Deur Marelize Vermeulen
Die kaartjies was bespreek, die sneeupakkies gekoop en die opgewondenheid het oorgeloop in die Vermeulen-huisgesin.
Die Vermeulens sou in Switserland gaan ski het, ’n sprokieswit Kersfees in die sneeu gevier het en dan ’n week by die Letland-wonende lid van díe gesin gaan kuier het (dis nou ek).
So … toe gooi die groen gogga vir die soveelste keer ’n spanner in die wiel met ene “Omicron”, en die Suid-Afrikaners se eerste sneeu-uitstappie word toe letterlik op ys gesit.
Die logiesste uitweg was vir my om Suid-Afrika toe te vlieg. Ek het my wit Kersfees ingeruil vir Kersvader in plakkies, terwyl ek die feestyd vir die soveelste maal in my lewe in Stilbaai kon deurbring saam met familie en vriende.
Die hartseer was groot, veral aan my gesin se kant, maar ek moet bieg, ’n helder Somerkersfees is glad nie iets wat hoef ingeruil te word nie.
Met die terugkeer Suid-Afrika toe in Desember het ek ook die geleentheid gekry om saam met my sussie haar gradeplegtigheid te vier en ’n paar dae saam met familie in Stellenbosch deur te bring. Wynplase tussen koffie-breke en gradeplegtigheidfoto’s was die meerderheid van die paar dae se roetine. So het ons ook die geleentheid gehad om soos regte Suid-Afrikaners die geleentheid met kos te vier met ’n ete by La Colombe Restaurant in Constantianek in die Kaap. Dit was ’n ervaring en ’n half – die interessantste disse, versier met geselligheid uit die boonste rakke, het gesorg vir ’n onvergeetlike aand.
So het die vliegtuig ons kom haal en ons is terug noorde toe vir ’n paar dae, en my laaste paar aanlyn klasse vir die jaar voor die nuut ingeruilde Kersvakansie sy kop kon uitsteek.
Die dag het aangebreek en met ons Venter-waentjie, bergfietse en ’n reusespoed het ons die plot se grondpad vir die langpad verruil. Ek het my verkyk aan die groen omgewing, van die Waterberge tot Kranskop wat homself soms as ’n kleine Tafelberg voordoen. Pretoria steek kop uit en ek verlang na Madelief, my koshuis en my woonstel in die ou Charlesstraat. Voor ek my kon kry knip die skapies in die Karoo vir my oog. Ek dink nie ek het in my hele lewe al die Karoo so groen en sopnat gesien nie. Daar was waterplasse net waar jy kyk. Ná ’n aand se oorslaap op ’n plaas so skuins duskant niks en ’n windpomp was dit erger as ’n perd wat stal ruik. Die fynbos het geroep. Ons was so vinnig deur Outshoorn dat jy net vere sien waai het, en ná ’n vinnige inkopiesessie op George kon ons links afdraai by die Stilbaai-bootjie. (Daar is letterlik ’n boot langs die N2.)
Stilbaai was so prettig en gesellig soos altyd. Tyd saam met familie en vriende, bederfies by die koffiewinkels, en tipsytertjies by die Spar. Ons het ook ’n live konsert of twee deurgewerk tussen son, sand en stappies by die see.
Kersfees het toe ook gekom en my ma-hulle het hulle bokse met “matching ugly Christmas sweaters” en Rudolf-mussies met die grootste genot ontvang. (Dit sou wel effens beter gewerk het in die sneeu.)
Skuins voor die klappers se groot lawaai was ons weer tuis. Ek was gelukkig genoeg om my laaste klasse, toetse en finale eksamen uit Suid-Afrika aanlyn te kon skryf.
27 het my ook in die sonskyn kom groet met ’n Amarula-koek wat my moeder self vir my gebak het.
Met bosveld, wynplase, see en baie braai is my hart weer behoorlik volgelaai. Met my woord vir die jaar, “kindness” (dit vertaal na vriendelikheid?) in my koffer gelaai, sien ek uit om weer terug te keer na my Europese huis. Ek is weer reg vir sneeu, swot en my nuwe winterjas. Met reis en ontdek heel bo-aan die doen-lysie, sien ek uit na 2022 en alles wat hy gaan meebring.
So staan my koffer reg, my vliegtuig wag, tot dan stuur ek maar poskaarte gevul met liefde en gebede vir my mense, vir my land.
Mooi loop, goed gaan.
Tot ons weer ontmoet – die kaalvoet- Afrika-kind en die geboorteland.