tee en koffie saam en eet ietsie. Nie almal wat dienste bywoon, woon noodwendig in Hervey Bay nie. Daar is mense wat van Maryborough, Howard en self Childers af kom; daarom drink ons vóór die diens sodat die wat ver moet ry nie te laat by die huis aankom nie.

Tydens die kuier stap Janus na my toe om oor my voorsate na te vra. Hy merk op dat ek die “regte naam” het (Willem Smit), die regte lengte is, en so meer. Hy wil weet waar ek vandaan kom. Ek verduidelik toe, soos altyd, die familie stamboom van my oupa (ook Willem Smit) aan my pa se kant. Hy vra toe vir my: “Maar wie was jou ouma?” “Anna Elizabeth Schröder,” antwoord ek. Janus reageer: “Jou ouma en my ma is susters.”

Die volgende paar minute lank ruil ons familiestaaltjies uit en werk uit hoe het ons hier in Hervey Bay beland het. Dit is belangrik om hier te beklemtoon dat die laaste keer wat ons mekaar gesien het iewers in 2001 op hul plaas in Tzaneen moes gewees het. Ek was toe 12 jaar oud gewees. 23 jaar later ontmoet ons deur taal en aanbidding.

Ná die diens, by die huis, bel ek my pa en die meeste van sy susters en broer om te vertel dat ek hul neef hier raak geloop het.

Tannie Susan was te dankbaar haar neef gaan kerk toe.

Mens besef seker nie hoe klein die wêreld kan wees nie, maar dit is die twee goed wat die wêreld klein maak en in die vreemde eintlik baie groot: ons taal en ons aanbidding.

Nog een storie

Een Saterdagoggend drink ek en my vrou koffie by die plaaslike Urangan Pier Markets saam met Darren, Michell en hul dogtertjie Shay. Terwyl ons so kuier hoor ’n paartjie by die tafel langsaan dat ons in Afrikaans gesels. Só word hulle deel van die gesprek. Hulle is van Melbourne en het Hervey Bay toe gekom om te kom ontspan. Die man vertel my dat hulle die Kerk in Afrikaans-plakkaat by Klipdrift Safari gesien het en toe besluit het om hul Sondag-uitstappie na K’gari-eiland na ’n halfdaguitstappie te verander, sodat hulle die aand saam kan kom aanbid. Dit bly vir my een van die mooiste gebare. Dat jy jou eie vakansietyd sal prysgee om in Afrikaans te kom aanbid.

Die toekoms in

Ek weet nie wat en hoe die volgende jaar vir Hervey Bay Kerk in Afrikaans daar uitsien lyk nie. Ek wil glo dat ons nog mooi stories sal kan vertel waar taal en geloof ontmoet.

Wanneer ek oor die afgelope jaar terugkyk, besef ek dat Afrikaans onder meer beslis ’n geloofstaal is.

Ek sien uit na die volgende jaar wat voorlê en ook om in taal en in geloof te kan aanbid.

Om dankie te sê

Graag wil ek ook die vrywilligers bedank vir hul hulp tydens die eredienste. Dankie aan die diakens Andre en Nicole, Janico en Aziska, Thinus en Mariaan. Dankie aan dié wat voor die diens in die kombuis help: Thora, Thinus en Mariaan. En dankie aan ons musici: Karin en Christi-Mari. Elkeen se bydrae word opreg waardeer.

Deel op

Nuutste artikels